PREEK OOR 1 Petrus2:1-11
Intreepreek
Eric Kayayan by Rietvallei gemeente
Teksvers:
9: Julle, daarenteem, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike
priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die
volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis
geroep het na sy wonderbare lig.”
TEMA: IN CHRISTUS, DIE HOEKSTEEN, GEE GOD
‘
1. Ou en Nuwe Testament kan nie van mekaar geskei word as ons die persoon en werk van Christus geestelik moet verstaan nie.
As
daar een boek in die Bybel is wat lidmate min of glad nie lees nie, broers en
susters, is dit waarskynlik die boek Levitikus, in die Ou Testament.
‘n
Mens sou ook Numeri en Deuteronomium kon byvoeg.
Is dit nodig om te sê dat dit ‘n groot fout is ?
Trouens, die boek Deuteronomium word in die Nuwe Testament baie aangehaal
(slegs die Psalms en die boek Jesaja word meer as Deuteronomium in die Nuwe
Testament aangehaal). Wat
Levitikus betref, dit handel hoofsaaklik oor wat heiligheid voor God beteken,
hoe heilig die priesters van
2. Petrus gryp terug na die Ou Testament om vir ons verder te openbaar wat God se plan vir Sy volk is.
So
redeneer nie Petrus nie, broers en susters.
Sy woorde van vertroosting, bemoediging en aanmaning berus nie op
legendes of versinsels nie; eerder, hy weet wat die agtergrond van die werk van
Jesus Christus is, en hy kan selfs sê dat hy met sy eie oë hom in al sy
majesteit gesien het (2 Petrus 1:16). Hy gryp terug na die profete van die Ou
Testament as hy skryf, in hoofstuk 1 vers 10 en 11: “In verband met hierdie
saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is,
deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. Die
Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly
en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die
omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het.” In vers 16 van hoofstuk
1, haal Petrus ‘n uitspraak van God wat vier keer in die boek Levitikus
verskyn: “Wees heilig want Ek is heilig”.
In vers 19 van dieselfde hoofstuk, maak Petrus melding van die
loskoopprys waarmee ons vrygekoop is: “Julle is losgekoop met die kosbare
bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is”.
Hier het ons weer te doen met ‘n teruggryp na die boek Levitikus (hoofstuk
25), wat handel oor die Israeliete se reg om vrygekoop te word indien hulle
hulleself as slawe aan buitelanders verkoop het om hul skuld af te betaal.
In vers 11 van hoofstuk 2 lees
ons: “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners”.
Steeds in Levitikus 25, vers 23 lees ons: “Geen grond mag
permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My.
Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My.”
Selfs ons teksverse gryp terug na die Ou Testament. Kom ons vergelyk
vers 9 met Exodus 19 :6 : « Julle, daarenteen, is ‘n
uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder
is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig
van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.”
Exodus 19:5-6 lui so: “As julle My gehoorsaam en julle aan my
verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My
as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die
hele aarde behoort immers aan My”. Ons
tweede teksvers kan op dieselfde wyse met Hosea hoofstuk 1 vergelyk word:
“Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van
God. Julle het toe geen
barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.”
In Hosea hoofstuk een sien ons hoe die Here vir sy profeet beveel om
‘n prostituut as vrou te neem, om die verhouding tussen Hom en Sy volk te
simboliseer. Kom ons lees saam vers
6 tot 9: “Gomer het weer swanger geraak en sy het ‘n dogter gekry.
Die Here het toe vir Hosea gesê: Noem haar
Sonder-ontferming, want Ek gaan My nie weer oor Israel ontferm en hulle
sonde vergewe nie. Maar Ek sal My
oor Juda ontferm en Ek, die Here hulle God, sal hulle red.
Ek
sal dit nie doen met wapens, oorlog, perde en ruiters nie.
Nadat
sy vir Sonder-ontferming gespeen het, het Gomer weer swanger geraak en ‘n seun
gekry. Die Here het gesê: Noem hom
Nie-my-volk-nie, want julle is nie my volk nie en Ek is nie julle God nie.”
Sien
julle, broers en susters, die verband wat Petrus trek tussen die Ou Testament en
die Evangelie? Die
Nuwe testamentiese volk is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom vir
God, Sy eiendom, net soos die Israelites was vir die Here in Exodus 19.
Maar intussen het God Homself ontferm oor Sonder-ontferming en Hy het wel
van Nie-my-volk-nie Sy eie volk gemaak.
Hoekom
haal Petrus die Ou Testament op so ‘n manier aan? Hy doen dit nie om vir sy
lesers geleerd te klink nie, of omdat hy bloot die gesag van die Heilige Skrif
aan sy eie skrywe probeer toedien nie. Wat
hy doen, onder die leiding van die Heilige Gees, is om God se plan vir sy
uitverkore volk verder aan hom te openbaar, met die hele agtergrond van die Ou
Testament, waarsonder so ‘n verdere openbaring heel onverstaanbaar sou bly.
Sodoende kan Petrus vir God se volk verklaar wat sy eie, nuwe identiteit is.
So kan die uitverkore volk sy nuwe identiteit dieper verstaan en beter
uitleef. Julle en ek is inderdaad
die ontvangers van ‘n nuwe identiteit, ‘n nuwe burgerskap.
Ons, wat nie ‘n volk was nie, het ‘n volk geword, God se eie volk.
Ons roeping is om ‘n koninklike priesterdom vir God te wees.
Hoekom “koninklik”? Omdat ons burgers geword het van ‘n Koninkryk
wat onverganklik is. Ons burgerskap
en die regte en voorregte wat ons hierin ontvang het is veel beter as die
burgerskap van die globale wêreld waarin ons leef, en wat al hoe groter
aanspraak maak om universeel te
word. Die Koninkryk waarvan ons
burgers geword het het ‘n ewige Koning wat uit die dood opgestaan het, nie
‘n onpersoonlike administratiewe stelsel wat die koers van ons lewe bepaal
nie! Kom ons kyk saam wat ons nuwe identiteit en ons nuwe burgerskap beteken, in
die lig van ons teksgedeelte. Ons
begin met Jesus-Christus as hoeksteen van ‘n geestelike huis.
3.
Jesus Christus is die hoeksteen.
Die Ou Testamentiese volk moes vir God ‘n soort heilige huis gewees het waarin hy sou kon woon, ‘n plek in Sy Skepping wat ten spyte van die sonde, iets van God se heiligheid sou kon weerspieël. Te midde van al die vervalste godsdienste, wat getuig het van die mensdom se afvalligheid na die Sondeval, moes Israel ‘n lig wees onder die nasies wat sou getuig van God se heiligheid. Anders gesê: Israel se heiligheid moes in die wêreld die lig gewees het wat die lig van die Heilige God sou weerspieël. Hiervoor is al die riglyne deur God self in Sy heilige Wet neergelê. Dit is waar boeke soos Levitikus hulle plek ingeneem het. Die riglyne is neergelê om ‘n heilige huis op te rig, waarin God gemeenskap met sy volk sou kon hê. Hierdie riglyne kan soos volg opgesom word: ‘n heilige verbond tussen God en sy volk. Maar al was die riglyne duidelik, het die huis inmekaargestort. God se volk is later deur Hom “Nie-My-Volk-Nie” genoem. Wat het dan gebeur? Daar was niks fout met die riglyne nie, God was nie onverskillig teenoor Sy uitverkore volk nie. Hy was ook nie afwesig van Sy huis gewees nie. Die probleem was dat Sy Heiligheid te swaar was vir ‘n sondige volk; weens hulle sondige natuur was dit vir hulle onmoontlik om volgens Sy heilige standarde te leef. Al was daar (volgens die riglyne van die Verbond) gereeld soenoffers om versoening met Hom te verseker, kon die gebou nie die druk van God se Heiligheid hanteer nie. Vir so ‘n gebou om instandgehou te word, moes daar ‘n beter hoeksteen geplaas word. In die argitektuur van die antieke wêreld is daar altyd ‘n hoeksteen geplaas waarvolgens die mure van die gebou verder opgerig is. Die Babiloniërs het inskrywings hierop gegraveer. Soms is so ‘n steen bo die hoofingang geplaas. Daardie hoeksteen was wesenlik vir die stabiliteit van die hele gebou. In die simboliese taal van die Bybel, wys hierdie beeld van die hoeksteen dat die fondament van God se heilige huis God self moes wees. In die Ou Testament was Sy geopenbaarde Woord wel daar om die fondament van die gebou te wees en hom instand te hou, maar dit is asof die materiaal waaruit Sy Woord gemaak is, te swaar was vir die volk wat die densiteit daarvan nie kon hanteer nie, hulle wat in gemeenskap met Hom hierdie heilige woning moes vorm. God het dan sy liefde vir Sy uitverkore volk verder bewys deur Self die hoeksteen van hierdie geestelike woning te word. Sy Woord is nog verder geopenbaar toe sy Seun Jesus-Christus vlees geword het. Petrus haal weer uit die Ou Testament aan om hierdie boodskap aan sy lesers oor te dra. Eers Jesaja 28:16, dan Psalm 118:22, wat altwee die beeld van die hoeksteen gebruik. Dié beeld pas hy aan Christus toe. Beide as God en as mens in een persoon, het Hy onder ons kom woon, sodat die heilige woning van God van nou af op ‘n onwankelbare fondament sou kon berus. Dit is Petrus se boodskap aan sy lesers en aan ons, broers en susters. Want ons ook, wat nie deel van die ou volk Israel is nie, en wat nie ‘n volk vir God was nie, het Sy volk geword. Aan ons wat toe geen barmhartigheid ontvang het nie, het God nou barmhartigheid bewys deur van ons sy eiendom te maak, Sy geestelike woning. Wat ‘n heerlike voorreg, gemeente van ons Here Jesus-Christus!
4.
Die eise van ‘n koninklike priesterdom
Maar nou, wat beteken dit om ‘n koninklike priesterdom vir God te wees? Wat is die eise hiervan? Vers 5 van ons teksgedeelte stel dit so: “Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.” Dit gaan dus, broers en susters, om geestelike offers vir God te bring. Nie meer versoeningsoffers soos deur die boek Levitikus voorgeskryf nie, want die hoeksteen van ons geestelike gebou, Jesus Christus, het dit vir ons een keer vir altyd gedoen; maar eerder offers wat die karakter, die stewigheid, die densiteit en die mooiheid van die hoeksteen reflekteer. Ons kan nie gekenmerk word deur ‘n ander kleur of ‘n ander kwaliteitsgraad as dié van die hoeksteen nie. Anders het ons nie plek in so ‘n gebou nie! Ons kan nie die kleur of die kwaliteitsgraad wil inneem van ander geboue wat nie Jesus-Christus as hoeksteen het nie, want ons is mos die eiendomsvolk van God, ‘n nasie wat vir Hom afgesonder is. Sekerlik is daar baie ander geboue in die wêreld na die Sondeval. Sommige is lank terug opgerig en het miskien ‘n lank geskiedenis: die tempels van ander godsdienste, die tempels van menslike wysheid. Ander geboue het ‘n korter geskiedenis, sommige het kort na hulle oprigting inmekaargesak: die tempels van fascisme, van kommunisme, van allerhande nasionalismes. Sommige sal waarskynlik binnekort ineenstort: die tempels van kapitalisme, van globalisering. Al hierdie geboue wat deur die mense opgerig is om vir ewig te duur, sal inmekaarsak die een na die ander. Hoekom ? Bloot omdat hulle ‘n dooie of verganklike hoeksteen het. Wat ons geestelike huis betref, weet ons egter dat hy op ‘n lewende steen berus wat deur God vir die ereplek, die koninklike plek uitverkies is. Ons moet dus in ons priesterlike diens die karakter van die hoeksteen aanneem, wat deur lewe en onverganklikheid gekenmerk is. Lewend en onverganklik: dié twee kenmerke getuig juis van die koninklike karakter wat aan ons priesterlike diens geheg is. Christus is ons Koning, Hy wat uit die dood opgestaan het, wat oor Satan getriomfeer het en wat vir ewig lewe. Maar, sal u nou vra, wie gaan hierdie kenmerke aan ons toedien? Let op die woorde wat Petrus gebruik in vers 5: HEILIGE priesterdom, GEEStelike offers. Die teenwoordigheid van die Heilige Gees hier is onmisbaar. Hy sal ons toerus om al hoe meer die kleur en die kwaliteitsgraad van die hoeksteen aan te neem, Hy wat lewewekkend is. Aangesien God ons as Sy eiendomsvolk uitverkies het, moet ons nie twyfel dat Hy Sy Gees aan ons sal toestuur nie.
Die konkrete implikasies van ons koninklike priesterdom word deur Petrus in vers 11 en volgende uitgestippel. Dit is juis ‘n appel tot ‘n heilige lewenstyl, wat in kontras staan met dié van die heidene. Ons bly altyd stene van God se heilige huis. ‘n Steen kan mos nie homself verskoon en vir ‘n tydjie deel word van ‘n ander gebou nie. As jy so maak, loop jy die risiko om saam met die vrot hoeksteen ook ineen te stort. As burgers van ‘n ewige en onverganklike Koninkryk, moet ons weet dat ons in die wêreld vreemdelinge en bywoners is. Ons weet nou wat ons identiteit is. Ons is nie deel van al die vrot geboue rondom ons nie, al bly ons in hulle midde. Ons bly ‘n Verbondsvolk wat God se riglyne vir ons lewe altyd eerste plaas, sonder om of skynheilig of hoogmoedig te word nie. Ons weet mos goed dat ons vroeër geen volk was nie, en ook dat ons toe geen barmhartigheid ontvang het nie. Tog bly Petrus se waarskuwing vir die priesterlike volk dieselfde as dié wat ons in Paulus se briewe telkens lees: “Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien”. Ons mag nie toelaat dat ons heerlike koninklike hoeksteen, wat vir ons priesterlike en koninklike voorregte gegee het, ‘n klip word waaroor ‘n mens struikel en ‘n rots waarteen jy jou stamp nie (v. 8).
Inteendeel
jou verhouding met die ongelowiges moet gekenmerk word deur ‘n getuienis van
God se heiligheid. Hy of sy sal God
se lig in jou lewe sien, en dit sal hom of haar raak, moenie ‘n fout maak nie!
Hierdie verhouding is nie eenvoudig nie.
Eerstens omdat ons goed weet hoe ons eie sondes dikwels ‘n slegte
getuienis na buite toe kan dra, en hoeveel skade ons daardeur soms verrig. Maar
aan die ander kant, miskien gaan jy buurmense kry wat ‘n homoseksuele paar is,
of dronkaards, of mense wat die naam van die Here ydellik gebruik.
Wat ookal die geval mag wees, volgens vers 12 is jy nie veronderstel om
kwaad van hulle te praat nie. Eerder,
al sou hulle kwaad van jou praat, omdat jy nie deel wil vorm van hulle onheilige
gebou nie, moet jy werk om jou lewe voor hulle voorbeeldig te hou.
“Julle moet alle mense
respekteer en julle medegelowiges liefhê” sê vers 17.
Hierdie soort getuienis bring ons na die laaste kenmerk van die koninklike priesterdom wat God van ons gemaak het. Vers 9 open vir ons ‘n wonderlike missionêre visie: “Julle is die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.” Ons lewenstyl, ons omgang met mekaar maar ook met die ongelowiges is ‘n getuienis na buite toe. Maar ons is ook geroep om ons getuienis in soveel woorde te laat gaan na die hele aarde toe. Soos ons vroeër gelees het, het die Here mos aan Sy volk Israel gesê: “Die hele aarde behoort aan my” (Eks.19:6). En nou word die geestelike huis van God al hoe verder opgebou, al hoe hoeër. In die Ou Testament was Israel by uitstek die Verbondsvolk van die Here, geroep om heilig voor God en voor die heiden nasies te wees deur aan die riglyne van die Verbond gehoorsaam te bly. Maar in Jesus-Christus is nou al die nasies openlik uitgenooi om deel te vorm van hierdie heilige woning van God. In die Ou Testament was die Leviete se taak om versoeningsoffers aan God te rig. Na die koms van die Lam van God, is ons priesterlike taak om mense van alle volke en alle talle te roep om met God versoen te word op grond van Jesus se soendood, en sodoende deel te kom vorm van Sy huis, sodat hulle hul lewe op die hoeksteen kan rig. Die stene van ander afvallige geboue moet geroep word om die lewende hoeksteen se kleur en se kwaliteitsgraad aan te neem, en op Hom te kom berus. Hulle wat nog nie ‘n volk is nie, moet God se volk word, saam met ons. Deur ons, wat ‘n koninklike priesterdom geword het, roep God hulle uit die duisternis na Sy wonderbare lig. Ons wapens in hierdie heilige stryd? ‘n Persoonlike getuienis van ‘n heilige lewenswandel, en die verkondiging van God se verlossingsdade.
So
word God se plan vir Sy volk uitgevoer. So
word ons draers van Sy wonderbare lig. So kan ons tereg genoem word: “’n
uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder
is, die eiendomsvolk van God”. AMEN