PREEK OOR II KRONIEKE 20: 1-30

Eric Kayayan

Teks verse: 12, 15, 28

 

Tema:  Die God van die Verbond bewaar Sy volk deur die hele geskiedenis, en lei hulle tot hulle bestemming.

“Ons God, sal U hulle nie straf nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, te weerstaan nie.  Ons weet nie om wat te doen nie.  Ons oë is op U gerig.”

 “Luister, mense van Juda, inwoners van Jerusalem en koning Josafat!  So sê die Here vir julle:  Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie ‘n saak vir julle nie, maar vir God.”

 “Hulle is terug na Jerusalem, na die huis van die Here toe, met harpe, liere en trompette.”

 

Inleiding

Broers en susters, een van die baie kwelvrae waaroor ‘n mens kan wonder en eindeloos mediteer as dit jou een keer getref het, gaan oor die sin van die geskiedenis.  ‘n Vraag wat ook sentraal staan in die twee boeke van Kronieke in die Bybel.  Wat is die sin van geskiedenis?  Wat is die bedoeling van die honderde miljoene lewens wat voor ons op aarde verskyn het, en net so verdwyn het?  Is daar ‘n rigting in die chaotiese loop van gebeure wat sedert die begin van die mensdom soos ‘n wilde stroom mense, nasies, selfs beskawings saamsleep, meevoer soos blote slik en modder?  Lyk dit ook nie vir baie van ons asof ons huidige geskiedenis hier in Suid-Afrika net so chaoties ontvou, sonder dat ‘n vaste patroon aan ons getoon word om ten minste ietsie vir ons te gee om aan vas te klou nie?

 

Is geskiedenis dan net die groot teater van menslike lewe, die toneel waarop elkeen van ons sy kort verskyning kom maak?  En sodra jy op die toneel is, word jy weggestoot uit die toneel uit, asof die natuur vir jou ‘n stukkie vlees net vir oomblik geleen het.  Ja, asof die natuur as’t ware hierdie stukkie vlees terugeis om ander menslike liggame daaruit te ontwerp.  En so moet elke geslag plek maak vir die volgende een, want daar is nie genoeg plek vir almal op die toneel nie, en ook nie genoeg vlees vir almal nie.  Jou lot is dus om ‘n hopie stof te word sodat daaruit die blinde meganika van die natuur in staat sal wees om nuwe organiese lewe op die toneel te bring, in ‘n sinlose en eindelose siklus…

Ja, ons jong mense, wat so maklik dink hulle sal nooit doodgaan nie, moet maar gaan kyk in ‘n ouetehuis, om daardie proses te begryp.  Besef hulle dit?  Seker nie.  Maar nog ‘n oomblik, en dis hulle beurt om te gaan.  En as hulle nie lus is om in ‘n ouetehuis te gaan kyk nie, laat hulle maar die wêreld deurreis en daar gaan kyk.  Laat hulle byvoorbeeld Parys toe gaan en kyk in hierdie ondergrondse bedompige gange wat oop is vir besoekers, die sogenaamde catacombes, waar een-en-‘n-half-miljoen skedels van Parysenaars van die verlede mooi op mekaar gerangskik is oor twee of drie kilometers…  Daar in die stille dowwelig lê die geskiedenis van ‘n groot stad oor ‘n paar eeue.  Skedels wat lyk asof hulle vir jou gryns, asof hulle vir jou sê:  “jy is ook een van ons, jou beurt kom nou nou.  Soos enige iemand anders sal jy ook geskiedenis maak…”

 

Of moet die sin van geskiedenis op ‘n ander plek gevind word:  as jy in ‘n land aan bewind is, dan moet jy jou weermag goed betaal en sorg dat dissipline onder jou soldate heers, anders kom ‘n ander een aan bewind en dan moet jy vlug.  Maar leer ons ook nie uit geskiedenisboeke dat selfs die magtigste ryke tot ‘n einde kom nie?  Twee duisend drie honderd jare gelede het ‘n jong Masedoniër van twintig deur ‘n reeks militêre oorwinnings ‘n kolossale ryk vir homself gebou, wat van Griekeland af tot Indië uitgestrek het:  sy naam was Alexander die Grote.  Maar dertien jare na die begin van hierdie fenomenale veldtog, het hy doodgegaan, en sy ryk is onmiddellik verdeel.  Duisend jare later het ‘n ander man, Karel die Grote, ‘n ryk in Europa gebou.  Maar dertig jare na sy dood is sy ryk ook verdeel.  En nog duisend jare later het ‘n ander man die droom gehad om Karel die Groot se ryk te herbou en vir eeue te vestig :  sy naam was Napoleon.  En die groot ryk wat hy in vyftien jare gebou het, het ook in ‘n kort tydjie inmekaargeval.  Is die patroon van die geskiedenis dan dié van herhaalde pogings deur mense om ryke te bou wat nooit vir ‘n lank tyd bly bestaan nie?

 

Of is daar miskien deur die eeue ‘n onderliggende motief wat besig is om te groei, om onvermydelik op die voorgrond te kom, sodat dit uiteindelik aan die geskiedenis sy ware sin sal gee?  Die motief van demokrasie en menseregte wat, saam met vooruitgang, stadig maar seker die mense en nasies se lewens begin beheers:  dit sou dan die teken wees dat die mensdom ryp en volmaak geword het…  So het ‘n Amerikaanse denker ‘n paar jare gelede geredeneer, toe die Berlynse muur geval het.  Hy het gedink, en baie na hom, dat die val van kommunisme ‘n heel nuwe era in die geskiedenis van die wêreld begin.  Hulle het seker gedink dat wat in Suid Afrika gebeur het, ook krag by hulle argument sit.  Want demokrasie en menseregte het hier ook oorgeneem, nie waar nie?  En wat dan?  Wat gebeur as demokrasie en menseregte orals oorneem, en as almal met daardie waardes saamstem?  Wel, dan is dit dood eenvoudig die einde van geskiedenis, het hulle gesê, want daar is nie meer konflikte op aarde nie.  Daar is net vrede en harmonie.  And they lived happily ever after”.  Intussen het ons twee oorloë in Irak gehad, dié van Bosnië,  die volksmoord in Rwanda , die Elfde September, en soveel meer.  En wat menseregte betref in Suid Afrika, as die mense nie meer onderworpe is aan growwe menseregte skending deur die owerhede, hulle is op die paaie, op hulle plase of in hulle motors vermoor.  Is daar regtig ‘n verbetering?

 

Broers en susters, ek sou lank kon aangaan met so ‘n eentonige rympie, maar vandag openbaar God vir sy kinders waar die eintlike sin van geskiedenis lê:  in hierdie teks gee Hy vir ons die sleutel van so ‘n raaisel.  ‘n Sleutel wat slegs deur geestelike mense verstaan en gebruik kan word, want, soos Paulus in sy eerste brief aan die Korintiërs dit stel ( 2:13 -14):  “so verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het.  Die mens wat nie die Gees van God het nie aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie.  Vir hom is dit onsin.  Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word.  Maar so ‘n sleutel, broers en susters, kan slegs sy volle impak op ons gedagtes en op ons lewens hê, as ons al die verkeerde sleutels eers gebruik het en sonder hoop raak voor die raaisel van geskiedenis, totdat God Self vir ons blinde mense die deur oopmaak.  Daarvoor moet ons verstaan dat daar so iets bestaan soos geskiedenis, en ook probeer om daarvan sin te maak, soos die boeke van Kronieke dit doen:  want God se plan ontvou deur die loop van die mense se geskiedenis, nie op ‘n abstrakte of onwerklike manier nie.  Wat geestelik van aard is, is nooit abstrak of onwerklik nie, maar juis die teenoorgestelde.  Geestelik dui ‘n ander dimensie aan: dié van God se direkte ingryping in mense se lewens, en die erkenning daarvan.  Wat dan is hierdie sleutel, wat slegs geestelike mense vir hulleself kan toeeien? 

Die God van die Verbond bewaar Sy volk deur die hele geskiedenis, en lei hulle tot hulle bestemming.

 

Ja, geskiedenis is die tyd waartydens die God van die Verbond Sy volk op ‘n wonderbare manier bewaar en tot sy bestemming lei, te midde van die grootste gevare.  Dit, vir ‘n Christen, is die ware sin van geskiedenis, en niks anders nie.  En as u hierdie antwoord nie met u hele hart deur die geloof aanvaar nie, broer en suster, dan bly daar niks anders vir u, aan hierdie begin van ons eeu oor, as om te gaan peins vir die res van u dae oor die massagrafte van die twintigste eeu, verstom en sprakeloos van afgryse.  Gaan u sprakeloos bly, heeltemal sinies raak?  Sal u probeer om ‘n muur van onverskilligheid rondom uself te bou, sodat sekere pynlike vrae u nie te veel pla nie?  Of gaan u biddend, smekend op u knieë ‘n antwoord by die God van die Verbond soek?

 

Indien u die laaste van hierdie keuses beoefen, sal u nog ‘n paar vrae moet stel: Wie presies bewaar God, hoe doen Hy dit, en vir watter uiteindelike bestemming?  Hoe bid sy volk vir so ‘n bewaring, en hoe antwoord die volk op so ‘n bewaring?  Kom ons vra hierdie vrae saam, en kom ons probeer as geestelike mense die antwoorde uit die Skrif kry, onder die leiding van die Gees.

 

1.         Die gebed vir God se bewaring.

 

Wie presies bewaar God en hoe vra sy volk vir bewaring?  Broers en susters, Josafat het geweet dat hy en die volk hierdie keer min kans het om ongedeerd uit so ‘n groot bedreiging uit te kom:  hierdie keer was die koalisie teen Juda net te magtig.  En dis nie dat Josafat sorgeloos was, inteendeel:  in hoofstuk 17 lees ons dat hy ‘n weermag gehad het van een miljoen honderd en sestig duisend dapper soldate.  Darem iets om op staat te maak in oorlogstyd, nie waar nie?  En tog, hierdie keer sou dit van geen hulp gewees het nie.  Josafat, ‘n bekwame militêre leier weet: strategies gesproke is die situasie hopeloos.  Hy en die hele Juda agter hom is bang, en kom bymekaar by die Tempel om die Here om se hulp te smeek.  En hier, gemeente van ons Here Jesus-Christus, hier het ons die duidelikste beeld van God se volk:  bymekaar in God se huis, heeltemaal hulpeloos, afhanklik, smekend, biddend, afwagtend.  Hier, gemeente, het ons beslis voor ons oë die ware kerk van God:  geen arrogansie, geen skynvertoon, geen staatmaak op eie vermoëns, bekwaamheid, akademiese of professionele kwalifikasies nie.  Geen gearriveerdheid en selftevredenheid nie.  Ook geen lippegosdsdiens nie.  ‘n Volk wat staan iewers tussen God en die afgrond, voor ‘n moontlike vernietiging: “Ons God, sal U hulle nie straf nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, te weerstaan nie.  Ons weet nie wat om te doen nie.  Ons oë is op U gerig.”  Vir so ‘n volk antwoord God.  Want Josafat was nie ‘n aanhanger van lippegodsdiens nie: hy het voorheen die hele volk na Jahweh teruggebring en hy het gesorg dat regverdigheid in sy koninkryk regtig geskied.  In die vorige hoofstuk lees ons:  Van stad tot stad, in al die vestingstede van Juda, het hy regters in die land aangestel en hulle opdrag gegee:  “Let goed op wat julle doen, want julle oefen die regspraak uit nie vir mense nie, maar vir die Here.  Die verantwoordelikheid vir die reg rus op julle.  Mag die vrees vir die Here julle bybly!  Wees versigtig en doen julle plig.  By die Here ons God is daar nie onreg en bevoordeling en korrupsie nie.”  Ja, Josafat was ook nie onverskillig ten opsigte van die regte administrasie en regstelsel nie.  Die bepalings van Jahweh se verbond het hy ernstig opgeneem.  Daarom het God hom geantwoord in die nood.  Wat ‘n les vir ons vandag, as ons kyk na ons onlangse en huidige geskiedenis van onreg, bevoordeling en korrupsie, nie waar nie?  En omdat Josafat aan Jahweh se verbond gehoorsaam was in woord en daad, kon hy in sy gebed staat maak op die beloftes van hierdie verbond:  ‘n nederige gebed wat begin deur die soewereine heerskappy van God oor al die koninkryke van die nasies te bely.  Op grond van sy Goddelike regering het Jahweh een keer besluit om daardie land aan Abraham se kinders te gee, en nie aan die Ammoniete of die Moabiete nie.  Josafat bely dat God oor die mense se geskiedenis regeer.  Op so ‘n gebed antwoord die God van die Verbond.  Maar hoe presies antwoord God?

 

2.         Die manier waarop God so ‘n gebed beantwoord.

Uit die mond van ‘n profeet, Jagasiël, ‘n Leviet uit die nageslag van Asaf.  Hierdie detail is nie onbelangrik nie.  Asaf was die vader van Heman en Jedutun, wat Dawid vir ‘n besondere diens afgesonder het.  Hulle was mense wat onder begeleiding van liere, harpe en simbale as profete opgetree het, sê I Kronieke 25 vir ons.  Musiek het by die Tempel ‘n geweldige rol gespeel, nie net vir die kultiese seremonies nie, maar ook in verband met die uitspraak van profesieë.  Musikale spel het die uiterlike en innerlike klimaat geskep waarbinne God se wil aan sy woordvoerders die profete op ‘n geheime en wonderbare manier deur Sy Heilige Gees geopenbaar is.  Trouens die loop van die gebeure in hierdie dramatiese krisistyd sal soos ‘n groot liturgie ontvou, met sang, harpe, liere en trompette.  Asof elke beslissende oomblik te midde van musikale klanke sy plek moet inneem.  So wil God Sy antwoord aan die volk gee.  Want daardie klanke moet dien as ‘n weerklank van Sy almag en Sy glorie. 

En is God se antwoord nie verbasend nie?  “Luister, mense van Juda, inwoners van Jerusalem en koning Josafat!  So sê die Here vir julle:  Moenie vrees nie, moenie bang wees nie vir hierdie groot menigte, want hierdie oorlog is nie ‘n saak vir julle nie, maar vir God.”  Hoekom maak God Sy saak daarvan?  Hoekom hoef hulle nie te veg nie, maar net posisie in te neem en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir hulle?  Omdat God Self hier veg vir Sy eer.  Omdat min sulke gebede wat aanspraak gemaak het op Sy Verbond so naby was aan die manier waarop Hy aanbid wil wees.  En omdat die woorde wat die profeet Sagaria baie later uitgespreek het (2:8) hier perfek by die situasie pas:  “Wie aan julle vat, vat aan my oogappel”.  O mag die volk van God by elke geslag homself beskou as die oogappel van God, terwyl hy altyd God se Verbond in woord en daad gehoorsaam…  Watter troos sal dit dan nie vir elkeen van ons wees nie, gemeente van ons Here Jesus Christus…  Weet u, broers en susters, dat u God se oogappel is?  Jong mense, lewe u elke dag soos God se oogappel?  Ouer mense, laat hierdie gedagte u nie bewe nie?  Maar het u opgemerk hoe die Here vir Juda, sy oogappel, vra om hulle plek in te neem?  Hy sê nie vir hulle dat hulle die volgende oggend in die bed moet bly en laat slaap terwyl God aan die werk gaan wees nie, inteendeel:  die dapper manne is gewapen en die Leviete wat voorstap het hulle gewyde klere aangetrek.  Soos geestelike mense, beklee met die regverdigheid wat in die land geheers het, gemeente, gewapen met gehoorsaamheid aan God se Verbond.  Heilig beklee want die Here nooi hulle uit om ‘n heilige vertoning van Sy almag by te woon.  En Hy doen hulle ‘n goddelike guns: die guns om die musikale partituur van hierdie vertoning te speel…

 

Maar net so verbasend is die manier waarop die oorwinning behaal is.  Waar is die engel van die Here?  Ons hoor wel van hom later in hoofstuk 32 van dieselfde boek, toe Jerusalem deur Sanherib omsingel is: toe het die Here ‘n engel gestuur, wat elke soldaat en leier en offisiere in die kamp van die koning van Assirië doodgemaak het.  Maar hier niks van die aard nie:  Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle het die een neerlaag na die ander gely.  Toe val die Ammoniete en die Moabiete die inwoners van die Seïrberge aan en spaar niemand nie en roei hulle uit.  En toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar begin uitdelg”.  Miskien het interne twis die koalisie tot selfvernietiging gelei.  Miskien was daar so ‘n groot maat van gevoelens van geweld dat hierdie drie groepe nie kon wag totdat hulle hulle gesamentlike vyand ontmoet nie.  Ons sal nooit presies weet nie.

 

Maar wat ‘n geestelike les oor die geskiedenis van die mensdom, broers en susters!  Op die ou einde oefen die vyande van God se volk hulle beplande geweld oor hulleself uit, en word deur God so gestraf.  En al lyk dit baie keer asof hierdie geweld teenoor God se volk wel slaag (kyk maar na al die vervolging teenoor Christene wat vandag nog aan die gang is, in Soedan byvoorbeeld), uiteindelik bly die Kerk van Christus nog staande, terwyl sy vyande die een na die ander vir altyd verdwyn.  Dis hoekom ons vandag hier kan saam sit, saambid en rondom God se Woord mediteer, gemeente:  bloot uit die Genade waardeur die Here Sy kerk deur die geskiedenis bewaar het, terwyl die Hitlers en die Stalins van verlede eeu, wat God se volk heeltemaal sou uitgeroei het, as hulle kon dit gedoen het, die een na die ander verdwyn het, nadat hulle mekaar wou uitdelg. 

 

Seker sal u nou vra:  maar wat dan van die gelowige wat God wel aanbid het ten tye van vervolging en gevare, sonder dat ‘n wonderwerk soos dié waaroor ons vanaand lees, plaasgevind het nie?  Ja, hierdie vraag is op elkeen van ons se lippe, ons kan en ons mag dit nie vermy nie:  was daar nie gelowige mense onder die boerevrouens en kinders wat in die konsentrasiekampe doodgegaan het nie?   Was al hierdie mense, en so veel meer, dan nie God se oogappel nie?  Hoe het God hulle geantwoord?  Die enigste antwoord wat ons het, broers en susters, moet ook in die vorm van ‘n vraag gestel word:  Was God se enigebore Seun, Jesus Christus, nie vir die Vader veels belangriker as ‘n volk wat maar altyd bly sondig?  En tog het God Sy Seun nie gespaar nie, ter wille van ons mense.  Maar Hy het Hom nie gespaar nie juis om die grootste oorwinning van alle tye te behaal.  Christus se dood aan die kruis is ten volle deel van God se saak in Sy stryd teenoor die magte van die Bose.  En so is die onregverdige dood van elke gelowige deur die hele geskiedenis, deel van God se saak.  Ons God, sal U hulle nie straf nie?”  Hy sal hulle straf, net soos Hy die Satan dodelik gestraf het op die dag van Christus se opstanding.  Maar voor die opstanding kom die kruis.  Een keer het Calvyn aan ‘n vriend geskryf, toe baie slegte nuus vir die Protestante gekom het:  hulle het ‘n beslissende veldslag verloor wat die bestaan van die hele Hervorming in ‘n lewensgevaar gestel het.  Hy het gesê:  “Tot sover het ons altyd onder die vaandel van Jesus Christus se opstanding geveg.  Maar nou sal ons moet leer om onder die vaandel van Sy kruis te veg”.  Ja, die vaandel van die kruis lei God se volk beslis tot sy bestemming, uit die graf uit; daarom sal ons ook moet leer om daardie vaandel te volg as God dit vir ons stuur vir ons huidige stryd.  Maar wat presies is hierdie bestemming?

 

3.      Die eindbestemming van God se volk.

 

Dit is niks anders as God se huis.  In ons teks was die Tempel Juda se vertrekpunt, dit bly ook sy eindbestemming:  Al die manne van Juda en Jerusalem, met Josafat aan die hoof, is toe met groot blydskap terug Jerusalem toe.  Die Here het hulle bly gemaak oor hulle vyande.  Hulle is terug na Jerusalem, na die huis van die Here toe, met harpe, liere en trompette.”  Verder het “Josafat se heerskappy rustig voortgegaan, en sy God het hom na alle kante toe rus gegee.”  Josafat, in sy gebed, het gepraat van die land waar hulle gewoon het as ‘n “blywende besitting wat deur God aan hulle gegee is”.  En God het hierdie besitting bevestig, deur en na die oorwinning.  Maar na Christus het hierdie “blywende besitting” ‘n heel nuwe dimensie aangeneem, net soos God se huis ‘n nuwe dimensie gekry het.  Ons eintlike bestemming is ook ‘n beloofde erfenis:  die nuwe hemel en die nuwe aarde waarvan die boek Openbaring praat.  Die koms daarvan is ook die finale bestemming van die mensdom se hele geskiedenis, nie die ryke wat mense probeer bou en wat die een na die ander uiteenval nie.  Daarom moet u, broers en susters, ‘n heel nuwe perspektief kry oor ons huidige geskiedenis, as u môreoggend u koerant lees, of ‘n nuusberig oor die radio hoor.  Spurgeon het eenkeer gesê:  “Ek lees my koerant om te sien hoe God die wêreld regeer”.  In al die dade van u lewe moet u uself beklee met regverdigheid, nederigheid, in gehoorsaamheid aan die Verbond wat Christus met Sy bloed kom sluit het.  Gaan neem u plek in die samelewing in, (moet nie laat slaap nie), maar doen dit beklee met gewyde klere, bewapen met geestelike wapens, om te getuig van die reg, van die waarheid, van God se soewereiniteit oor alle dinge en die versoening wat Hy in Christus bewerk het.  So sal U, as geestelike mens U profetiese rol in die samelewing vervul, onder die leiding van die Heilige Gees:  So sal U verkondig in woord en daad wat die ware sin van die geskiedenis is.  Die Gees sal u in staat stel om te wys dat u weet wat u eindbestemming is en waarheen die wêreld op pad is.  En dié is nie ‘n klein ding nie broers en susters, veral in ‘n wêreld wat so maklik die indruk skep dat chaos die finale werklikheid is.  Maar U weet beter:  daarom, maak ook van u lewe ‘n groot liturgie waar musiek u lei om agter Jesus-Christus se vaandel te veg.  Hierdie vaandel sal u lei tot die heerlike erfenis wat God vir Sy volk voorberei het.  Want ander veg ook vir en met ons.  So lees ons in Openbaring, hoofstuk 19:

Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aangery.  Hulle het fyn, helder wit klere aangehad.  Uit sy mond het daar ‘n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met ‘n ystersepter regeer.  Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige.  Op sy klere, by sy heupe, was daar ‘n Naam geskrywe:  Die Koning van die konings en die Here van die heersers.”

AMEN