Preek oor Sagaria 3
Teks
verse: 3 & 4
Ds E. Kayayan
1. God reinig sy uitverkorenes
As julle ooit gewonder het of die Evangelie alreeds in
die Ou Testament teenwoordig is, broers en susters, kry julle in ons
teksgedeelte ‘n duidelike “ja” antwoord.
Die Heerlike Evangelie van God se Genade kom tot sy mooiste uitdrukking
in Sagaria se vierde visioen navore toe.
Vergiffenis vir God se volk, in die persoon van Jesua, die hoëpriester,
bloot op grond van God se almagtige en soewereine besluit, wat ookal die sondes
wat gepleeg is. Hier kry ons ‘n
aangrypende kyk oor wat die Nuwe Testament nog duideliker aan ons voorlê: God
reinig sy uitverkorene, en niks of niemand
kan
hierdie proses van reiniging keer nie. Dit
is al hoe meer opvallend as die Wet van God juis die teenoorgestelde proses
aandui: onder die bedeling van die
Wet, as jy in aanraking sou gekom het met iets of iemand wat deur God onrein
verklaar is, sou jy ook onrein geword het, en moes jy deur ‘n voorgeskrewe
proses van reiniging gegaan het. Lees
maar hoofstuk 15 van die boek Levitikus. Onder
die Wet was dus die trant dat onreinheid vinnig versprei het, soos maar die
sonde na die Sondeval, wat alles geraak en besmet het. Die aksent is
geplaas op die feit dat ons onreine skepsels voor die Heilige God is, altyd op
soek na reiniging. In ons
teksgedeelte sien ons egter dat God Self hierdie trant omkeer: natuurlik nie
omdat God se volk in sigself rein geword het nie, maar bloot omdat God hom rein
verklaar het. In die Nuwe Testament
sien ons hierdie omgekeerde trant nog
duideliker: die aksent lê nie meer op dit wat onrein is en die res vinnig
kontamineer nie. Eerder, in Jesus-Christus se soendood word dit wat onrein is,
deur dit wat rein is, gereinig. Dink
maar aan Handelinge 10, waar Petrus
ook ‘n visioen kry waar hy beveel word om allerhande diere te eet wat
deur die Wet as onrein bestempel is: “Kom Petrus, slag en eet.”
Maar Petrus sê: “Nooit nie Here! Ek
het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.” Hy hoor die stem toe
weer, die tweede keer, vir hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie
onrein ag nie”. Of dink maar aan
wat Paulus in 1 Korintiërs 7 sê oor getroude paartjies waarvan een party ‘n
ongelowige is: “Die ongelowige man is geheilig deur die [gelowige] vrou, en
die ongelowige vrou is geheilig deur die [gelowige] man; want anders sou julle
kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig”.
Die Evangelie lê juis in so ‘n omkeer: ‘n reiniging
wat vanaf ‘n menslike perspektief heeltemaal onmoontlik lyk, word nou
werklikheid. Iets wat ondenkbaar
was, buite die gryp van die menslike verstand, het waar en tasbaar geword, al
bly dit steeds onverklaarbaar in terme van ons menslike rede. Tog kry ons in ons
teksgedeelte ‘n besondere insig in hierdie proses.
Dit kom na ons toe onder die vorm van ‘n openbaring aan die profeet,
‘n gesig wat hy sien. So ‘n
openbaring is beslis nie iets wat ons met ons menslike vermoëns sou kon
raakgesien het, of afgelei het nie. Soos
in die heel begin van die boek Job, word ons toeskouers gemaak van ‘n toneel
wat in die hemelse sfere plaasvind, in die teenwoordigheid van God en al die
engele rondom Hom. Een van hulle,
wat ‘n hoofrol speel, is Satan. Hoe
kan
‘n mens die boodskap van hierdie openbaring opsom?
Miskien in een sin: ons het hier te doen met ‘n hofsaak wat anders
draai as wat ‘n mens ooit sou gedink het.
2. ‘n Hofsaak wat anders draai as wat ‘n mens ooit
sou gedink het.
Soos dikwels in die Bybel, het ons in Sagaria se vierde
visioen, met ‘n hofsaak te doen. Satan,
in Hebreus letterlik “die Aanklaer”, staan aan die regte kant van die
beskuldigde, soos dit gewoonlik die gebruik was in ‘n Israelitiese
hof
. Die hoëpriester Jesua verteenwoordig hoofsaaklik die korrupte priesterdom van
Israel
, maar ook die hele volk en sy geskiedenis van sondes oor die eeue.
Dink u ‘n oomblik dat Satan, wat voor God staan, hoef om vals teenoor
die beskuldigde te getuig om sy saak te bewys?
God weet mos baie goed wat die realiteit van die sonde van sy volk is, en
in besonder die afvalligheid van
Israel
se priesters.
Om
sy saak te bewys,
kan
Satan bloot aanhaal die woorde wat God aan sy profete toevertrou het. Luister
byvoorbeeld na God se woorde in Esegiël 22, luister na hierdie verskriklike
akte van beskuldiging in die lig van God se heilige Wet: “Die woord van die Here het tot my gekom: Mens, wil jy hom oordeel, wil
jy oor die stad van bloedvergieting oordeel?
Vertel dan vir hom van sy afskuwelike dade.
Jy moet sê: So sê die Here my God: Stad wat bloed vergiet het in
homself [6de gebod]
en so die oordeel oor hom gebring het, wat vir hom afgode gemaak het en so
homself verontreinig het [2de
gebod], jy staan skuldig aan die bloed wat jy vergiet het, jy is onrein deur
jou afgode wat jy gemaak het. Jy het
self jou oordeelsdag nader gebring en by jou einde uitgekom.
Ek
maak jou ‘n spot onder die nasies; al die lande sal vir jou lag.
Dié wat naby jou is en dié wat ver van jou af is, sal vir jou
lag. Jy gaan so erg te kere dat jou
naam vuil geword het. Elke regeerder
van
Israel
het sy mag misbruik om bloed te vergiet
in jou. Vader en moeder is in jou
verag [5de gebod], die vreemdeling is verdruk in jou, die weeskind en die weduwee is
mishandel in jou. Wat aan my gewy
is, het jy geminag, my sabbatte het jy ontheilig [4de gebod].
Daar is mense in jou wat ander belaster om hulle dood te veroorsaak [9de
& 6de gebod], wat aan die
offermaaltye op die berge deelneem, en wat afstootlike dinge in jou doen.
Daar is mense in jou wat by hulle pa’s se vrouens slaap en wat vrouens
onteer selfs terwyl hulle menstrueer en onrein is.
Die een begaan afskuwelike dinge met die ander se vrou [7de
gebod], die een pleeg afstootlike
dade met sy skoondogter en verontreinig haar, die een onteer sy halwe suster, sy
pa se dogter. Hulle laat in jou
omkoop om moord te pleeg, hulle vat rente en woekerwins, hulle pleeg bedrog en
doen ander te kort [8ste gebod]:
hulle maak of Ek nie daar is nie [3de
gebod],” sê die Here my God. Ek
slaan my hande saam oor die oneerlike wins wat jy maak en oor die bloed wat daar
in jou vergiet is. Sal jy nog
selfversekerd wees wanneer jy jou sterk probeer maak vir die tyd wanneer ek met
jou handel? Ek, die Here, het
gepraat, en Ek sal dit doen. Ek sal
jou versprei onder die nasies en jou uitmekaarjaag na ander lande toe, Ek gaan
‘n end maak aan die onreinheid in jou. Jy
het jouself onrein gemaak in die oë van die ander nasies.
Jy sal besef dat Ek die Here is.”
So sou die akte van beskuldiging wat Satan aan God voorlê,
kon gelui het, broers en susters. Intussen
staan Jesua -die beskuldigde- voor God, onmagtig en wanhopig.
Sy klere dra al die vuilheid van
Israel
se geskiedenis van ongehoorsaamheid, van onreinheid en boosheid.
Die Hebreeuse woord wat deur “vuil” vertaal is, beteken eintlik niks
minder as bedek en ontreinig met
ontlastings. Satan het dus nie
gelieg nie, sy feite oor die saak is reg! Hy
ken die Wet van die Here uit die kop uit, en tel noukeurig elke oortreding wat
jy en ek daarteenoor pleeg. Hy
kan
uitstekend sommetjies maak van al jou en my sondes; op sy lank register kort
daar geeneen van hulle nie… Maar
daarmee wil hy nie net van jou en my verloorders maak nie; hy wil ook ‘n
verloorder maak van God self. Hy wil
hê dat God se regverdige oordeel teenoor Hom en Sy Engel moet draai:
het God se plan met Sy Skepping nie duidelik misluk nie? Hoekom gaan Hy
aan daarmee? Vernietiging
is die enigste oplossing, bedoel Satan. Het God nie self gesê: “Ek gaan ‘n end maak aan die onreinheid in jou” nie? Laat dan God
eers Sy volk, dan die res van Sy Skepping vernietig, aangesien alles skeef
geloop het; want wat is mos die doel om die Skepping na die Sondeval aan die
gang te hou, as daar nie meer ‘n volk is wat ‘n heilige rol in daardie
Skepping kan vervul nie? Ag, broers en susters, dis nie soseer Jesua wat in die
kollig van Satan se beskuldiging staan nie; Jesua en
Israel
is van min waarde en belang vir Satan. Hulle
tel slegs insover Satan hulle as instrumente teen God
kan
gebruik. Sy teiken is niks minder
as die Ewige en almagtige God self!
Wat hy wil hê, is om God te laat erken dat Hy nie in beheer van Sy
Skepping was nie en Sy plan nie sal
kan
uitvoer nie. God moet dus abdikeer
van Sy almagtige troon, sodat Satan in sy plek God
kan
word… Maar so ‘n abdikasie durf
Satan nie op God afdwing nie. Daarom
gebruik hy Jesua, wat die hele volk van die Here simboliseer, en wys in detail
vir God hoe vuil die hoëpriester se klere is.
Deur God te laat kyk na Jesua en sy besmette klere, wil Satan eintlik
‘n beeld van God aan Hom terugstuur, asof God na Homself in ‘n spieël kyk.
Om
sy doel te bereik
kan
die listige slang gemaklik skuil agter ware en betroubare getuienisse wat God
se profete voortdurend teenoor sy volk versamel het.
Maar skielik vind ‘n wonderwerk plaas.
Skielik word die aanklaer self aangekla en gedreig.
“Die Here het vir Satan gesê; Ek sal jou straf, Satan, Ek wat
Jerusalem
my woonplek gemaak het, sal jou straf. Hierdie
man is soos ‘n stuk hout wat uit die vuur gered is.”
Wat het dan gebeur? Satan,
hoe wetsgeleerd ookal hy mag wees, vergeet graag van die volgende woorde in God
se Wet: “Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die
derde en vierde geslag van dié wat my haat, maar Ek betoon my liefde tot aan
die duisendste geslag van dié wat my liefhet en my gebooie gehoorsaam.”
Die Here het sy regverdige oordeel laat geskied, en die straf toegepas:
Hy het met sy vuur
Jerusalem
en sy tempel vernietig, in 586 voor Christus. Sy oordeel is deur die
Babiloniese leërmagte uitgevoer. Na hierdie verwoesting is drie of vier
geslagte van die Jode in ballingskap geneem.
Nou het die tyd van herstel gekom, op grond van een enkele rede:
“Ek het
Jerusalem
my woonplek gemaak”. Hierdie
keuse van Jerusalem as die stad is ‘n soewereine besluit, en die Here sal vir
Satan wys dat Hy in beheer van die geskiedenis en die omstandighede bly.
In hoofstuk een en twee van die boek Sagaria is die herstel van die stad
Jerusalem
alreeds gemeld. Dit gaan natuurlik
gepaard met die herbou van die Tempel, waar ‘n getroue priesterskap van nou af
God moet dien en gemeenskap met Hom moet bevorder.
Om
sy plan uit te voer, maak God inderdaad ‘n einde aan
Israel
se onreinheid. Maar
Hy doen dit nie soos Satan wil hê nie. Hy
gaan nou vir hom wys dat Hy die mag het om op ‘n ander, goddelike manier ‘n
einde aan Israel se onreinheid te maak: nadat hy gestraf het, red hy ‘n stuk
uit die vuur uit. Soos ‘n
almagtige en genadiglike Koning alleen
kan
doen, verklaar Hy Jesua rein, en dit word werklikheid…
Hy vergewe, soos dit in Sy aard is, en Hy reinig Sy volk, bloot uit
Genade. Ja, Hy is regverdig, maar Hy is ook genadig, sonder dat die twee met
mekaar hoef te bots, of mekaar kanselleer nie. En so word Satan, wat nie weet
wat vergiffenis beteken nie, die eintlike verloorder in hierdie hofsaak.
Dít is die heerlike Evangelie van ons Here tot vertroosting van ons
almal, broers en susters…
3. Die gevolg van die reiniging: die herstel van ‘n
ewige priesterskap voor God
En nou, terwyl Satan die Aanklaer in die agtergrond van
die
hof
verdwyn, tree die Engel van die Here na vore toe.
Wie is Hy? In die Ou
Testament word hy soms van die Here onderskei, en soms heeltemaal met Hom geïdentifiseer.
Dis Hy wat nou skoon klere aan Jesua laat aantrek.
Dis Hy wat aan die hoëprister verkondig dat sy oortredings vergewe is.
Wie
kan
sondes vergewe, behalwe God alleen, het een keer wetsgeleerdes in hulleself
gedink, nadat Jesus vir ‘n verlamde man gesê het: “Vriend, jou sondes word
vergewe”. Natuurlik is dit woorde
wat alleen die Here of sy Engel mag en
kan
uitspreek.
In dieselfde
genadiglike trant
kan
Hy ook namens die Here sê: “Ek gaan die sonde van die land op een enkele dag
wegneem (v. 9). Hy
kan
self ‘n gemeenskap met God belowe wat ongehoord is: “Jy sal toegang tot My
hê, net soos hierdie engele”. Die herstel van ‘n priesterskap voor die Here
is nou verseker, toegang tot God is weer moontlik gemaak. Die simbool van so
‘n herstel is die skoon tulban wat op aandrang van die entoesiastiese profeet
Sagaria, op Jesua se kop gesit is. Volgens
Exodus 28 moes dit die mees spesiale teken van die hoëpriester se kleredrag
gewees het. Daar moes ‘n
blom van suiwer goud aan die tulband vasgemaak word, met die volgende woorde
daarop : « Aan die Here gewy ».
Wat opvallend is, broers en susters, is dat die reiniging van die hoëpriester
Jesua nie deur middel van ‘n seremoniële ritueel, soos deur die Wet
voorgeskrewe, plaasvind nie. Volgens
Levitikus 16 het die hoëpriester sy sondes en dié van die hele volk gedra toe
hy in die Allerheiligste ingekom het. Daar
het hy vir homself en vir die hele volk as bemiddelaar tussen God en die volk
opgetree, deur die voorgeskrewe reinigende handelinge te verrig.
Hy het dus die sondes van
Israel
op hom voor God gedra, en terselfdertyd God se reiniging
van die volk namens Hom aan
hulle oorgedra. Hierdie dubbele
funksie het van hom ‘n bemiddelaar tussen God en
Israel
gemaak. Maar hier gebeur iets
anders: iemand anders en groter as die hoëpriester doen die reiniging, deur aan
hom skoon klere te laat aantrek: dis die Engel van die Here. Jesua verrig geen
seremoniële handeling nie, hy ontvang passief die skoon klere en die tulban. Hy
word direk rein verklaar in die teenwoordigheid van die Heilige God.
Die hele ritueel van sy amp van hoëpriester laat die plek aan die
direkte suiweringsproses wat die Engel van die Here verrig.
Dus bo Jesua se priesterskap bestaan daar ‘n heel ander tipe
priesterskap in die hemel wat sy tydelike priesterskap vervang maar ook herstel!
Hier kry ons nog ‘n verdere insig in God se wonderlike plan: want die
herstel van die priesterskap, na die reiniging wat plaasgevind het,
gryp verder as die geslag van Jesua, van hierdie Jode wat sewentig jaar
na Jerusalem se verwoesting na Judea teruggekom het.
Die verlede is nou afgereken, die hede getuig van versoening met God en
van vreugde. Maar ons teks gryp nog
verder, na ‘n besondere toekoms. Jesua
en sy vriende word uitdruklik deur die Engel van die Here beskryf as ‘n teken
van iemand anders wat eendag gaan kom, ‘n dienaar wat hy “die Loot” noem
(v. 8). Hoekom ‘n Loot?
Want God gaan uit die stuk hout wat in die vuur byna verbrand is, maar
daaruit gered is, iets laat voortspring wat onverganklik sal wees.
Hierdie naam “Loot” is alreeds deur die profete Jesaja en Jeremia
gebruik. Hy word hier aan ‘n ander naam gekoppel: “My dienaar” wat ook
deur Jesaja en Esegiël gebruik is om ‘n koninklike afstammeling aan te dui.
Jesua en sy vriende word dus ‘n voorafgaande voorstelling van ‘n
messiaanse figuur wat beide priester en koning gaan wees.
Melding van hierdie “Loot” word weer gemaak in hoofstuk 6 van die
boek Sagaria: “Daar is ‘n man met die naam Loot.
Hy maak vinnig opgang en hy sal die tempel van die Here bou (…) dit is
hy wat die mag sal besit, wat op die troon sal sit en sal heers.
Ook sal hy ‘n priester wees op sy troon, en die raad van vrede sal
tussen hulle twee bestaan”. Beide
koning en priester, soos Melgisedek koning van Salem en priester van God die
Allerhoogste, in die boek Genesis. Ons verstaan nog beter hoekom Satan Jesua
aanhoudend aangekla het.
Deur Jesua, wat as teken dien van die Loot, wou Satan die koms van die
priesterskap en koningskap van die Loot voorkom.
Maar sy pogings bly tevergeefs.
Die Loot gaan eendag kom, soos die Engel van die Here dit aankondig.
God se plan sal beslis uitgevoer word.
Die outeur van die brief aan die Hebreërs, in die Nuwe Testament, getuig
hiervan, in hoofstuk sewe : “Omdat
Jesus vir ewig bly, beklee Hy ‘n priesterskap wat nie op ‘n ander oorgedra
word nie. Daarom
kan
hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd om vir hulle by God in
te tree”. Dít is die heerlike
Evangelie van ons Here tot vertroosting van ons almal, broers en susters…
‘n Ewige priester tree vir ons in en bou ‘n Tempel wat nie vernietig
kan
word nie.
4.
‘n Gryp oor die ewige vrede
Sagaria se
visioen eindig op ‘n verdere gryp
na die toekoms : « Ek gaan die sonde van hierdie land op een enkele
dag wegneem. Daardie dag, sê
die Here die Almagtige, sal die mense weer rustig oor en weer na mekaar roep
onder die wingerdstokke en die vyebome ».
Hierdie tipiese uitdrukking dui aan vrede, sekuriteit en voorspoed vir
die volk van God. Amos se profesie
eindig met ‘n soortgelyke beeld: “Ek sal die lot van my volk
Israel
verander: hulle sal die verlate stede herbou en bewoon, hulle sal wingerde
plant en die wyn daarvan drink, hulle sal tuine aanlê en die vrugte daarvan
eet” (
9:14
). God se belofte van ‘n toekoms
van vrede, sekuriteit en voorspoed geld nie net vir Jesua en die volk van Israel
na die ballingskap nie, broers en susters. Dit
geld beslis ook vir ons, en dit is volledig deel van die heerlike Evangelie van
Genade. Maar net soos vir Jesua
hulle, geld die verbondsooreenkoms van vers 7 ook vir ons: “As jy lewe soos ek
dit wil, as jy die voorskrifte vir my diens onderhou, sal jy die gesag hê oor
my huis, die verantwoordelikheid dra vir my heiligdom”.
In Jesus-Christus het die Loot gekom, broers en susters, in Hom het die
nuwe priesterskap aangebreek wat die Engel van die Here aangekondig
het en aan Jesua toegedien het. Die
gevolg daarvan vir ons word in 1 Petrus 2 vir ons uitgespel: “Julle is ‘n
uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder
is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig
van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.”
Ons is ‘n koninklike priesterdom vir God insover ons ‘n verbondsvolk
bly, gemeente van ons Here Jesus Christus. Mag
ons dit nooit vergeet nie, ons wat ook soos ‘n stuk hout uit die vuur gered
is. Want om ‘n koninklike
priesterdom van ons te maak, moes God sy Seun op aarde stuur soos ‘n Lam wat
op die altaar van die Kruis geslag is, en sodoende ‘n heel nuwe priesterskap
ingestel het. Van Hom getuig
Johannes met die volgende woorde in Openbaring 5:
“Toe het ek voor die troon wat omring was deur vier
lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, ‘n Lam sien staan, die Een
wat geslag was. Hy het sewe horings
en sewe oë gehad. Die sewe oë is
die Sewe geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is.
Hy het toe gegaan en dieboek ontvang uit die regterhand van Hom wat op
die troon sit. Net toe die Lam die
boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor
Hom gekniel. Elkeen van hulle het
‘n siter gehad en ‘n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges.
Toe sing hulle ‘n nuwe lied: U is waardig om die boek te neem en die seëls
daarvan oop te maak omdat u geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het
uit elke stam en taal en volk en nasie. U
het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die
aarde regeer.”
AMEN