PREEK OOR II KRONIEKE 26
DS Eric Kayayan
Inleiding:
Die
verhaal van koning Ussia, broers en susters, sou die volgende woorde as
ondertitel
kan
dra:
“vernaamheid en verval van ‘n
trotse koning”, of soiets soos “prag en ellende van ‘n antieke monarg”.
Hoofstuk 26 van II Kronieke stel eers aan ons ‘n “opgaande”
fase voor, waar die groei en voorspoed van Ussia aan ons vertel word, en dan
‘n “afgaande” fase, waar sy agteruitgang vir ons beskryf word.
En in die middel van hierdie verhaal, op die hoogtepunt, staan daar ‘n
sentrale woord: die woord “mag”, of die idee om sterk te wees, om ‘n
magtige man te word. Kom ons lees
weer die twee sentrale verse van ons teksgedeelte (vers 15b en 16): “Sy
roem het wyd gestrek. Hy het op ‘n
wonderbare wyse hulp ontvang en hy het ‘n magtige man geword.
Maar toe hy eenmaal die mag het, het Ussia ingenome geword met homself,
en dit was die begin van sy einde.”
Maar wat presies was die sonde
van koning Uzziahou, wat tussen 790 en 739 voor Christus oor Juda geregeer het,
en wie se naam in Hebreus beteken: “my
sterkte is Jahweh”? Die Bybel
praat van hoogmoed, van ‘n hart wat vol van homself geword het.
Hierdie is sekerlik dié sonde wat die Here haat, soos ons dit in Spreuke
16, vers 5 lees: “Die Here het ‘n afsku van ‘n verwaande mens; dit staan vas: so ‘n
mens sal nie ongestraf bly nie.”
Hoe hierdie hoogmoed in die hart van Ussia gestalte geneem het, en
wat die betekenis van sy daad was, sal die kern van ons besinning vanoggend
vorm. Ons sal sien dat ons teks
merkwaardig aktueel bly, nie net vir vandag nie, maar ook vir môre.
Want ons besinning sal ons daartoe lei om vir onsself die volgende vrae
te vra: Wat is, in die oë van die
almagtige God, die rol van die staat in ons lewe hier op aarde, en wat moet die
verhouding tussen die Kerk en die staat wees?
Ons sal ook tot die besef moet kom dat die sonde van hoogmoed nie net
persone of indiwiduë tref nie, maar beslis ook die sfeer van die politieke mag.
1.
Die opgaande fase van Ussia se koningskap.
Kom ons begin met die opgaande
fase van Ussia se koningskap. Hy is slegs sestien jaar oud toe hy aan bewind
kom, en hy erf ‘n besondere moeilike politieke situasie.
Sy pa, koning Amatsia, het in ‘n dwase militêre veldtog teenoor die
noordelike koninkryk beland, en is as gevolg daarvan gevange geneem; hy sal vir
omtrent tien jaar daar as ‘n gevangene gehou word.
Intussen is ‘n groot stuk van die muur van Juda se hoofstad, Jerusalem,
deur die vyand afgebreek, terwyl al die skatte van die koninklike huis asook dié
van die Tempel deur die Israeliete geroof is.
‘n Klomp gyselaars word ook na
Samaria
,
Israel
se hoofstad, as gevangenes geneem. Ussia word dus die prins-regent van Juda
tydens sy pa se gevangenskap. Ten
spyte van so ‘n moeilike begin, gaan die jong koning stukkie vir stukkie, en
met ‘n merkwaardige doeltreffendheid, die nasionale situasie herstel, deur die
ekonomiese en militêre maatreëls wat hy gaan neem.
Inderwaarheid sou Ussia deur baie huidige regeerders as ‘n model geneem
kan
word, as ‘n mens inagneem die manier waarop hy die ekonomiese ontwikkeling
van sy land bevorder het. Met baie
wysheid het hy nie probeer om Juda se skatte wat deur die Israeliete geroof is,
met behulp van ‘n ander militêre veldtog te herwin nie.
Hy los die noordelike koninkryk alleen, maar hy versterk die grense van
Juda aan die suidelike, oostelike en westelike kant, en onderwerp sommige
buurlande wat nie so sterk soos
Israel
was nie, maar wat ‘n voordeel getrek het uit Juda se nederlaag teen
Israel
. Ussia benut die feit dat die groot
magte van sy tyd, Assirië en Babilon, hulleself elders besig hou, om vestings
op strategiese plekke van sy koninkryk te laat herbou.
Uitgrawings wat tydens die twintigste eeu gedoen is, het ‘n intense bou
aktiwiteit in die suidelike gedeelte van Palestina aangetoon, ‘n aktiwiteit
wat, volgens argeoloë, tydens die 8ste eeu voor Christus plaasgevind het, dus
onder andere tydens Ussia se koningskap.
Ussia is ‘n koning wat dink
en beplan vir die langtermyn. Tydens
sy ryk hervat en floreer die mynbedryf wat onder koning Salomo plaasgevind het:
langs die Dooie See vind weer
koper en yster myne aktiwiteite plaas wat
hulle destyds gehad het. Dit
bevorder nie net die nasionale rykdom nie, maar ook die ontwikkeling van
gespesialiseerde gereedskap vir ambagsmense. In
die Suide, met die besetting van die Neguev woestyn gaan nuwe handelsroetes oop,
veral met Arabië, langs die kus van die Rooi See.
Al die handel van die Nabye Ooste wat na hierdie rigting wil gaan, moet
nou deur hierdie roete gaan, en skep nog ‘n bron van inkomste.
Wat die landbou betref, het die boere baie redes om tevrede te wees. In
daardie tyd word geen melding gemaak van ‘n skadelike droogte of van
vernietigende oorstromings nie, alhoewel ons van ‘n belangrike aardbewing in
die Ou Testament hoor, ‘n aardbewing wat tydens Ussia se ryk geskied het.
Die land verkeer in vrede, dus die velde word nie elke nou en dan deur
strydwaens of hordes kamele verwoes nie. Veel eerder word die besproeiing van
ploegbare land bevorder deur die grawe van putte en kuile.
Maar as die boere redes het om tevrede te wees, is dit omdat die sentrale
regering besonder belang in hulle stel: die koning self is hulle beskermer, want
hy is ‘n liefhebber van die landbou en neem ‘n groot aantal wynboere,
landbouers in diens sowel as veeboere om vir sy baie vee te sorg.
Op militêre vlak neem Ussia
ook langtermyn maatreëls. Saam met
die herbou van Jerusalem se mure, en die bou van vestings, neem hy
die gevaar weg wat vanaf buurlande sou kon kom, deur aan die mure van
hulle vestings groot skade aan te rig. Met
bekwaamheid organiseer hy Juda se leër wie se lojaliteit teenoor hom verseker
is. Hy voorsien ook allerhande
krygstoerusting vir sy soldate, met die metaal wat van die myne af kom.
Maar Ussia is nie tevrede om bloot ‘n groot goed toegerusde leër in
diens van hom te hê nie. Hy kyk nog
verder en stel belang in vernuwende militêre
tegnologie. Hierdie koning wat ‘n
liefhebber van die landbou is, weet ook hoe om homself met bekwame ingenieurs te
omring, mense wat op ‘n unieke wyse in die hoofstad se verdediging gaan
voorsien. Krygsmasjiene wat tot
dusver onbekend aan ander nasies was, gaan die mure van die stad toerus: hulle
kan
pyle en groot stene op ‘n redelike afstand laat vooruitspring. Ons is nie
verbaas om te lees dat Ussia se roem wyd gestrek het nie.
In alles wat hy onderneem het, was hy voorspoedig, sê die skrywer van
die boek Kronieke. Hierdie koning
wie se ander naam –Azaria- beteken “Jahweh het gehelp”, is inderdaad op
‘n wonderbare manier deur die Here gehelp.
Ussia is gehelp in die tyd dat hy na die wil van die Here gevra het, sê
vers 5. En hy het na die wil van God
gevra gedurende die hele lewe van Sagaria, ‘n destydse profeet wat insig in
die openbaring van God gehad het. Ja,
Ussia het op ‘n wonderbare wyse hulp ontvang en hy het ‘n magtige man
geword.
2.
Die afgaande fase van Ussia
se koningskap
“Maar
toe hy eenmaal die mag het, het Ussia ingenome geword met homself, en dit was
die begin van sy einde.” Wat
het dan verkeerd geloop met so ‘n
suksesvolle heerser? Rondom die jaar
750 voor Christus, nadat hy vir omtrent 17 jaar alleen aan bewind was, het
koning Ussia die inisiatief geneem om self wierookoffers op die wierookaltaar in
die Here se Tempel te gaan offer. Sodoende
het hy ‘n voorreg, ‘n prerogatief wat die Here uitsluitlik aan die Leviete
toevertrou het, aan homself toegeken. Dit
is inderdaad wat die hoëpriester Azariahou aan die koning voorhou sonder om
doekies om te draai. Nou sou ‘n
oppervlakige leser van hierdie hoofstuk beweer:
“Maar wat was verkeerd in Ussia se optrede? Wou hy
nie juis sy diep dankbaarheid op ‘n persoonlike wyse teenoor die Here
daardeur uitspreek nie?” Dit is
nie wat die Bybel vir ons sê nie. Die
koning se ongehoorsamheid het trots
as oorsaak. Ussia kom in die Tempel
in versier met al sy aardse suksesse, vol van homself, verlief op sy eie mag,
terwyl die diens in die Tempel ‘n
diens van nederigheid is, en van boetedoening.
Die parfuum wat deur die toegewyde priesters daar geoffer was het ‘n
spesiale samestelling gehad wat deur die Here Self aan Moses voorgeskryf is en
wat geensins vir persoonlike doeleindes gebruik mag word nie, soos ons in Exodus
30 lees. Tydens die jaarlikse fees
van die versoening het die offer van die fyngestampte wierook ‘n sentrale plek
in
Israel
se godsdiens ingeneem, soos Levitikus
16 dit aan ons meedeel. Die enigste
aanvaarbare priesters wat vir hierdie diens aan die Here toegewy is, was Aaron
en sy nageslag, dit wil sê die Leviete. Na die offer van die sondeofferbul, wat
vir die hoëpriester bedoel was, en waarmee hy vir hom en al die priesters
versoening gedoen het, moes hy in
die teenwoordigheid van die Here die wierook op gloeiende kole gooi sodat dit
‘n rookwolk sou maak wat die deksel van die ark waarin die getuienis was, sou
bedek. So sou hy nie sterf nie.
Dan het hy die bokram geoffer, wat as sondeoffer vir die volk bedoel was.
Net soos met die bloed van die bul, het hy die bloed van die bokram op en
voor die deksel gesprinkel: so het hy die Allerheiligste gereinig van al die
onreinhede van die Israeliete, van hulle oortredinge en al hulle sonde.
In Aaron se tyd is ook die tent van ontmoeting op so ‘n manier
gereinig, en niemand anders mog in die tent van ontmoeting wees vandat Aaron
ingegaan het om in die heiligdom versoening te doen totdat hy uitgegaan het nie.
So is die heiligheid van die versoeningsdiens onder andere bepaal deur
die feit dat slegs die Leviete dit kon verrig.
Dit was dus nie ‘n klein ding om die bepalings wat die Here aan Sy
Verbondsvolk gegee het, te oortree nie. En
nou kom ‘n koning, wie se taak en roeping voor God heeltemal anders was, en hy
neem vir homself ‘n amp wat nie syne is nie.
Ussia kom in die tempel in met dieselfde gesindheid as dié van Kain, in
Genesis hoofstuk 4, nie om boetedoening vir sy sondes te doen nie, maar om vir
die Here God te kom wys alles wat hy in staat is om te doen.
Hy kom voor die aangesig van die Here nie om sy sondes te bely en
vergiffenis te ontvang deur die bemiddeling van die priesters wat God daarvoor
benoem het nie, maar om sy aardse mag te vertoon voor die Een wat in Sy Genade
hierdie mag aan hom gegee het. En
deur dit te doen, broers en susters, deur om die bedwelming van die heilige
wierook se heerlike geur te kom soek, wat sy eie mag en glorie sal bekroon, is
Ussia eintlik besig om ‘n nuwe priesterskap te vestig:
die priesterskap van die Staat wat homself middelaar tussen God en die
mense proklameer, en die God-gegewe
diens van die versoening wil vervang. Ja
die Staat, die publieke mag, in die persoon van koning Ussia, wil die taak
verrig om sy onderdane met God te versoen, op die basis van sy aardse mag.
Sodoende is die Staat met self-verheerliking besig, op pad om homself as
goddelik te verklaar. Dit, broers en
susters, was Ussia se sonde, die openbaring van sy trots. In sy tyd was soiets
wel die algemene praktyk in baie ander nasies, soos met die Egiptiese faraos,
wat beide as konings en hoë priesters gedien het.
Die Verbondsvolk het egter ‘n heilige wet ontvang wat hom onderskei het
van al die ander nasies: daar mog geen verwarring plaasvind tussen God se almag
en die mag van ‘n aardse koning wat maar net een van Sy skepsels is nie.
Wat vir die reiniging bedoel was, wou Ussia misbruik om ‘n onreine daad
by uitstek te pleeg: ‘n verwarring tussen God se mag en sy eie mag.
Die onreinheid van sy daad sal onmidellik deur God aan hom toegereken
word. Ten spyte van die vermanings
van die hoëpriester Azariahou en tagtig dapper priesters wat nie bereid was om
die koning eerder as God te gehoorsaam nie, het Ussia aangehou in sy poging tot
ontheiliging, en selfs woedend geword. Maar
skielik het ‘n tipe melaatsheid op sy gesig uitgebreek, ‘n velsiekte wat die
simbool van onreinheid was, en wat die onreinheid van sy hart geopenbaar het.
Ussia se sonde sal hom tot sy laaste dae volg, want hy sal nooit van sy
velsiekte genees word nie: hy sal die merk van God se straf tot in sy graf dra.
En die trotse koning wat wederregtelik
in die Tempel ingekom het om ‘n nuwe godsdiens te probeer instel, sal vir die
res van sy dae van die Tempel uitgesluit word, vanweë sy onreinheid.
So is ook Miriam, Moses se suster, tydelik met melaatsheid gestraf, toe
sy in ‘n amp wou inmeng wat nie vir haar bedoel was nie, soos ons dit in
Numeri 12 lees. Want iemand
wat melaats, of enige soortgelyke velsiekte op sy gesig gehad het, mog nie
toegang tot die Tempel hê nie; hy of sy was onrein, volgens Levitikus 13 of
Numeri 5. Nie net uitgesluit uit die
Tempel nie, maar ook uit die samelewing, sal koning Ussia die bewind in die
hande van sy seun Jotam moet oorhandig, terwyl hy in ‘n afgesonderde huis sal
moet bly vir die twaalf laaste jare van sy lewe. Wat hom betref sal Jotam nie
die sonde van sy vader herhaal nie, soos ons dit in vers 2 van die volgende
hoofstuk lees. Ussia se roem in die buiteland het nie verdwyn nie, en Juda se
voorspoed het klaarblyklik nie minder geword nie, maar wat ‘n persoonlike en
geestelike ramp vir hierdie koning wie se naam beteken “my sterkte is
Jahweh”…
3.
Wat is die les vir ons
vandag
Wat is dan vir ons vandag die
les van hierdie stuk geskiedenis wat twee-duisend agt honderd jaar gelede
plaasgevind het? Eerstens, openbaar
ons teks aan ons die versoeking waaraan politieke mag dikwels, ‘n mens sou
amper wil sê meeste van die tyd, blootgestel word:
dié van self-verheerliking en die versoeking om al hoe meer mag aan
homself toe te eien, om sy eie groei en eie belang te soek, en om ‘n kulte vir
homself te probeer instel. As
ekonomiese voorspoed heers, word die Staat geneig om homself as die bron van
alle goed te beskou, en wil erkenning daarvoor ontvang deur ‘n tipe
gehoorsaamheid te eis wat direk bots met die gehoorsaamheid wat aan God alleen
verskuldig is. Dit gebeur ongelukkig ook met owerhede of regerings wat voorgee
om God se almag te erken. Die
priesters of kerkleiers word dikwels, soms op ‘n subtiele manier, in so ‘n
onrein poging ingebring, sodat hulle ‘n godsdiens begin verkondig wat aan
hierdie eise van die Staat voldoen. Uit
ons eie geskiedenis hoef ons nie baie ver te gaan soek om voorbeelde daarvan te
vind nie. Maar in die geskiedenis
van die Ou Testament het soiets gereeld plaasgevind: ‘n nasionale godsdiens in
diens van die ekonomiese belange van die volk het gou ontwikkel,
waarin die welvaart van die mense prioriteit geniet het.
Die alliansie tussen die Staat en die onderdane het nie meer op grond van
God se bepalings plaasgevind nie, met die reg en regverdigheid as fokus, maar
rondom eie belang, rondom hebsug en magsug.
In die tyd van koning Ussia het ‘n profeet namens die Here so ‘n
godsdiens raakgesien en skerp veroordeel: hierdie
man het vanaf die Ooste van die Platorand gekom. Hy was van ‘n klein dorp suid
van
Bethlehem
afkomstig, Tekoa, wat nie ver geleë is van die vallei waar die ryk boere
koning Ussia as hulle beskermheer gehad het nie.
Hy was self ‘n boer, sy naam was Amos.
Hier is wat hy sê oor sy landsgenote:
“So sê die Here: Selfs as Juda
net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep nie.
Maar nou het hy ‘n vierde sonde daarby gevoeg: hulle het die wet van
die Here verwerp, hulle nie aan sy voorskrifte gehou nie en toe het die vals
gode hulle verlei, die afgode agter wie hulle voorvaders aangeloop het.
Daarom sal Ek in Juda ‘n vuur laat losbreek en dit sal die mooi huise
van
Jerusalem
verteer.” Dit
is nie baie diplomaties gesê nie, broers en susters, maar in hierdie uitspraak
van Amos het ons nog vir vandag ‘n helder waarskuwing teenoor die
voorspoedsgodsdiens wat met ‘n staatsgodsdiens gekombineer word; ‘n
godsdiens waar die mens en sy eie mag dink dat hy die goddelike, die ewige en
die onveranderlike kan bereik. In so
‘n godsdiens is daar nie meer plek vir God se regering, deur sy Voorsienigheid
nie. Die metode om soortgelyke doel
te bereik
kan
sosialisties of kapitalisties van aard wees, maar op die ou einde het ons wel
te doen met ‘n onrein godsdiens, wat net wil bedwelm word met die wierook van
sy eie suksesse. In teenstelling
hiermee verstaan die ware godsdiens dat aardse mag eerstens ‘n diens is, wat
nie net aan die burgers rekenskap van sy dade moet gee nie, maar wat bowenal
‘n goddelike mandaat bly. Die
owerhede moet ook rekenskap van hulle dade aan God gee.
As hulle geen gesag bo hulleself erken en eerbiedig nie, dan
kan
enige onreg en gruwelike daad deur hulle gepleeg word.
Dan
kan
hulle bepaal, suiwer uit wat vir hulle voordelig is, wat goed en verkeerd is.
Is ‘n grondwet dan genoeg om hulle te keer?
Hier bring ons teks nog ‘n
besondere lig oor die kwessie van hoe die Kerk die Staat in sy taak moet
bystaan. Die skrywer van die boeke
Kronieke doen dit nie deur vir ons ‘n lesing te gee nie, maar deur twee figure
aan ons voor te stel: dié van die
profeet Zagaria, en dié van die hoëpriester Azariahou.
Zagaria verteenwoordig die profetiese stem van die Kerk, wat namens God sê
wat reg en verkeerd is. Daar word
nie van hom geskryf dat hy in die regering se taak ingemeng het nie.
Dit sou net so ‘n ernstige oortreding gewees het as dié wat Ussia
gepleeg het. Wat hy vir die koning sê,
die openbaring van God waarin hy
insig het, het betrekking op die lewe van die koninkryk van Juda, soos dit ook
die geval was met Jesaja en koning Hiskia. Wat hy het om te sê is ook in lyn
met God se wet en voorskrifte. Wat
opvallend is, is dat in die opgaande fase van sy koningskap, het koning Ussia
vir Zagaria gereeld geraadpleeg. Die
Staat vra vir die Kerk om advies te gee, om ‘n woord van wysheid te gee wat op
God se Woord gefundeer is. En die
Kerk gee so ‘n woord nie om die Staat se taak oor te neem nie, ook nie om die
belange van ‘n groep mense te laat bevorder nie, maar suiwer uit
gehoorsaamheid aan God. Die tweede
figuur, die hoëpriester Azariahou -en ‘n mens sou die tagtig dapper priesters
kon byvoeg- verteenwoordig die onversetlikheid van goddelike mense wat nie
bereid is om kompromië te maak daar waar God se eer op die spel is nie.
Hulle is nie bang vir hulle lewe nie, al weet hulle goed dat die koning
hulle
kan
vervolg. By hulle bly God se eer bo
alles. As die koning verkeerd
optree, sê hulle dit onomwonde. Was
daar vroeër in ons land sulke mense om die Staat aan te spreek toe hy probeer
het om sy mag bo God se Woord te verhef terwyl hy voorgegee het om God se Naam
te eerbiedig? Sal daar vandag tagtig
dapper mense wees om onversetlik te wees as die Staat, of enige ander owerheid,
uit eie reg wil bepaal wat goed en verkeerd is sonder om aan God se Woord aandag
te gee nie? Het ons in so ‘n
diepe gees van kompromië beland dat alles maar
kan
gaan, solank ons private en persoonlike belange behou bly, solank ons mooi
huise beskerm word? Sekerlik sal
hulle nie beskerm word teen die verterende vuur wat die Here
kan
laat losbreek nie? U sal nou vir my
sê, broers en susters: “Maar
Azariahou hulle het ‘n diens in die Tempel van Jerusalem verrig, dus was hulle
in ‘n posisie om koning Ussia te keer. Maar
vandag bestaan daar nie meer so ‘n godsdiens met so ‘n fisiese Tempel in ons
midde nie”. Ons sou maklik kon
vergeet dat elkeen van ons se liggaam, broers en susters, die fisiese tempel van
God is waarin Sy Heilige Gees woon, en wat nie ontheilig mag word nie.
U en ek het dus ook ‘n verantwoordelikheid om “nee” te sê as enige
amptelike owerheid een of ander ideologie in ons lewe of lewenstyl probeer
indwing wat teen God se Woord gaan.
Anders word ons net so onrein soos Koning Ussia en dra ons in ons harte
‘n melaatsheid wat ons onrein voor die angesig van die Here maak.
Maar God wil hê dat ons rein
voor Hom moet lewe, rein in ons persoonlike wandel en rein te midde van ‘n
onreine samelewing waar die Staat ook dikwels onrein optree.
Om
rein te word en te bly, is beslis nie iets wat deur onsself verrig
kan
word nie. ‘n Bemiddelaar is vir
ons nodig. Dit is nie die Staat, of
die aardse owerheid wat hierdie
middelaar vir ons
kan
wees nie. Slegs iemand wat hierdie
keer in volle reg as koning, priester en profeet mag optree, kan so ‘n
middelaar vir ons wees: die Seun van
God self in wie se Naam ons ons erediens begin het:
“Jesus Christus, die
geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser
oor die konings van die aarde”. Hy
is God self wat gekom het om ons te reinig.
Broers en susters, luister ten
slotte hoe ‘n ander profeet begin profeteer het, presies in die jaar van
koning Ussia se dood, in ‘n tyd wanneer onreinheid in die samelewing baie
prominent was en wanneer die koning self onrein was as gevolg van die onrein
daad wat hy in die Tempel gepleeg het. Luister
hoe Jesaja die volgende visioen gehad het, juis in die Tempel van God.
Luister hoe hy, deur die gloeiende kole wat in die Tempel was, van sy
sondes gereinig is. Hy het homself nie rein verklaar deur om die wierook tot sy
eie eer te laat brand nie, maar hy het sy sondes en die sondes van sy mense
erken; hy het ook erken wie die
Koning, die Here die Almagtige is: “In
die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien.
Hy het op ‘n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het
die tempel gevul. By hom was daar
serafs om Hom te dien. Elkeen het
ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee
het hy gevlieg. Die serafs het
mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!
Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid”.
Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en
die tempel vol rook geword het. Toe
het ek uitgeroep: “Dit is klaar
met my! Ek is verlore! Elke woord
oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is.
En nou het ek die koning gesien, die Here die Almagtige.”
Een van die serafs het toe ‘n gloeiende kool met ‘n tang van die
altaar af gevat en na my toe gevlieg. Hy
het my mond aangeraak met die kool en gesê:
“Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge
vergewe, jou sonde versoen.”
AMEN
.