PREEK OOR Hebreërs 11

(Eric Kayayan)

 

Heb. 11:1-21; 39-40; 12:1-2.

TEMA: DIE VERBOND MET ONS GOD IS ONS WARE VADERLAND

Inleiding

Die geboorte van ‘n kind, broers en susters, kan ‘n mens – veral die ouers- met baie vreugde vervul, en ook met baie ander positiewe gevoelens.  Tog kan so ‘n gebeurtenis ook ‘n gevoel van angs in ‘n mens laat ontstaan: want is die geboorte van ‘n kind nie die teken dat die onomkeerbare siklus van lewe en dood aan die gang is nie?  Is so ‘n geboorte nie juis die teken dat die ouers besig is om, stadig maar seker, in die volgende fase van so ‘n siklus in te beweeg nie, dit wil sê: nader aan hulle eie dood?  Hoe kan ons anders as om aan Prediker se woorde herinner te word: “Geslagte kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde”?  En hoe lyk hierdie wêreld?  Vir baie mense lyk dit soos ‘n tronk waarin al hoe meer gevangenes gehou word:  omtrent ses biljoene gevangenes deesdae…  Dit lyk eintlik asof hulle te veel is vir die beperkte ruimte en bronne wat beskikbaar is.  Die geboorte van ‘n kind bring maar slegs een nuwe gevangene in die tronk, sal hulle sê.  Wat kan dus hierdie tronk vir so ‘n klein kind aanbied?  Hy of sy het nie gevra om in die lewe gebring te word nie, en na mate dat die kind groot word, word hy of sy gekonfronteer met al die perke en die frustrasies van die tronk van die lewe:  oorbevolking, ongunstige sosiale en ekonomiese omstandighede, moeilike politiese erfenis van die vorige geslagte, geweld, werkloosheid, ensovoorts…  Watter ontsnapping uit die tronk is dan moontlik?  Vir baie jong mense word dit die gebruik van dwelms, van die Ecstasy pil. Rowwe partytjies, vinniger karre, soektog vir ongewone en soms gevaarlike avonture of reise:  enigiets is goed, solank die indruk dat jy uit die tronk kan ontsnap binne in jou gekoester is.  Sommige gaan wil ontsnap deur om hulle ouers te verlaat, deur te breek met die vorige geslag, want die vorige geslag herinner hulle te veel aan ‘n vaste verbintenis met die verlede, juis aan die onomkeerbare siklus van die geslagte wat op mekaar volg…

 

Die skrywer van die brief aan die Hebreërs praat ook met ons in hoofstuk 11 van geslagte wat op mekaar volg:  Abel, Henoch, Noag, Abraham en Sara, Isak, Jakob en nog veel meer.  Maar, soos u opgemerk het, word  almal wat in hierdie hoofstuk genoem is, deur een gesamentlike kenmerk beskryf:  “Deur die geloof”, soos die Ou Vertaling dit sê; “omdat hulle geglo het”.  So het onder andere Abraham uit sy land weggetrek.  Was dit omdat hy aan iets wou ontsnap het?  Het die wêreld van Haran, daar in die Noord van Mesopotamië, waar hy saam met sy vader en sy twee ander broers omtrent vier duisend jaar gelede gebly het, vir hom soos ‘n tronk geword weëns oorbevolking, politiese onderdrukking of armoede?  Hulle het reeds tevore uit Ur van die Galdeërs uitgetrek om in Haran te kom bly. Was Abraham steeds ontevrede met sy omgewing? Nee, broers en susters.  Abraham was nie iemand wat gekies het om ‘n soort van permanente swerwer te word om ‘n gevoel van vryheid te koester nie. Abraham het getrek omdat, soos vers 8 dit vir ons stel “hy het geglo, en gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang.”  God het hom geroep:  dit was die rede vir sy skuif, nie ‘n eiewillige soektog na vryheid nie.  Maar tog hoe merkwaardig om te lees in die volgende vers (9):  Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land.  In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was.”  Met ander woorde, in die beloofde land wat God vir hom as erfdeel belowe het, en waar hy wel aangekom het, moes hy tog sy hele lewe soos ‘n vreemdeling bly.  “Onder tente”:  kinders, dit wil sê dat Abraham iemand  was wat altyd van een plek tot ‘n ander moes skuif.  Hy het gereeld sy tent opgepak en hy het dit op ‘n ander plek gaan opslaan.  Het God dan vir Abraham mislei, of gekul, deur hom van hierdie erfdeel te vertel?  Het God met hom rondgespeel, soos ‘n koue grootkop wat skaak speel, en ‘n pion op die skaakbord van een blok na ‘n ander een laat skuif, en tog bly die skaakbord maar altyd dieselfde tronk?  Ook nee.  Want, broers en susters, die ware vaderland van Abraham, dit wil sê die ruimte waar hy werklik tuis kon voel, was nie soseer sy tente of die verskillende plekke in Kanaan waar hy vertoef het nie.  Sy ware vaderland was eerder ‘n besondere verbintenis wat hy met God gehad het, en wat deur vertroue gekenmerk was:  vertroue, deur die geloof, in die beloftes deur God aan hom gemaak, deur God wat hom geroep het.  In een woord:  die Verbond.  Die Verbond was Abraham se ware vaderland, en vir Isak en Jakob ook, en vir al die ander geslagte van gelowiges na hulle.  So moet dit ook vandag vir ons wees:  die Verbond met onse God is ons ware vaderland.  En as die Verbond nog nie ons ware vaderland geword het nie, as ons nog nie hierin bevestig is nie, as ons lojaliteit nie primêr aan die Verbond met ons God gaan nie, dan, gemeente, moet ons oor ons burgerskap diep gaan besin:  want dan is ons regtig ellendige swerwers in die lewe, mense wat tevergeefs op soek is na bevryding en vryheid, mense wat altyd gaan rondloop -en miskien rondslaap- om ‘n bevrydende anker te soek, maar dit nooit sal vind nie: selfsug, die ecstasy pil, drank,  seks, my loopbaan,  my besigheid of my universiteit, my persoonlike of politiese mag: al dié dinge sal vir ons as vaderland dien, en ons al hoe meer gevangenes maak van ons waansinnige begeertes.

 

1.      Watter soort vaderland is die Verbond?

 

Ons moet tog vir onsself afvra:  watter soort vaderland is die Verbond?  Hoe lyk hierdie ruimte, waarin Abraham tuis gevoel het, in vergelyking met dit wat ‘n mens gewoonlik as jou vaderland beskou?

 

1.2 Die Verbond eis van jou om weg te trek.

Die eerste kenmerk van die Verbond as vaderland, is dat dit van jou vra om weg te trek, omdat God, wat die Verbond instel, jou daartoe roep.  Luister hoe God in Genesis hoofstuk 12, vir Abraham geroep het en hom gevra het om te trek:  Die Here het vir Abram gesê:  “trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.  Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.  Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek.  In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”   Dus om aan God gehoor te gee en in die ruimte van Sy Verbond te gaan bly, beteken ‘n skuif of verplasing.  Jy word deur God afgesonder, en moet duidelik ‘n nuwe pad loop.  Moenie dink, gemeente van ons Here Jesus-Christus, dat in die Nuwe Testament, in die nuwe Verbond, dinge anders is nie.  Luister eerder na die woorde van Jesus in Lukas 14, vers 25 na 27:  ’n Groot menigte het saam met Jesus gereis.  Hy draai toe om en sê vir hulle:  “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe.  Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.”  So lyk die pad waartoe jy geroep is, broer en suster.  Dit gaan nie hier om jou ouers te verlaat omdat jy met die siklus van die geslagte wil breek, en jou verlede wil vergeet om self jou eie pad te bepaal nie.  Dit gaan daaroor dat jy geroep word om absolute gehoor te gee aan die God wat jou roep. Die pad in die Verbond met ons Here is so eksklusief, dat Hy van jou ‘n groot verskuiwing vereis vanuit wat jy altyd as jou natuurlike lewe beskou het.  Nêrens word daar in die Bybel gesê dat dit ‘n maklike pad is nie.  Hierdie pad is ‘n pad van algehele gehoorsaamheid waar die God van die Verbond jou hele koers van gedagtes hervorm en herskep deur sy Woord, deur sy gebooie, en deur Sy Heilige Gees.  Nou kan ons beter verstaan wat die verblyf onder tente van Abraham beteken;  hy het as ‘n nomade geleef, dit wil sê as iemand wat nooit op dieselfde plek bly nie, omdat sy hele lewe onderworpe was aan hierdie proses van konstante hervorming van sy hart en sy lewe .  Hy kon hom op geen ander vaste plek gaan vestig, behalwe -- in God se beloftes nie.  En in hierdie proses van hervorming, van groei nader aan God wat jou nooit op een plek toelaat om te sluimer nie, moes Abraham gereed wees om selfs afstand te doen van sy enigste kind, presies in die lyn van wat Jesus aan die menigte gesê het.  Kom ons lees saam vers 17 tot 19 van ons teks:  Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan.  Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is:  “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer.  Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.”

 

1.2  Die Verbond gaan gepaard met seëninge, waarvan die doop ‘n sigbare teken is.

Die tweede kenmerk van die Verbond as vaderland van die gelowiges, is dat dit  met seëninge gepaard gaan.  Seëninge vir Abraham self, maar seëninge ook vir sy nageslag, en vir almal wat hom sal seën.  Daar lê die uitdrukking self van God se Genade, wie se Verbond met ons ‘n Verbond van Genade is.  God seën almal wat Hy roep om in die nuwe vaderland te gaan bly.  En dan word vir ons hierdie vaderland letterlik: die land van die Vader, ‘n land wat deur die Vader so geseën is, dat wie sou dit ooit waag om daarna nog enige ander land vaderland te noem?  Die skrywer van die brief aan die Hebreërs stel dit baie duidelik in vers 13 tot 16 van hoofstuk 11.  Kom ons lees vers 15 en 16 weer:  As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan.  Maar hulle het na ‘n beter vaderland, dit is, die hemelse, verlang.”  Daar was by Abraham, of Isak, of Jakob, geen nostalgie vir ‘n aardse vaderland nie.  Die Verbond met God, saam met sy eise, beloftes en seëninge, het vir hulle bepaal waarna hulle moes strewe.  Al het hulle onder tente gewoon, en nog nie fisies ‘n vaste plek gehad om in te vertoef nie, het hulle na ‘n beter vaderland, dit is, die hemelse, verlang.  En in die seëninge wat God op hulle laat neerdaal het, het hulle die vaste teken van hierdie vaderland gesien.

 

Maar God, die Vader van die Vaderland, word nie net ‘n Vader vir jou nie; in die Verbond word hy ook  die Vader van jou eie kinders, en dit is een van die grootste seëninge wat gelowiges ontvang.  Daarom lees ons in vers 9 dat Isak en Jakob saam met Abraham ook erfgename van dieselfde belofte was, dit wil sê, hulle is saam met hom geseën.  U sien, in die Verbond, word die band tussen die geslagtes op die mooiste manier herstel.  Daar is nie meer sprake van ‘n vryheid wat verkry word ten koste van een geslag nie.  Inteendeel, net soos God sy kinders seën, kan nou op dieselfde grond die ouer geslag van gelowiges die jonger een seën, soos ons dit in vers 20 en 21 lees:  Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.  Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun.”  In die Vaderland van die Vader, verheug die ouer geslag om ‘n nuwe geslag van gelowiges te sien groei, jong kinders wat saam met die ouer kinders van God, ook erfgename is van dieselfde beloftes.  Die jong geslag van gelowiges probeer nie om die plek van die ouer een in te neem nie, deur om hulle te ignoreer, of van hulle te vergeet nie.  Inteendeel betoon die jong geslag eerbied vir die ouer geslag en volhard in dieselfde pad as die ware gelowiges van die verlede.  Dus word daar in Hebreërs oor die vorige geslagte van gelowiges as voorbeelde gepraat.  Kom ons lees weer vers 1 en 2 van hoofstuk 12 saam:  Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.”  En dit is op grond van Jesus se verduur van die kruis, en sy verheffing aan die regterkant van die troon van God, dat klein verbondskinders gedoop word as teken van God se Genade en seën, wat Sy Verbondsvolk van geslag tot geslag instandhou.  Maar let wel, broers en susters: ‘n kind word nie ‘n verbondskind omdat hy of sy gedoop is nie, asof die plaas van die water op die kindjie se kop automaties van hom of haar ‘n verbondskind maak nie. Trouens so ‘n opvatting is niks anders as die bygelowigheid waarteen die doopsformulier ons duidelik waarsku:  Die doop is ‘n instelling van God om aan ons en aan ons kinders sy verbond te verseël.  Daarom moet ons dit vir hierdie doel en nie uit gewoonte of bygelowigheid gebruik nie.”   Dié bygelowigheid kry ‘n duidelike gestalte wanneer ‘n ouderling of ‘n lidmaat aandring dat die kind binne die twee of drie weke na sy geboorte gedoop moet word, anders sou daar groot moeilikheid kon kom, as hy tot sterwe sou kom.  Nee, gemeente: ‘n kind word nie ‘n verbondskind omdat hy of sy gedoop is nie; ‘n kind word gedoop omdat hy of sy ‘n verbondskind is.  Dit wil sê:  God se Genade en seën lê op die kind op grond van die geloof wat in die ouers lewe, en waarvan Jesus die Begin en die Voleinder is, soos ons pas gelees het.  Hierdie kind is alreeds ‘n verbondskind lank voor sy geboorte:  van die oomblik van sy bevrugting af.  Kom ons verduidelik dit aan ons kinders.  Kinders, luister mooi:  daar was ‘n tyd waar jy baie, baie klein was.  Jy was eintlik so klein dat niemand jou kon sien nie, behalwe die Here:  want jy was diep gebêre in jou Mamma se maag, en ‘n mens sou nog ‘n groot vergrootglas of mikroskoop moes gebruik het om jou daarbinne te kan sien.  En selfs dan sou daardie mens met sy mikroskoop nie ‘n kop, of arms, of bene gesien het nie, so klein was jy.  Maar jy was wel daar, al het Pappa en Mamma nog nie geweet dat die Here besig is om jou vir hulle te gee nie.  En alreeds toe jy so klein was, het die Here jou geken, want dis Hy wat jou gemaak het, daar in Mamma se maag. En Hy was lief vir jou omdat Pappa en Mamma  glo dat die Here groot en goed is, en omdat Hy vir hulle die geloof gegee het.  Hy is lief vir jou en Hy het alreeds besluit om jou te laat deel word van sy huisgesin.  Sien, dis hoekom jy gedoop is, kort nadat jy gebore was.

 

Mag ons nooit vergeet, broers en susters, hoe klein ons steeds in die oë van die Here is, en hoe groot is Sy Genade teenoor ons, dat ons ten spyte van ons kleinigheid en ons sondes, tog kinders van Hom genoem kan word in die Verbond  wat deur Jesus-Christus gesluit is.  Mag ons ook nooit vergeet dat ons doop ook die teken is dat ons hierdie wêreld verlaat het om ‘n na ‘n ander een te trek.  Ons is dood vir hierdie ou wêreld, en nuutgebore aan ‘n nuwe wêreld, wat onverganklik is.  Dus om die teken van die doop aan ‘n kind te bedien beteken ook om ‘n teken van dood aan hom of haar te gee: want die kind is ook in sonde ontvang en gebore en moet onmidellik die ou wêreld verlaat, die ou vaderland van die dood; hy moet ook saam met Christus begrawe word, om te kan in die nuwe lewe opstaan.

 

2.      In Jesus-Christus kry ons Vaderland ‘n nuwe gestalte:  dié van die Koninkryk.

 

Maar die prentjie oor die Verbond as die ware vaderland van die gelowiges, sou nie volledig wees as ek hierby sou ophou nie.  Want in Jesus-Christus kry ons vaderland ‘n nuwe gestalte:  dié van die Koninkryk van God.  God se vaderskap in die Verbond is aan ons op ‘n unieke wyse oorgedra toe Sy eie Seun op aarde kom leef het, soos ons broer.  Die huisgesin van God het dan ‘n gestalte geneem wat Abraham en Sara, Isak en Jakob nie direk kon sien nie, soos vers 39 en 40 dit vir ons stel:  hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.”  Nou in die Seun van God het ons die Koning gesien wat oor ons vaderland regeer.  Voor Hom het gelowiges so te sê ‘n permanente verblyfspermit gehad, wat hulle die reg gegee het om in die nuwe vaderland te bly, maar sonder burgerskap. Hy, die Koning, gee vir ons nog meer as ‘n permit van permanente verblyf:  hy gee vir ons ‘n volle burgerskap in Sy Koninkryk, met ‘n wettige paspoort.  Dit is nie omdat in die Nuwe Testament die Verbond skielik verdwyn het, en plek gemaak vir die Koninkryk nie.  Eerder moet ons sê dat die Verbond met ons God, wat ons identiteit van kinders van God aan ons gee, nou die grondwet van die Koninkryk geword het.  Die Verbond het die grondwet van die Koninkryk geword.  In hierdie grondwet staan hierdie sentrale artikel:  Jesus-Christus is die Koning van die Koninkryk, Hy sit aan die regterkant van die troon van God, en ons, as gelowiges, is die wettige burgers van die Koninkryk, wat erfgename bly van God se beloftes.  Omdat ons, deur die Gees, weet hoe afhanklik ons is van God die Vader in Jesus Christus, is ons besonders geseën, want aan ons behoort die koninkryk van die hemel. So staan dit vas geskryf in die grondwet van die Koninkryk, dit wil sê in die Nuwe Verbond  wat verseël is deur die bloed van Christus. Ja, ons het ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, soos vers 28 van hoofstuk 12 dit duidelik stel, en daarom moet ons dankbaar wees. Saam met die Koninkryk wat ons ontvang het, het ons ook ‘n burgerskap ontvang, maar dit is nie asof alles afgehandel is nie, asof ons pad so glad is dat ons hier op aarde nooit weer sou rondtrek nie.  Want ons wag “vir die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is”, soos vers 10 dit stel.  Ons verlang ook, soos Abraham, na die hemelse vaderland, terwyl ons weet dat God vir ons ‘n stad gereed gemaak het.  Maar dit is nie meer asof  die kontoere van hierdie stad vir ons onduidelik is nie.  Inteendeel, ons sien die gestalte van die hemelse stad wat al hoe duideliker word in ons eie lewe, as gehoorsame kinders aan God se Verbond, wat besig is om te groei in alle opsigte; in die lewe van  medegelowiges van alle volke en talle, dit wil sê in die universële Kerk van Christus, en in die vrugte wat die Heilige Gees laat dra in diegene waarin Hy lewe, soos in ‘n tempel.  So word die hemelse stad van een geslag van verbondskinders na die volgende een, al hoe meer sigbaar, al hoe duideliker, want die argitek, ontwerper en bouer daarvan, die Drie-enige God, is aan die werk. Dus, broers en susters, ons rede om te volhard is des te meer groter, en soveel kragtiger.  “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en die Voleinder van die geloof.”  AMEN .