PREEK OOR I TESSALONISENSE 1

(Handelinge 17:1-8)

(Eric Kayayan)

Tema:  Die Drie-enige God rus Sy Kerk toe vir die sending.

 

Inleiding:

Broers en susters, vir omtrent twee duisend jaar bely die Christelike Kerk dat die enigste ware God die Drie-enige God is:  Vader, Seun en Heilige Gees.  En God is die Een wat deur die eeue Sy Kerk beveel en aangespoor het om die goeie nuus van Sy Koninkryk te verkondig.  So sien ons ook dat Hy van die begin af die Kerk in Tessalonika toegerus het om ‘n kragtige getuienis te lewer.  Die geskiedenis van hierdie jong gemeente is inderdaad vir ons ‘n voorbeeld, want dit wys vir ons hoe enige Kerk wat met die Gees van God vervul is, behoort te wees:  ‘n sendende Kerk.  Die apostel Paulus het hierdie gemeente tydens sy eerste besoek aan Masedonië gestig, en in Handelinge 17  het ons gelees in watter vyandige omstandighede dié gemeente begin het.  Paulus het ten minste twee briewe aan hierdie jong gemeente geskryf, en die begin van hoofstuk 1 van sy eerste brief wys duidelik vir ons dat die geboorte van ‘n kerk soos dié van Tessalonika nie afhanklik was van die wil van een of twee mense, soos Paulus en Silas nie, al was hulle baie gemotiveerd, maar eerder van die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees wat magtig aan die werk is om Sy volk te vergader waar ookal Sy Woord verkondig word.  Dis Hy wat die Kerk van Tessalonika bymekaar gebring het en dis Hy wat hulle toerus en stuur op die veld van sy oes.

In ons teksgedeelte vind ons eintlik ‘n perfekte samevatting van die werk van die Drie-enige God wat aktief is om die verlossing van sondaar mense te bewerk.

1.      God die Vader  

Kom ons begin dan met God die Vader:  Dit is in Sy naam dat Paulus en sy medewerkers die gemeente begin groet, want hulle behoort aan Hom! “Aan die gemeente van die Tessalonisense, wat aan God die Vader, en die Here Jesus Christus behoort.”   Maar hoe is dit moontlik dat sondaar mense ooit aan God sou kon behoort?  Dit is ‘n wesenlike vraag, want dit is glad nie vanselfsprekend dat sondige en gebroke mense ooit aan die ewige en heilige God sal behoort nie!  Maar Paulus antwoord hierdie vraag binnekort, in vers 4, toe hy sê:  Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het”.   Dus, broers en susters, alles begin met die uitverkiesing van God, die Vader wat Paulus altyd vir die Tessalonisense dank.  Sonder God se uitverkiesing, wat alles voorafgaan, sou die Kerk van Tessalonika nooit die lig gesien het nie.  Om dié rede kan Paulus aan sy korrespondente skryf  God wat julle lief het”.  Die Ou Vertaling praat van die “broeders wat deur God bemin word”.   Hulle is bemin omdat Hy hulle liefgehad het voordat hulle enigiets aan Hom gegee het.  Hy het hulle in Sy soewereine uitverkiesing liefgehad.  En Sy liefde vir hulle word sigbaar bewys deur die gawe van die geloof in God, waarvan vers 8 praat, toe dit sê:  oral het die mense gehoor van julle geloof in God”.  Want, sê Paulus verder:  Julle het van die afgode julle bekeer en julle dien nou die lewende en ware God.”  Die vrug van God se uitverkiesing is dus bekering tot God, dit wil sê, die verwerping van die afgode wat valse en dooie gode is:  hulle is dood en beteken doodeenvoudig die geestelike dood van dié wat hulle dien.  Die Tessalonisense het weggedraai van hulle, en nou dien hulle die ware God.  Hierdie is die rede hoekom Paulus altyd God dank, soos ons in vers 2 lees.  Sonder ophou doen hy voorbidding vir hulle voor God die Vader, wat in Sy uitverkiesing hulle sy bemindes noem:  want Hy het hulle liefgehad deur die geloof aan hulle te skenk, sodat hulle sou ophou om dooie afgode te dien, en Hom, die lewende en ware God, sou dien.

2.      God die Seun

Maar die Seun, Jesus Christus, is ook saam met die Vader aan die werk:  dit is Sy Evangelie wat Paulus verkondig het.  En nou die gawe van die geloof  het gemaak dat die Tessalonissense nie net Paulus se voorbeeld gevolg het nie, maar eintlik volgelinge  van die Here Jesus Christus geword het, soos ons dit in vers 6 lees.  Om die Evangelie te aanvaar, om die Woord te ontvang beteken inderdaad om ‘n navolger van Jesus-Christus te word.  Dit beteken om Hom te volg as ‘n dissipel wat bereid is om allerhande beproewings deur te gaan, en selfs om hom op die pad van Golgota te volg.  Ons het saam gelees hoe die eerste beproewing van die Kerk in Tessalonika, plaasgevind het.  Die gemeente is pas gebore, en daar is alreeds vervolging.  Daar was seker nog ‘n paar ander groot beproewings op haar pad later, al kry ons net ‘n eggo daarvan in Paulus se brief.  Onthou ook wat Jesus self in Johannes 15, vers 20, aan sy dissipels gesê het:  ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie.  As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg.”    Ten spyte van hierdie beproewing het die Tessalonisense nie in hulle hoop gestruikel nie.  Om die waarheid te sê, in vers 3 onthou Paulus in besonder “die volharding van hulle hoop in Jesus Christus.”  In Hom, in die Seun wat die Vader vir die saligheid van die mense gegee het, is die hoop van die Tessalonisense geanker.  En in vers 10 word die inhoud van hierdie hoop vir ons duidelik uitgespel:  julle verwag sy Seun -wat Hy uit die dood opgewek het- uit die hemel, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.”  Hier word die Seun van God op sy naam genoem:  Dit is Jesus van Nasaret, en geen ander een nie.  Dis hy wat God uit die dood opgewek het, en wat terugkom om die mensdom te oordeel.  Maar die hoop van die Tessalonisense is juis dat hulle alreeds gered is van die oordeel wat kom.  Hierdie oordeel  sal dié tref wat nie Jesus, die Seun van die Vader, as hulle Heer en Koning aanvaar nie.

3.      God die Heilige Gees

Die Vader, die Seun, maar nooit sonder die Heilige Gees nie.  Die Evangelie sou nooit in die harte van die Tessalonisense deurgedring het, sonder die werking van die Heilige Gees nie:  “Want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, skryf Paulus in vers 5,   het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging.”  Sonder die Gees wat aan die gelowiges getuig dat Jesus Christus waarlik die Heer en die Verlosser is, kan geen bekering tot die lewende en ware God plaasvind nie.  Hy gee ‘n volle oortuiging, hierdie volharding in die hoop wat kenmerkend was van die Tessalonisense.  Maar die Gees doen nog meer:  Hy gee die vreugde, al is dit te midde van beproewings.  Luister weer na die tweede gedeelte van vers 6: “In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom.”  ‘n Vreugde wat anders totaal onverstaanbaar sou wees: want watter vreugde kan daar wees te midde van vervolgings, as God Sy kinders nie met die sekerheid van sy onuitspreeklike teenwoordigheid vervul nie?

 

4.      Die vrugte van die Kerk van Tessalonika

 

Hier het ons dus die jong Kerk van Tessalonika wat onder die beskerming van die Driemaal Heilige God verkeer.  Watter vrugte kan so ‘n Kerk dra?  Paulus en sy medewerkers meld hulle in die heel begin van die brief.  Dis eintlik dié vrugte wat maak dat hulle altyd God dank wanneer hulle in hulle gebede aan die jong Christene dink:  “Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.”  ‘n Geloof wat werk –nie ‘n geloof sonder werke nie- ‘n liefde wat inspan, en ‘n hoop wat volhard:  hier is die drie dinge wat bly, soos Paulus dit vir die Korintiërs uitspel in die bekende teksgedeelte uit I Korintiërs 13, vers 13:  En nou, geloof, hoop en liefde bly, hiedie drie.  En die grootste hiervan is die liefde!” 

Toegerus met hierdie kenmerke deur die Vader, die Seun en die Heilige Gees, word die jong Kerk van Tessalonika onmidellik dit wat enige ware Kerk moet wees, dit wil sê, ‘n sendende Kerk.  In vers 7 en 8 lees ons:  So het julle ‘n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje.  Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie.”  Die getuienis na buite toe, broers en susters, was nie vir hierdie jong gemeente iets geforseerd, of afgedwing nie.  Inteendeel kon die lewende geloof in die lewende en ware God nie anders as om duidelik en helder geproklameer te word nie:  hier sien ons  in besonder waaruit het die werk van hulle geloof en die inspanning van hulle liefde bestaan.  Hulle het nie voortdurend gepleit en gesoebat dat daar by hulle sendelinge moet kom bly nie, maar hulle het onmidellik ‘n sendende Kerk geword, tot so ‘n maat dat Paulus kan sê:  dit is nie vir ons nodig  om nog iets daaroor te sê nie.” 

En hier, broers en susters, moet ons ‘n oomblik stilstaan en diep gaan besin oor die rede waarom die Kerk ‘n sendende Kerk is, of anders is sy glad nie Kerk nie, ten spyte van al haar belydenisskrifte, die ordelikheid en die fatsoenlikheid van al haar doen en late. Kon ons keer terug na die fondament van ons Kerkwees, van ons Christenwees:  die Drie-enige God. Gestel een oomblik, broers en susters, slegs een oomblik, dat toe die Vader vir die Seun gevra het om vlees te word, en die pad van die kruis op aarde te loop ter wille van die saligheid van ‘n korrupte mensdom, gestel dat die Seun die volgende vir Hom sou geantwoord het:  “Maar Vader, hoekom moet ek op so ‘n pynlike sendingreis gaan?  U weet dat ek lief vir U is; dat ek van alle ewigheid met U een is en met U in volle gemeenskap leef; hoekom moet ek nou onder tollenaars en prostitute, en nog erger, onder sogenaamde Kerkmense gaan bly, wat voorgee om U te aanbid maar wat u gebooie van liefde nie aanvaar nie?  Hoekom moet ek as ‘n mens op die paaie van Galilea en Judea gaan stap sonder om te rus, en blootgestel word aan menigtes wat my nie as U Seun sal erken nie?  Hoekom moet ek deur Herodes en Pilatus verneder word?  Hoekom moet ek op ‘n kruis op die gruwelikste manier vasgespyker word?”  Ja, broers en susters, gestel een oomblik dat hierdie dialoog tussen die Vader en die Seun plaasgevind het:  dan was ek en julle nie vanoggend hier nie, besig om die lewende en ware God te aanbid nie…  Dan was ons almal soos die mense in die tyd van Noag, wat sonder vrees vir God geleef het, en wat almal deur die sondvloed vernietig is.  Maar dit is nie die dialoog wat tussen die Vader en die Seun plaasgevind het nie, want die Vader, die Seun en die Heilige Gees is mos Een in wese.  Daar bestaan nie teenstrydigheid binne die Drie-enige God nie!  In Filippense 2, van vers 5 af, lig Paulus ons in oor die Seun se antwoord op die Vader:  Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.  En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder.  Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”  Paulus het dié gedeelte met die volgende woorde begin:  Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.”  Daar lê, broers en susters, die hart van ons sendingopdrag.  Die Seun het in opdrag van die Vader in ‘n beslissende sendingreis gekom, wat die rede is hoekom u en ek gered word van die oordeel wat kom.  En nou, as volgelinge van die Here, gaan ons ook op ‘n sendingreis –waarookal die Here vir ons ‘n roeping stuur- ‘n sendingreis waartydens ons die goeie nuus van die Koninkryk verkondig.

Maar nou, gestel dat die liggaam van Christus, Sy Kerk, vir wie hy ‘n duidelike sendingopdrag gegee het, ‘n soort traak-my-nie agtigheid vertoon, en huiwer om aan die opdrag gehoor te gee.  Gestel die Hoof van die liggaam sê vir die hande:  Gaan dan na al die nasies en maak die mense my dissipels”  en die hande antwoord:  “Maar, o Hoof, u weet dat ons vir u lief en gehoorsaam is; hoekom moet ons vuil word met al die heidene wat rondom ons is, en onsself met hulle gaan bemoei terwyl ons niks van hulle  kultuur en denkwyse verstaan nie; kyk eerder hoe warm hou ons mekaar, en hoe lekker bid ons saam”.  So klink ongelukkig dikwels die antwoord van die liggaam op die opdrag van die Hoof, broers en susters.  Hoelank dink u sal die Hoof met Sy liggaam geduldig wees?  Sal hy nie die dooie en ongehoorsame takke afsny, en nuwe takke op Hom inent nie?  So het twee duisend jaar gelede ‘n nuwe tak in Tessalonika ontstaan, wat bestaan het uit mense wat voorheen afgode aanbid het, maar wat die ware en lewende God leer ken het in Jesus Christus.  En hierdie tak was onmidellik aan die opdrag van sy Hoof  gehoorsaam, bloot uit liefde vir haar Hoof, en met die blydskap wat van die Heilige Gees kom.

Ten Slotte

Broers en susters, mag ons gemeente deur die engele van God voor Hom geprys word soos Paulus die gemeente van Tessalonika geprys het:  ‘n Kerk wat deur God die Vader uitverkies is, wie se geloof in werke ontaard, wie se hoop op ons Here Jesus-Christus volhard, wat die Woord elke dag aanneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom.  Mag Rustenburg gemeente in woorde en in dade die heerlike Evangelie rondom haar oordra, “in afwagting vir die Seun uit die hemel, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom”.  AMEN .