Preek oor Matteus.
5:17
-20 & Johannes 8: 1-11
(
Eric Kayayan)
Tema:
Jesus-Christus het nie gekom om die Wet en die profete te ontbind nie,
maar om hulle te vervul.
Inleiding
Die
verhouding tussen die Wet en die Evangelie, broers en susters, staan sentraal in
ons begrip van die Christelike geloof. Wie
nie hieroor wil dink en mediteer nie, wie nie belangstel om dié begrip
geestelik te begryp en aan te gryp nie, weet nie regtig waaroor dit in die
Christelike geloof gaan nie. Dit
maak ook geen sin om Kersfees te vier, as ons Jesus se missie op aarde nie
volgens sy eie woorde verstaan nie: “Moenie
dink dat ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie.
Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.”
Gedurende sy bediening onder ons, het Jesus nie opgehou om vir sy
dissipels van hierdie vervulling te praat nie.
Sulke uitsprake is nie net te vinde in die evangelie volgens Matteus, wat
‘n sterk band met die Ou Testament het nie, maar ook in die Markus, Lukas en
Johannes evangelies. Byvoorbeeld, in
Lukas 18:31, verkondig Jesus op die volgende manier aan sy dissipels dat hy gaan
ly: “En
Hy het die twaalf by Hom geneem en vir hulle gesê:
Kyk, ons gaan op na
Jerusalem
, en alles
wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die mens vervul word.” So
sterk staan dit eintlik in Jesus se eie opvatting van sy taak hier op aarde, dat
sy laaste woorde op die kruis, volgens Johannes, is juis “dit is volbring”, met ander woorde, die vervulling van die wet en
die profete waarvan hy in die begin van sy bediening gepraat het, is nou
voltooi. Kort hiervoor het Johannes gemeld dat “omdat Hy geweet het dat alles al volbring was –sodat die Skrif vervul
sou word- het Jesus gesê: Ek het
dors!” Na sy opstanding doen Jesus besondere moeite met twee van sy
dissipels wat heeltemaal verwaarloos was en die Evangelie nog nie verstaan het
nie. Hy sê toe vir hulle:
“Wat ‘n gebrek aan begrip en
wat ‘n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê
het nie? Moes die Christus nie
hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?
Daarna het hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake
wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.”
Inderdaad, broers en susters, ‘n Jesus wie se missie op aarde nie
volgens sy eie woorde verstaan en met geloof aanvaar word nie, is van geen nut
ookal vir my en vir u. Die idee van
liefde wat aan sy persoon gewoonlik geassossieer word, het dan geen reddende
krag nie. So ‘n algemene liefde
verskil nie wesenlik van dié wat ons in ander groot historiese figure sien,
soos die Mahatma Gandhi, of ander mense nie.
So ‘n liefde bly sekerlik voorbeeldig, maar dit
kan
ons geensins nader
aan God bring nie. Trouens, as ons
die liefde van Christus nie verstaan (of nie wil verstaan) as
vervulling van die Wet en die profete ter wille van versoening tussen God en ons
nie, dan word sy voorbeeld, wat ons op ons eie probeer nastreef, slegs ‘n
bevestiging van die oordeel van die Wet teenoor ons, bloot ‘n reuk van die
ewige dood. Want dan probeer ons om
die Wet in eie krag te vervul, en ons mislukking in hierdie poging is
gewaarborg…
1.
Dit is Satan wat die Wet wil ontbind.
Tog
is dit opvallend om op te merk hoe sterk, ja selfs onder Christene, die
opvatting dat Jesus gekom het om die Wet te ontbind eerder as om dit te vervul,
na vore kom. Vir baie
lyk dit amper onaanvaarbaar dat God se Wet nie ontbind moet word nie,
maar eerder vervul. ‘n Geloof in
die morele vooruitgang van die mensdom is so sterk in die moderne mentaliteite
ingegrawe, dat die bepalings van die Wet wat van bo-af kom vir baie
onaanvaarbaar geword het. Ons moet selfs vir ons afvra, broers en susters, of
die wetteloosheid wat in Suid Afrika tans heers, nie deels te wyte is aan die
nalatigheid van die kerke om oor die Wet suiwer te praat en te preek nie.
Dieselfde
kan
gevra word in
verband met dit wat onder die vorige politieke bedeling in hierdie land gebeur
het. Sewe en sewentig persent van ‘n bevolking wat nie ordentlik aan God se
Wet gehoor gee nie,
kan
nie anders as om
destruktiewe neweeffekte op die breë samelewing hê nie, al is kerkgangers
selfs nie noodwendig die misdadigers nie. Die
moderne mens verkies eerder om Jesus te misbruik en van hom ‘n figuur van
emansipasie teenoor die Wet te maak, ‘n Jesus wat gekom het om vir ons te wys
dat ons maar volwasse mense geword het, en nie meer die Wet in ons lewe nodig
het nie. Daardie sogenaamde Jesus,
gemeente, herinner ons veel eerder aan die Satan, toe hy onder die vorm van die
slang aan Adam en Eva geïnsinueer het: “Julle
sal soos God wees, geëmansipeerd, waarlik vry, nie meer gebonde nie.
Julle sal die goed en die kwaad selfs kan bepaal, sonder om aan God se
Wet te moet gehoorsaam nie…Dit is nou vooruitgang! Daarom moet julle van
hierdie ou, primitiewe, onbenullige beperking rondom die boom van die kennis van
goed en kwaad, ontslae raak; moet dus nie huiwer om van die vrug te eet
nie…” Sien, terwyl Satan
homself die advokaat maak van bevryding teenoor God se Wet, deur
ongehoorsaamheid, loop Jesus die absolute teenoorgestelde pad:
as die Seun van die mens, -‘n mens soos ons-, gehoorsaam en voltooi hy
in alles sy Vader se wil, om ons te bevry van die oordeel wat op ons lê, weëns
ons eie ongehoorsaamheid; sodoende herstel Jesus ons voor God en maak van ons
nuwe skepsels wat nou uit dankbaarheid gewillig is om aan God se heilige Wet te
gehoorsaam. Jesus kom om hierdie
woorde oor die nuwe verbond te voltooi wat ons in Jeremia hoofstuk 31, vers 31
lees: “Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met
Israel
sal sluit, sê die Here: Ek sal my
wet op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê.
Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”
2.
Wat sê die Wet in die geval van owerspel?
Dit
is presies wat die verhaal van Johannes 8 vir ons vertel.
Aan die een kant illustreer dit baie goed wat die vervulling van die Wet
deur Jesus beteken. Aan die ander
kant is dit ook ‘n goeie voorbeeld van die verdraaing wat aan God se Woord
deur Satan aangebring word. Die
skrifgeleerdes en die Fariseërs het gekom om Jesus uit te lok, sodat hulle iets
kon kry waaroor hulle Hom kon aankla, sê vers 6.
Tog het Jesus vroeër aan Satan geantwoord, tydens sy versoeking:
“Daar is gesê:
Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie”.
Dat Satan hier nog sy
kans
vat, is duidelik
uit die feit dat die skrifgeleerdes uit die Skrif aanhaal, maar op ‘n
verwronge manier (presies soos wat die slang in Genesis 3 gedoen het).
Kom ons kyk saam na die hele episode:
hulle bring ‘n vrou wat op owerspel betrap is.
Dan sê hulle: “Moses
het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?”
Dit is hier duidelik dat hulle wil vir Jesus iets laat sê wat teen
Moses se woorde sal gaan. Hulle wil
spanning tussen sy woorde en die woorde van die Torah laat voorkom.
Hoe sal hy dan homself teen
die aanklag dat hy juis probeer om die wet te ontbind,
kan
verdedig?
Hoe sal hy
kan
bewys dat hy die
Messias is, aangesien hy die Skrif ontken? Dit
is nou die lokval. Maar let op die
verdraaing van die aanhaling. Ons
moet die bepalings van die Wet in die boeke Levitikus en Deuteronomium gaan
naslaan. Eerstens Levitikus 20:10:
“As iemand owerspel doen met ‘n
man se vrou, owerspel doen met sy naaste se vrou, moet hy en sy wat owerspel
doen, sekerlik gedood word”. Dan
uit Deuteronomium hoofstuk 22, verse 22 tot 27:
“As ‘n man betrap word terwyl hy met ‘n getroude vrou gemeenskap het,
moet hulle altwee sterwe: die man wat met die vrou gemeenskap gehad het, en die
vrou. So moet jy dan die kwaad uit
Israel
uitroei. As ‘n dogter, ‘n jong
meisie, aan ‘n man verloof is, en iemand kry haar in die stad en hou met haar
gemeenskap, dan moet julle hulle twee na die poort van dié stad uitbring en
hulle stenig, dat hulle sterwe; die dogter, omdat sy in die stad nie geskreeu
het nie, en die man, omdat hy die vrou van sy naaste onteer het.
So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
Maar as die man die verloofde dogter in die veld kry en die man haar
aangryp en met haar gemeenskap het, moet die man wat met haar gemeenskap gehad
het, alleen sterwe; maar aan die dogter moet jy niks doen nie:
daar is in die dogter geen sonde wat die dood verdien nie; want soos
wanneer ‘n man teen sy naaste opstaan en hom doodslaan, so is hierdie geval.
Want hy het haar in die veld gekry; die verloofde dogter het geskreeu,
maar daar was niemand om haar te help nie.”
So
lui die heilige Wet van die Here, wat betref die geval van owerspel.
God het geëis dat in sy teenwoordigheid, voor sy heiligheid, die
egbrekers gedood word, want egbreuk of owerspel is ‘n ontheiliging van sy Naam
en mag nie onder sy verbondsvolk gepleeg word nie.
Let wel daarop dat laasgenoemde bepaling het van verkragting ‘n misdaad
gemaak wat die doodstraf op die misdadiger gebring het.
Die Wet van die Here het nie grappies met die verkragting van vroue
gemaak nie. Let ook daarop dat daar ‘n besondere maat van beskerming oor die
vrou toegepas is, aangesien slegs
die man gestenig sou word as die daad in die velde plaasgevind het; al was sy
gewillig om gemeenskap met hom te hê, omdat daar vermoed kan word dat sy sou
geskreeu het, maar niemand sou haar gehoor het nie, is sy as onskuldig beskou.
(‘n Mens sou amper kon beweer dat in so ‘n geval, daar teen die man
gediskrimineer is!)
3.
Hoe verdraai die Skrifgeleerdes Moses se Wet?
Maar
nou wat sien ons in Johannes 8? Die
skrifgeleerdes en die Fariseërs bring slegs die vrou wat in owerspel betrap is.
As sy op heter daad betrap is, moes uit die aard van die saak die man wat
met haar owerspel gepleeg het, ook betrap gewees het.
Waar is hy? Die
skrifgeleerdes en die Fariseërs diskrimineer teen die vrou, en haal net die
helfde van Moses se wet hier. Hulle
is diegene wat op so ‘n manier die Wet ontbind!
Jesus weet dit baie goed. En
hy bly stil. Hy buk neer en skryf
iets op die grond. Wat skryf hy?
Ons weet nie. In elke geval, in so ‘n oomblik hoe kan hy nie herinner
word aan die versoeking van Satan, in die woestyn, wat ook die Skrif aangehaal
het, nie om God te verheerlik nie, maar om sy gesalfde op die proef te stel nie?
Jesus bly stil. Ons sal hom
nooit iets afbrekend oor die Wet hoor sê nie, hetsy nou of op ‘n ander tyd.
Hy sal byvoorbeeld nooit beweer dat die Wet wreed is, en dat dit hoogtyd
is om sulke primitiewe bepalings af te skaf nie.
‘n Ander keer, toe hy deur dieselfde mense oor egskeiding gevra is, het
hy eerder gesê: “Dit
is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle
vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie.”
Vir Jesus is dit nie die Wet wat hard, of wreed is nie, dit is die
mens se bose hart wat alle kwaad bedink en uitvoer.
Nee, Jesus maak nie die Wet sagter nie, en hy maak ook nie van sondaars
mense wat minder skuldig aan oortreding teenoor God en die naaste is nie.
Inderwaarheid, in die bergprediking het hy die mensdom nog baie strenger
geoordeel, en die sondes wat diep in hulle hart lê, blootgestel:
“Julle het gehoor dat daar gesê is:
jy mag nie egbreuk pleeg nie. Maar
ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n
vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg”.
Dit is heel moontlik, broers en susters, om aan die eise van die
sewende gebod letterlik te voldoen, maar wie
kan
met ‘n onskuldige
gewete voor so ‘n stelling staan?
En as dit die geval is, moet ons dan aanvaar dat voor God se heiligheid
elkeen van ons voor sy of haar eie doodstraf staan.
4.
Hoe reageer Jesus?
Jesus
bly stil. Hierdie stilte, gemeente,
gee nog ‘n
kans
vir die aanklaers,
die beskuldigers, om hulle eie gewete te toets;
is hulle motiewe suiwer wanneer hulle hom ondervra? Is hulle regtig
besorgd oor die regverdige toepassing van die Wet wanneer hulle dit aanhaal?
Soek hulle regtig God se eer in daardie oomblik?
Kan
hulle met die
gesindheid wat hulle nou vertoon, in die Koninkryk van God ingaan?
Wat ons, mense van die nuwe Verbond, betref, kom ons gee gehoor aan die
woorde van Jesus in Matteus 5:20: “Want
ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die
Skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die Koninkryk van die hemele
sal ingaan nie.”
Maar
nee, die harde harte verander nie, die onsuiwer motiewe bly dieselfde, die
gewete van die skrifgeleerdes en die Fariseërs pla hulle glad nie. Hulle hou
aan met hulle lokval. Toe staan Jesus op en dié keer konfronteer hy hulle met
hulle eie gewete op ‘n beslissende manier:
“Laat dié een van julle wat
sonder sonde is, die eerste klip op haar gooi.
En weer het Hy neergebuk en op die grond geskrywe”.
Laat dan die Wet toegepas word. Maar
daardie Wet sal ook toegepas word op diegene wat hulleself as onskuldig beskou.
En skielik begin iets deur die gewetens van die aanklaers deurdring.
Hulle ook sal voor God rekenskap van hulle woorde, dade, gedagtes moet
gee. Die posisie van streng rigters
wat hulle, as kenners van die Wet, aan hulleself toeken, sal dan omgedraai word.
“En toe hulle dit hoor, het hulle
deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste
toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in
gestaan het.” Hier, broers en
susters, het ons in die stilte van daardie toneel, ‘n besondere moment van
waarheid. Want wie anders as
Jesus-Christus kon van homself gesê het: “Ek
het nie sondes nie, ek
kan
die eerste klip gooi”. Hy
is die enigste een wat dit ten volle reg kon gedoen het.
Hy het tog sy Vader se wil volkome gehoorsaam, het hy nie?
Maar hy sal nie die eerste klip gooi nie.
“En toe Jesus hom oprig en
niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar:
Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou?
Het niemand jou veroordeel nie? En
sy antwoord: Niemand nie, Here.
En Jesus sê vir haar: ek
veroordeel jou ook nie.” ‘n
Wonderwerk het hier plaasgevind: nie net is sy deur haar beskuldigers nie
gestenig nie, maar die enigste een wat ten volle reg die eerste klip kon gegooi
het, laat haar ook gaan. Sy is uit
‘n besliste dood op hierdie toneel losgekoop.
Gaan dan niemand die prys betaal vir haar sonde nie?
Gaan dan die Wet nie toegepas word nie?
Nee, broers en susters: die
Wet en die straf wat op haar moes gekom het sal deur Jesus op die Kruis gedra
word; Hy, die onskuldige wat in die posisie van
die ware rigter voor God staan, sal haar vonnis en ook elkeen van ons se
vonnis op Homself dra. Op so ‘n
manier sal die Wet en die profete vervul word en God se regverdige oordeel
toegepas word… “Moenie dink
dat ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie.
Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul”.
Ten
slot
Maar
losgekoop, in God se woordeskat, beteken nie net klaarbetaal nie.
Sy Genade strek nog baie verder: hy maak van ons nuwe skepsels wat nou,
uit dankbaarheid gewillig is om aan sy heilige Wet te gehoorsaam:
“Gaan heen, en sondig nie meer
nie”, sê Jesus aan die vrou. Hy
druk die Wet op die beste en die mooiste manier uit:
gaan heen op ‘n nuwe pad en moenie sondig nie, maar gehoorsaam jou
Vader wat jou in Christus vergewe het, en wat jou met sy Gees toerus. Die
essensie van die Wet, broers en susters, is dat ons
God met ons hele hart, ons hele siel, krag en verstaan moet lief hê, en
ook ons naaste soos onsself. So het
Jesus Christus vir ons geleer. Die
Wet van Moses het nie ‘n ander doel gehad, as om dit in die hart van
Israel
deur te dring.
Die strawwe wat in die Wet genoem word is nie die essensie van die Wet
nie, asof God ‘n behae skep in die straf van die sondaar.
“Het Ek dan miskien ‘n behae in die dood van die goddelose? spreek die
here Here. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?”
lees ons in Eségiël 18:23. Maar
die harde harte van die ongehoorsame mens het dié strawwe nodig gemaak, beide
ten behoud van die eer van God binne sy Verbondsvolk, en ten beskerming van die
sosiale lewe van die Verbondsvolk. Ons
is wel van ons sondes vrygespreek, broers en susters, maar ons is hoegenaamd nie
vrygestel om steeds die Wet as Woord van God te lees en oor te mediteer nie.
Natuurlik eerbiedig ons die Wet in die lig van Christus se vervulling
hiervan; dit wil sê: vervulling van sy eise vir ons, maar hoegenaamd nie
ontbinding van sy eise nie. Daarom kan ons wel sê, saam met die Nederlandse
geloofsbelydenis: “Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te
gebruik oms ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle
eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.” Oor
die band tussen die Wet en die Evangelie, skryf Calvyn in sy kommentaar oor Mat.
5: “Kom ons leer om hierdie
heilige band tussen die Wet en die Evangelie onbreekbaar te handhaaf, wat baie
sonder enige rede verbreek. Dit is
baie belangrik om die gesag van die Evangelie te bevestig, wanneer ons verstaan
dat dit niks anders is as die voltooing van die Wet, sodat altwee testamente in
ooreenkoms met mekaar vir ons wys dat God alleen hulle outeur is.”
Hier,
gemeente moet ons ‘n oomblik stilstaan en God se Woord gaan toepas aan die
hand van wat in die wêreld gebeur. Ons
het almal gehoor hoe in Nigerieë ‘n jong vrou, Amina Lawal, deur die Sharia
– d.w.s. die Islamitiese wet – nog onlangs ter dood veroordeel is weëns
‘n buiteegtelike kind wat sy verwek het. Streng
gesproke, volgens haar regters, behoort
sy gestenig te word. Dat so ‘n
straf vir ons almal -volgens ons Westerse sensitiwiteit en opvattings- gruwelik
is, is ‘n feit. Die mense wat
probeer druk oefen sodat hierdie wrede doodstraf
nie toegepas word nie, doen dit aan die hande van menseregte. (Daar is
baie juridiese aspekte an die saak verbonde, soos die vraag of ‘n Nigeriese
hof
godsdienstige reg
mag toepas, die diskriminasie van die Sharia wette teenoor vroue –presies soos
wat die Fariseërs gedoen het- ens.) Christene ook behoort hier aktief te wees.
Maar as Christene moet ons beslis vir onsself afvra wat die grondlegging
van ons oortuiging hieroor is.
Hoekom is ons beswaard teenoor hierdie straf?
Bloot omdat ons glo dat elkeen die reg het om te lewe soos wat hy wil,
ongeag wat God se uitgesproke wil is? Asof sy heiligheid met verloop van tyd
afgestomp geword het, te danke aan die morele vooruitgang van die mensdom waarop
die moderne mens so trots is? Nee.
Die Ewige God se eise teenoor die mens is vandag dieselfde as gister. Eerder
ons doen dit omdat ons na Amina Lawal kyk met dieselfde oë as ons Here
Jesus-Christus, wat deur die vervulling van die Wet en die profete ‘n nuwe
tydperk in die mens se geskiedenis geopen het: die tyd van God se besondere
geduld en genade; die tyd waartydens al die nasies geroep word om onder die
sagte juk van Jesus-Christus hulleself te kom plaas; die tyd van ware berou oor
ons almal se oortredings teenoor God se Wet. Die tyd om op te hou dink dat ons
“reg” voor die oë van God is asof ons die toets van God se heiligheid deur
ons eie lewenstyl en pogings ooit sou kon deurstaan; want “almal het
gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word,
sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die
verlossing deur Jesus-Christus’ (Rom. 3:23-24). Amina het onvoorwaardelik
die reg om te hoor dat Jesus haar skuld op homself geneem het, en dat sy van nou
af deur die geloof in haar Verlosser
kan
lewe.
Van daardie mees fundamentele reg en voorreg word sy deur haar Moslem
regters ontneem. Christene moet die afskaffing van Amina se doodstraf op hierdie
grond bepleit, wat nie slegs tot die hier en nou van die lewe betrekking het
nie, maar tot die ewige karakter van die lewe. Ja, ook hier en nou, maar van nou
af tot in ewigheid. Daardie grond
motiveer ons ten sterkte om hoog en duidelik te praat, sonder bang te wees dat
ons opvattings as outyds of irrelevant afgemaak sal word. Christus moet altyd
sentraal bly in ons motiewe. Sy Gees laat ons praat in ooreestemming met sy eie
woorde, nie op enige ander grond nie. Dit plaas natuurlik ‘n besondere
verantwoordelikheid op die Kerk van Jesus-Christus om die Evangelie van
vergiffenis en versoening met God te gaan verkondig, op grond van die gruwelike
dood wat Jesus op die Kruis van Golgotha verduur het, ja, wat in ons plek die
angste van die hel tot in die dood ondergaan het.
Daardeur
is ons met God versoen. Deur sy Gees
gee Hy sy wet in ons binneste en skrywe dit op ons hart.
Hy is ons God, ons is sy volk, en hy regeer ons deur Jesus Christus, wat
nie net die Wet en die profete vervul het nie, maar wat ons Wet geword het.
In Hom, ons redder en ons Wet, is
ons ingelyf, sodat Hy nou vir ewig in ons woon, deur sy Gees,
tot grootste eer van God.
AMEN
.