Preek oor Hebreërs 3:7-4:11

(Eric Kayayan)

 

Teks verse: Heb. 4: 9-10: “Daar wag dus nog steeds ‘n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van syne”.

 

Tema: Ons Sabbatsrus is in God se Genade te vinde.

 

Inleiding:

Die woord “Shalom”, broers en susters, beteken in Hebreeus “vrede”.  Maar hy dui nie ‘n tipe vrede aan wat bloot na ‘n toestand van skietstilstand verwys nie.  Inteendeel, die woord “Shalom” verwys na die hoogste vorm van vrede met God: ‘n vrede wat deur versoening met God gekenmerk is. Jesus het mos aan sy dissipels gesę, in Johannes 14:27:  Vrede laat ek vir julle na; my vrede gee ek vir julle.  Die vrede wat ek vir julle gee, is nie die soort wat die węreld gee nie”.  So ‘n vrede bring rus.  Rus om te weet dat te midde van enige woelings, die God van Genade altyd in beheer van ons lewe bly.  Rus om met die sekerheid en geloof te kan lewe dat God ons vergewe het. 

 

Dit is presies waar die betekenis van die Sabbat ook inkom: die Sabbat is bowenal die uitdrukking van die rus wat ons in God se Genade vind.  So ‘n rus word nie outomaties aan ons geskenk nie: dit is eintlik die vrug van ‘n verlossing, ‘n groot, alomvattende verlossing.  In die Ou Testament word die Sabbat aan ‘n groot verlossingsdaad verbind: die verlossing van Israel uit ‘n situasie van slawerny in Egipte.  Kyk maar na die vierde gebod in Deuteronomium 5, vers 15: “Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ‘n slaaf was, en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het.  Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou.”  Die outeur van die Hebreërsbrief verwys na hierdie bevryding uit Egipte in ons teksgedeelte ( 3:16 ), maar hy wys ook dat sonder geloof in God en sy verlossingsdade, is alles vir ons tevergeefs. Vir die Christen vind die finale verlossing in Christus plaas, op die eerste dag van die week.  Kyk na Jesus se woorde in Lukas 24, toe hy aan die dissipels op die eerste dag van sy opstanding verskyn:  Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle, en sę vir hulle:  Vrede vir julle”. “Shalom” goddelike vrede vir julle…

 

Die Sabbat, broers en susters, is dus die oorwinning van die verlossingsrus.  Daarom moet ons nie ‘n fout maak wat –bewustelik of nie- baie mense maak nie:  Die Sabbat en alles wat gepaardgaan –soos ons eredienste-  is nie ‘n bepaling wat uit die kerk voortvloei nie, asof die Kerk vir ons voorskryf: julle, volk van God, moet elke eerste dag van die week bymekaar kom om die Here se Naam  te aanbid.  Dit is eintlik die teenoorgestelde wat waar is:  die Kerk is die vrug van die Sabbat.  Die Kerk is die verloste gemeenskap van God se volk, wat bymekaar kom om Sy naam te verheerlik, omdat daar ‘n Sabbat is, ‘n rus wat God deur ‘n magtige verlossingsdaad vir ons bewerk het.  Ons sabbatsrus is uitsluitlik in God se genade te vinde.  As hierdie Bybelse begrip ernstig opgeneem word, sal miskien baie kerke (die Gereformeerde Kerke ingesluit) minder ly aan allerhande vorme van ekklesiosentrisme, dit wil sę aan ‘n vorm van afgodery van die Kerk wat so min rus aan ons gee: die kerk as ‘n organisasie, die kerk as ‘n administrasie, soms as ‘n burokrasie.

 

Die opdrag van rus

Hierdie teken van God se verlossingsdaad vir ons, beteken egter nie dat daar in die Sabbat geen opdrag vir ons is nie.  God beveel dat ons moet rus.  Kom ons kyk saam na dié soort rus.  Calvyn, in die Geneevse kategismus, skryf dat die Sabbat aan ons gegee word om geestelike rus aan te dui.  En hy voeg by: dit beteken dat God kom om sy werk in ons te verrig wanneer ons van ons eie werke rus.  Die vrae en antwoorde in die kategismus gaan so aan:  “Hoe kan ons ontvanklik word vir so ‘n werk? – Deur ons eie vlees te kruisig, dit wil sę, deur ons eie self te verloën, sodat ons deur God se Gees gelei kan word”  - Is een dag per week genoeg om hierdie verloëning te bewerk? – Nee, dit moet ‘n permanente gesindheid wees; jy begin een dag en jou hele lewe lank duur die poging.  – Maar die beeld wat aan ons gegee word is dié van ‘n enkele dag; hoe kom? – Dit is ‘n beeld, ‘n vergelyking, dit is nie nodig dat die beeld honderd persent saamstem met wat daardeur verteenwoordig is nie.  Hoekom het God die sewende dag eerder as ‘n ander een gekies? – In die Skrif, is hierdie syfer ‘n simbool van perfeksie.  Ons geestelike rus, wat ons in hierdie lewe begin, sal sy perfeksie bereik op die dag wanneer ons hierdie węreld sal verlaat.”  Wat die Heidelbergse Kategismus betref, wat baie korter oor die 4de gebod praat, vind ons ‘n gelyke invalshoek: Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus en die Here deur sy Gees in my laat werk.  So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe.” Met ander woorde, broers en susters, daar moet hard gewerk word om te rus.  Dis nie ‘n teenstrydigheid nie.  Dit wys egter vir ons dat die betrokke rus niks in gemeen het met vakansies soos die samelewing en ons huidige kultuur dit aan ons voorstel nie. Die ware sabbatsrus is nie ‘n tyd van breek wanneer jy van jou werk en ander probleme probeer vergeet of selfs ontsnap nie.  Dit is nie ‘n tyd van ledigheid nie, dit wat die Italianers “far niente” noem: niks doen nie. Dit is ook nie in die eerste plek ‘n tyd vir alternatiewe of rekreatiewe aktiwiteite nie.  Want jy neem nooit vakansie van God nie!  Die opdrag is dus: laat God sy werk deur Sy Heilige Gees in jou verrig.  Hy kan en sal dit doen omdat hy die groot verlossingsdaad alreeds gedoen het!  Die beste manier om die rus van die Sabbat in die Ou Testament te verstaan is om te gaan kyk na die bepalings rondom die Sabbatsjaar en die hersteljaar, in Levitikus 25:  slawe is bevry, die land word nie geploeg nie; hy rus en herstel van die vloek wat God tydens die sondeval op hom uitgespreek het:  daar is rus en verlossing nie net vir mense nie, maar vir die diere en die aarde.

 

“Die ewige Sabbat”

Kom ons praat nou van die ewige Sabbat.  Daar is geen twyfel dat ons teksgedeelte uit Hebreërs 4 van ‘n ewige Sabbat praat, van ‘n rus wat bedoel is om vir ewig te duur.  Kan ‘n mens ‘n beter vooruitsig uit God se mond ontvang, broers en susters?  Ons, wat so dikwels uitgeput is, fisies, geestelik, emosioneel, word verseker dat God ‘n heerlike rus vir ons het.  Wie anders as God kan dit belowe en implementeer?  As ‘n mens kyk na die verlossingsdade wat van die węreld afkom, sien jy dat dit slegs fiksie is, blote verbeelding, “wishful thinking”.  Die groot skerm, met baie goeie akteurs en net soveel spesiale effekte, laat miljoene mense rondom die węreld droom van ‘n verlossing wat rus bring.  Dink maar aan Superman:  ‘n buitengewone man, wat eerstens soos enigiemand anders lyk, maar wat die mag het om bonatuurlike dinge te doen:  hy vlieg in die lug met ‘n buitengewone spoed en verrig allerhande dade om arme en onderdrukte mense te bevry van ander bose mense.  Hy bring verlossing – daar op die groot skerm, terwyl ons agtersit en pop-corn eet om van ons probleme te vergeet.  Maar buite die skerm, in die werklikheid, was die akteur wat Superman gespeel het, iemand wat in ‘n rolstoel vir die res van sy dae moes sit, as gevolg van ‘n gewone perdongeluk…  Daar lę die kontras tussen valse verlossingsrus en God se ewige Sabbatsrus. Onthou mos van Jesus se woorde:  Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die węreld gee nie”. Ons kan in die beloofde Sabbatsrus onsself berus, omdat ons weet dat so ‘n rus nie korrup en verganklik is nie, soos dié wat die węreld aan ons voorstel, maar eerder die rus van ‘n ewige Sabbat.

 

God se rus en ons rus

Ons ewige Sabbatsrus bind ons aan God op ‘n besondere manier.  Hoofsaaklik omdat ons aan sy beeld geskape is.  God het die węreld in ses dae geskape, en op die sewende dag het hy gerus.  Ons ook word beveel om op die sewende dag te rus.  Daar is ‘n oorenkoms tussen God se rus en ons rus.  Terwyl die 4de gebod in die boek Deuteronomium die aksent op die verlossingsdaad van God plaas, stel die parallele gedeelte in Exodus 20 die aksent op God se werk in die skepping:  Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin.  Op die sewende dag het hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig”. Hierdie vind ons alreeds in Genesis 2, aan die einde van die skeppingsverhaal: “Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop.  Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het hy gerus na al die werk wat hy gedoen het.  Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat hy gedoen het”.  Hieroor vra die Geneevse kategismus:  “Maar wat word bedoel wanneer die Here ons aanspoor  om sy voorbeeld te volg en ons uitnooi om te rus? -  Nadat hy die skepping van die węreld in ses dae voltooi het, het God die sewende dag gewy om sy werk te aanskou.  Om ons aan te spoor om dieselfde te doen, stel Hy aan ons sy voorbeeld op: is dit mos nie ons diepste begeerte om soos hy te lyk?”  Sien, by God, volg rus die voltooing van sy werk; op die aand van die sesde dag, toe alles voltooi is, het God die perfeksie van sy Skepping geniet:  Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed”.  Ons ook aanskou sy werke, nie net sy werke in die Skepping nie, maar nou ook sy werke van verlossing, wat hy in Christus voltooi het om ‘n nuwe skepping tot stand te bring.

 

Christus se sentrale plek in die Sabbat.

In die Ou Testament kon die Sabbat nooit van offers geskei word nie.  Die offers was tekens van soendood, van versoening met God.  Die brief aan die Hebreërs lę die klem op die finale soendood van die finale priester, Jesus-Christus, wat alles perfek voltooi het. Wat was mos Jesus se laaste woorde op die kruis, volgens Johannes?  “Dit is volbring, die werk waarvoor my Vader my gestuur het, is heeltemaal voltooi”. Met Christus se voltooing van God se werk is ‘n heel nuwe dimensie aan die Sabbat aangebring.  Nou aanskou ons God se werk nie net in sy skepping nie, maar ook in sy herskepping deur Christus.  Christus het die sentrale plek in die Sabbat ingeneem, want hy het die groot verlossingsdaad verrig wat aan ons “shalom” –vrede-  en rus gee.  Hy alleen mag sę: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak, en nie die mens vir die sabbatdag nie.  Daarom is die Seun van die mens Here ook van die Sabbat”.  Jesus gee inderdaad ‘n heel nuwe dimensie aan ons belewenis en viering van die Sabbat, want hy bring ‘n element van voltooing wat in die Ou Testament nog nie teenwoordig was nie. Daarom sę die outeur van die Hebreërsbrief duidelik dat Josua, wat die volk in die beloofde land ingebring het, nie die finale rus vir hulle gegee het nie, sonder om te praat van al die Israelite wat in die woestyn dood is, as gevolg van hulle gebrek aan geloof.  Christus, hy alleen, voltooi die werk.  En alleen dié wat in Hom ingeënt is, kan in die ewige sabbatsrus ingaan.  Kyk na vers 14 van hoofstuk 3:  Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.”

 

Volhard in God se rus

Ons het gesien dat rus in God se Genade wel inspanning verg:  dit is ‘n opdrag aan ons gegee.  Op die ou einde, is dit die hoofboodskap van ons teksgedeelte: naamlik dat ons nie afvallig moet word nie, sodat ons in God se rus kan ingaan.  Maar die behoud van die Sabbat is nie ‘n goeie werk nie, soos die Jode daarvan gemaak het nie.  As ons ons inspanning as ‘n goeie werk sou beskou, sou ons die verlossingsdaad ontken, wat deur Christus voltooi is, en sou ons dan ons rus nie meer uitsluitlik in God se Genade vind nie. So ‘n goeie werk het niks in gemeen met die sabbatsrus van God nie. Ons sou onsself aan ‘n węreldse vorm van rus en vrede oorgee, wat ons heeltemaal sou onderdruk. Hetsy ‘n Farisaiese vorm van wettisisme oor die Sabbat, wat selfs Jesus nie wou toelaat om rus te gee aan blindes, verlamdes en dowes op ‘n Sabbatdag nie, of ‘n węreldse vorm van ontspanning wat hoegenaamd nie die volharding in die geloof handhaaf nie. Nie een van die twee is die inspanning waarvan ons teks praat nie.  Hy praat van inspanning in die volharding.  Dit is iets heeltemaal anders, natuurlik!  Luister weer na vers 1 tot 3 van hoofstuk 4:  terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie.  Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie.  Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie, soos God gesę het: “Toe het Ek in my toorn ‘n eed afgelę: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie”.  En ons teksverse, vers 9 tot 11, bevestig dat die doel van die skrywer is om sy lesers aan te spoor om die ware betekenis van die Sabbat van God in Christus te verstaan:  daar is in Christus ‘n ewige Sabbatsrus, wat aan ons belowe is: “Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie”.  Met ander woorde: as jy nie volhard om in daardie rus, soos wat dit aan jou belowe is, in te gaan nie, sal jy nie daaraan deel hę nie…  Dit is ‘n aansporing, maar ook ‘n vermaning.

 

Ten slotte

Die Sabbat, broers en susters, is die deur na en beeld van ons ewige woning, wat gemaak is uit rus en vrede.  Daarom moet ons vaskleef aan die opdrag wat gepaardgaan: om te volhard in die geloof van God se beloftes, om nie afvallig te word nie, om van ons bose werke te berou en afstand van hulle te doen.  Miskien is daar geen ander teks uit die Skrif wat die sug na rus beter uitspreek as die bekende gedeelte uit Romeine 8, van vers 18 tot vers 25 nie.  Kom ons lees dit saam ten slotte, ook met die doel om die betekenis van die Sabbatsrus nog dieper te peil, te midde van al die onrus rondom ons, in soms ook in ons:

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.  Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is.  Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.  Daarby het hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hę.  Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.  En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook.  Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: hy sal ons van die verganklikheid bevry.  Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop.  Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie.  Wie hoop nog op wat hy reeds sien?  Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.”  AMEN .