PREEK OOR HANDELINGE 12

(E. Kayayan)

 

Vers 24: “Maar die Woord van God het verder versprei en veld gewen”.

 

Inleiding:

“Maar die Woord van God het verder versprei en veld gewen”.  Ses keer in die boek Handelinge kom soortgelyke woorde voort, asof Lukas elke nou en dan sy leser wil herinner aan die plan en program van sy boek; asof hy ook verslag wil doen aan die Here wat ‘n opdrag aan sy dissipels gegee het:  Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in Judea en in Samaria en tot die uithoeke van die wêreld.”  Byvoorbeeld in hoofstuk 9, vers 31, lees ons:  In die hele Judea , Galilea en Samaria het die kerk ‘n tyd van rus en vrede belewe.  Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe.  Die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetaal het toegeneem”.  Die Woord versprei en die kerk groei in tyd van vrede.  Maar in sy boek rapporteer Lukas dat dieselfde óók in tyd van teëspoed en vervolging gebeur.  Kyk byvoorbeeld na die gevolge van Saulus se vervolging van die Kerk in hoofstuk 8:  Daardie dag –dit wil sê na Stefanus se martelaarsdood- het daar ‘n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin.  Al die gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die hele gebiede van Judea en Samaria” (…)  Dan voeg Lukas by: “Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het die Evangelie verkondig.”  Judea en Samaria:  na Jerusalem is dit mos die twee teikens wat Jesus aan sy dissipels voor sy hemelvaart aangedui het…  Die verhewe Heer wat aan God se regterhand sit, is in beheer van die verkondiging van sy Woord.  En let op die manier waarop Hy die koers van die geskiedenis  en elkeen se lewe bepaal:  Hy gebruik alreeds Saulus as sy instrument vir die verdere verspreiding van sy Woord, al is dit beslis teen Saulus se beswil.  Die vervolging van Christene wat Saulus in daardie fase van sy lewe inisieer en lei, is bedoel om die kerk heeltemaal uit te roei.  En tog op die ou einde werk dit andersom:  deur diegene wat orals verstrooi is, word die Evangelie versprei, en die kerk groei verder, op ander plekke. Saulus is alreeds ‘n instrument in die hande van die Here, maar God het ‘n beter plan vir hom: Hy wil van hom ‘n bewuste medewerker maak van die verspreiding van sy Woord, iemand wat, dié keer in volle onderworpenheid en gehoorsaamheid die opdrag sal uitvoer.

 

Inderdaad, broers en susters, niks kan die verspreiding van God se Woord keer nie.

 

1. Hoe lyk God se vyande?

Dit is ook wat die episode van koning Herodes Agrippa vir ons wys.  Tog kom daar ‘n ander element in hierdie verhaal voor:  die verspreiding van God se Woord geskied nie sonder dat God se straf en oordeel op ‘n besondere manier toegepas word nie.  God se oorwinning oor die bose magte gee ons dié keer ‘n perspektief op wie hulle is, op die manier waarop hierdie bose magte werk: die soort aanspraak wat hulle op ‘n mens se lewe maak.  Wat dink hulle van hulleself?  Hoe tree hulle op?  Kom ons kyk van nader na vers 19 tot 25 van ons teks. Ons sal beter verstaan hoe groot God se oorwinning is, as ons eers sy vyande van nader aanskou het.  Ons sal sien op watter wyse die Woord van God, as dit verprei, die vyand verbyster, sy kampe en vestings vernietig, sy hoofgenerale en offisiere gevange neem en verwyder.

 

Herodes Agrippa is ‘n klein seun van koning Herodes die Groot, onder wie se aardse heerskappy Jesus gebore is.  Hierdie familie, wat in talle gevalle God se dienaars vervolg het -Jesus Christus heel eerste- illustreer baie goed die woorde van die Here in Exodus 20, vers 5 en 6:  Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat my haat”.  Die Herodes verskyn op die toneel van Palestina tydens die eerste eeu voor ons era.  Deur bloedskande, huwelike, egskeidings, tweede huwelike, vermeerder hulle vinnig (Herodes die Groot het selfs tot 10 vrouens gehad!).  Maar hulle saamsweer ook teen mekaar en vermoor self mekaar hier en daar.  Die uiteinde van hulle woelige geskiedenis is dat honderd jaar later, juis vier geslagte na Herodes die Groot, is hulle linie heeltemaal uitgewis.  Wat hom betref het Herodes Agrippa oor die hele Palestina geregeer –vir omtrent 4 jare-.  Hy was ‘n baie goeie vriend van die Romeinse keiser  Claudius, maar ook van die Joodse party van die Fariseërs.  Hy wou graag as ‘n verdediger van die tradisionële godsdiens beskou word.  Daarom het hy nie gehuiwer om vir die apostel Jacobus –Johannes se broer- te laat arresteer en tereg stel nie.  Dieselfde wil hy nou ook met Petrus doen, want hy weet dat dit hom by die Fariseërs gewild gaan maak.  Ons het gelees hoe sy plan misluk het.  Herodes Agrippa is verstom, maar ook woedend:  hy beleef hiermee ‘n vernedering en pas die wet streng toe: volgens die Romeinse reg van destyds, as ‘n gevangene wat aan ‘n wag of ‘n tronkbewaarder toevertrou was, ontsnap het, moes die wag dieselfde vonnis ontvang as dié wat oor die gevangene uitgespreek is.  Derhalwe is dit duidelik dat Herodes Agrippa vir Petrus ook wou doodmaak.  Ons het dus te doen met ‘n redelike gefrustreerde man wat van Jerusalem na Sesarea toe beweeg, kort voor die Paasfees van die jaar 44. Benewens, is hy in ‘n bittere konflik betrokke met die inwoners van Tirus en Sidon, op die noord-kus van Palestina.  Maar daar is ‘n kans om versoening tussen die twee partye te bewerk, en die geleentheid hiervoor gaan die amfiteater spele wees wat ter eer van keiser Claudius in Sesarea gehou moet word. Destyds, toe hy nog in Rome geleef het, het Herodes Agrippa Claudius gehelp om keiser van Rome te word, te midde van baie moeilike omstandighede.  Om hom te dank, het Claudius die provinsies Judea en Samaria aan sy domein bygevoeg. Claudius het pas van Engeland teruggekom, waar hy ‘n groot oorwinning behaal het.  Dus besluit Herodes Agrippa dat die spele tot eer van Claudius se verjaarsdag en van hierdie oorwinning ‘n briljante vertoning moet word, ook met die doel om die ambassadeurs van Tirus en Sidon sterk te beïndruk.  Ons moet ook onthou dat Sesarea die hoofstad van die Romeine in Palestina was, hulle administratiewe en militêre sentrum. Dit is waar die Romeinse prokuratore, soos Pilatus, meeste van die tyd gebly het. Dit is ook waar Petrus gestuur is om met die Romeinse kaptein Kornelius te gaan praat, soos ons in Handelinge 10 lees.

 

En nou wys die verhaal wat Lukas vir ons vertel dat die goddeloses net een doel het:  om hulleself as God te beskou. Met ander woorde, om oorlog teen die enigste God te verklaar.  Die vernedering wat Herodes Agrippa beleef het met die onverklaarbare verdwyning van Petrus, moes hom voor God nederiger gemaak het.  Maar nou, in Sesarea sien hy homself in ‘n verhewe posisie:  dié keer is hy die voorsiener in ander mense se behoeftes.  Die gebied van Tirus en Sidon was nie deel van sy ryk nie, maar van die Romeinse provinsie van Sirië.  Nietemin, die inwoners van hierdie gebied was wel van Herodes se domein afhanklik vir vee en grein, en die blokkade, of die sanksies wat hy teen hulle toegepas het, het hulle op die knieë gedwing.  Herodes Agrippa wil die geleentheid gryp om aan die versoening waarvoor hulle smeek, die grootste glans te gee.  Hoe heerlik is dit nie om ander mense aan jou voete te sien, nadat hulle met jou gestry het nie; hulle kom om jou hulp te soebaat en wag in angs en bewe vir ‘n woord van versoening van jou kant af.  Hoe heerlik is dit nie om te dink dat jy oor hulle lot kan besluit, soos die Romeinse keisers in die amfiteater met die gladiatore gedoen het:  met ‘n eenvoudige beweging van hulle duim, kon hulle die lewe van ‘n gladiatoor spaar, of wegneem. In sy jeugd het Herodes Agrippa talle sulke barbaarse spele in Rome bygewoon, en geniet. En nou is dit sy beurt om amper soos die keiser te kan optree. Maar om sy beeld verder te verhef, het hy nog iets gedoen (deur ander historiese bronne weet ons dit):  hy het manjifieke helder silwer klere aangetrek en voor die menigte tydens die vroeë oggend in die amfiteater verskyn: die son het op so ‘n manier op dié klere geglans, dat dit ‘n ontsaglike indruk op die menigte gemaak het:  diegene wat intens na hom gekyk het, is met ‘n gevoel van skrik gevul.  Toe hy hierdie heidene van Tirus en Sidon toespreek, het hulle vir hom geskreeu dat hy ‘n god was, en dat tot hierna toe hulle hom bloot as ‘n mens eerbiedig het, maar dat van nou af hulle hom as ‘n bonatuurlike persoon sou vereer.  Natuurlik was daar ook ‘n groot maat van gevlei in hierdie woorde:  hulle wou hom laat voel dat hy in hulle oë dieselfde rank as die keiser geniet het.  En Herodes Agrippa, wat homself as die beskermer van die Joodse godsdiens beskou het, het niks gedoen om hulle te keer nie.  Die eer van Jahweh het skielik by hom tweede gekom.  Die skietlig was op hom, hy was in die kollig, as ‘n mens dit so mag stel.  “Satan self doen hom voor as ‘n engel van die lig”  herinner Paulus ons in 2 Korintiërs 11.  En hy voeg by:  Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie.  Aan die einde sal hulle kry wat hulle vir hulle dade verdien.”  Herodes Agrippa, ten spyte van sy beskerming van die  Joodse  godsdiens, wat hom by die Jode baie gewild gemaak het,  het presies in daardie kategorie geval:  ‘n dienaar van Satan, wat aan sy meester gehoor gegee het toe hy vir hom gefluister het:  “Jy sal soos God wees”.

 

 

2. Jesus se verheerliking in kontras hiermee

Maar, gemeente, hierdie selfverheerliking moet ons ‘n oomblik met Jesus se verheerliking op die berg vergelyk:  in Jesus se geval het ons die Messias, die goddelike koning, wat sy goddelike natuur slegs voor drie van sy dissipels openbaar.  Hy doen dit kort voordat hy na Jerusalem toe gaan, met die wete dat hy sy aardse missie daar sal voltooi.  “Op die berg, het sy voorkoms voor hulle oë verander; sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig” (Mat. 17:2).  En kort daarna, terwyl hy besig was om met Moses en Elia te praat, wat langs hom verskyn het, “het ‘n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ‘n stem uit die wolk het gesê:  “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek my verheug.  Luister na Hom.  Sien, dit is nie mense wat aan Jesus goddelikheid toeken nie. As sy voorkoms verander, is dit nie vanweëe ‘n oggend sonstraal wat op sy silwerklere ‘n besondere glans gee nie.  By hom is daar geen kunsmatige spesiale effekte, wat bedoel is om die menigte in ‘n amfiteater te oorbluf nie.  Sy goddelikheid is egte goddelikheid, dit kom van homself, van binne af, en word deur die stem van sy hemelse Vader bevestig.  Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, soos die geloofsbelydenis van Nicea dit stel.  Sy goddelikheid is ook nie iets wat hy wil of gaan gebruik om ander mense te onderdruk nie.  Inteendeel, hy gaan binnekort sy lewe vir sy dissipels gewillig weggee, op ‘n kruis, waar daar geen menigte gaan wees om hom as God te eerbiedig nie.  So lyk Jesus Christus se verheerliking op die berg:  dit is eintlik die voorspel van sy gruwelike dood op Golgota.  En omdat hy gewillig was om daardie pad te stap, “het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken:  “Jesus Christus is Here!” tot eer van die Vader.”   Wie op aarde, broers en susters, gaan die verspreiding van hierdie heerlike belydenis kan keer? 

 

‘n Paar jare na Jesus se verheerliking op die berg, sien ons wel ‘n aardse koning wat ‘n menslike verheerliking belewe.  Maar wat was sy beloning? In die ruim amfiteater van Sesarea het die inwoners van Tirus en Sidon geskreeu:  Dit is ‘n god wat praat, nie ‘n mens nie!”  Op daardie selfde oomblik het ‘n engel van die Here Herodes Agrippa getref, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie.  Hy is deur wurms verteer, en het gesterwe.  En so is hierdie sogenaamde god wat praat, deur ‘n engel tot stilte gebring, miskien dieselfde engel wat vir Petrus uit die tronk geneem het.  Volgens ‘n ander destydse geskiedskrywer, is Herodes Agrippa vyf dae na hierdie toneel, in ontsaglike groot magspyn dood. Oor die skielike val van hierdie koning skryf Calvyn die volgende, in sy kommentaar:  Dit lyk asof alles met Herodes goed gaan nadat hy die kerk so erg vervolg het.  Hy onderwerp ander nasies rondom hom deur hulle aan honger te laat ly.  Dit lyk asof God hom goed beloon het vir sy bose woede.  Vir die gelowiges was dit nie ‘n klein beproewing nie.  Miskien het hulle begin dink dat God nie vir hulle omgee nie.  En hulle was bang dat met sy groeiende mag, sy tirannie en wreedheid ook sou groei. Maar die Here het ‘n ander doel gehad, want hy het hierdie onderdrukker van die kerk so hoog geplaas juis sodat sy val groter sou wees.  Dus hierdie skynbare geluk en voorspoed waarin hy so groot behae gehad het, was vir hom net soos vir ‘n vetmaakdier, wat vet gemaak word, vir die dag van die slagting.  Op dieselfde manier, as ons vandag die bloeddorstige vyande van die kerk sien, wat lyk asof hulle deur hulle geluk tot in die hemel gedra word, moet ons nie mismoedig raak nie; ons moet eerder onthou van Salomo se woorde, in die boek Spreuke: “Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.”

 

3. God se Woord word verder versprei

Maar  die Woord van God het verder versprei en veld gewen”.  Die Grieks sê eintlik:  maar die Woord van God het aangehou om te versprei, die Woord het aanhoudend versprei.  Herodes Agrippa se dood was ‘n skielike een, niemand het verwag dat hy so siek sou word en binne vyf dae doodgaan, maar intussen het die Woord van God  aanhoudend gegroei en versprei.  Herodes is dood, maar die Woord van God lewe, en sy boodskappers is op die pad vorentoe.  Op ‘n stille wyse is Paulus,  Barnabas en Markus oppad Antiogië toe, omtrent vier honderd en vyftig kilometers noord van Jerusalem , om die Woord verder te gaan versprei.  Paulus se eerste sendingreis begin nou.  Tot nou toe, het Lukas hoofsaaklik die handelinge van Petrus aan ons vertel.  Van hoofstuk 13 af, sal Paulus op die voorgrond van die verkondiging van die Woord optree.  Soos in ‘n afloswedloop, dra Petrus die staf aan Paulus oor sodat, verder as Judea en Samaria, verder as Sesarea, die Woord van God tot Rome en selfs verder verkondig kan word.  Hierdie afloswedloop is beslis ook ‘n hekkieswedloop: die struikelblokke gaan nie klein of kort wees nie: vervolging sal nie minder word nie, maar eerder erger raak.  Tog gaan dit nie die verdere verspreiding van die Woord van God keer nie: want die hoofakteur van die boek Handelinge is nie Petrus of Paulus nie, maar die Heilige Gees self.  Wat vir die apostels teëspoed, hindernisse en swaarkry tydens hulle wedloop kon lyk (en hulle briewe is vol voorbeelde hiervan) is vir die Heilige Gees niks van die aard nie: want Hy is ver bo die hekkies verhewe, al is Hy die hoof wedloper.  Paulus kan dit met ‘n onwankelbare geloof aan die einde van die wedstryd aan Timoteus skryf, terwyl hy in ‘n Romeinse tronk in boeie sit, in afwagting vir sy teregstelling:  Vir hierdie Evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ‘n misdadiger, maar die Woord van God kan nie geboei word nie.”   Die voormalige vervolger van Christus se liggaam kon ‘n einde soos Herodes Agrippa  s’n beleef het: deur ‘n engel van die Here gestraf, deur wurms verteer.  Wat het hom mos van Herodes onderskei voordat die Here Jesus Christus hom op pad na Damaskus gekeer het?  Maar sy dood gaan nou ‘n diens aan God wees, die voltooing van sy dissipelskap agter die gekruisigde Koning, oppad na ‘n ewige lewe van heerlikheid saam met die verheerlikte Koning.

Ten slot

En ons, broers en susters, waar staan ons vandag in die wedloop? Hoe sterk staan ons geloof voor al die hekkies wat voor ons lê?  Wie se Woord beïndruk ons regtig in ons daaglikse lewe? Wie geniet ons aansien? Wie is die hoof onderwerp van ons gesprekke?   Is ons ook op dieselfde pad as Paulus hulle, sonder groot geluid, sonder glansende silwerklere?  Die Heilige Gees verseker ons dat terwyl ons op die pad is wat Hy vir ons aandui, Sy Woord verder versprei, en dat niks dit sal kan keer nie.  AMEN