Preek oor Matteus. 5:17 -20  & Johannes 8: 1-11

( Eric Kayayan)

 

Tema:  Jesus-Christus het nie gekom om die Wet en die profete te ontbind nie, maar om hulle te vervul.

 

Inleiding

Die verhouding tussen die Wet en die Evangelie, broers en susters, staan sentraal in ons begrip van die Christelike geloof.  Wie nie hieroor wil dink en mediteer nie, wie nie belangstel om dié begrip geestelik te begryp en aan te gryp nie, weet nie regtig waaroor dit in die Christelike geloof gaan nie.  Dit maak ook geen sin om Kersfees te vier, as ons Jesus se missie op aarde nie volgens sy eie woorde verstaan nie:  Moenie dink dat ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie.  Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.”  Gedurende sy bediening onder ons, het Jesus nie opgehou om vir sy dissipels van hierdie vervulling te praat nie.  Sulke uitsprake is nie net te vinde in die evangelie volgens Matteus, wat ‘n sterk band met die Ou Testament het nie, maar ook in die Markus, Lukas en Johannes evangelies.  Byvoorbeeld, in Lukas 18:31, verkondig Jesus op die volgende manier aan sy dissipels dat hy gaan ly:  En Hy het die twaalf by Hom geneem en vir hulle gesê:  Kyk, ons gaan op na Jerusalem , en alles wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die mens vervul word.”  So sterk staan dit eintlik in Jesus se eie opvatting van sy taak hier op aarde, dat sy laaste woorde op die kruis, volgens Johannes, is juis “dit is volbring”, met ander woorde, die vervulling van die wet en die profete waarvan hy in die begin van sy bediening gepraat het, is nou voltooi. Kort hiervoor het Johannes gemeld dat “omdat Hy geweet het dat alles al volbring was –sodat die Skrif vervul sou word- het Jesus gesê:  Ek het dors!” Na sy opstanding doen Jesus besondere moeite met twee van sy dissipels wat heeltemaal verwaarloos was en die Evangelie nog nie verstaan het nie.  Hy sê toe vir hulle:  Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie?  Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?  Daarna het hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.”  Inderdaad, broers en susters, ‘n Jesus wie se missie op aarde nie volgens sy eie woorde verstaan en met geloof aanvaar word nie, is van geen nut ookal vir my en vir u.  Die idee van liefde wat aan sy persoon gewoonlik geassossieer word, het dan geen reddende krag nie.  So ‘n algemene liefde verskil nie wesenlik van dié wat ons in ander groot historiese figure sien, soos die Mahatma Gandhi, of ander mense nie.  So ‘n liefde bly sekerlik voorbeeldig, maar dit kan ons geensins nader aan God bring nie.  Trouens, as ons die liefde van Christus nie verstaan (of nie wil verstaan) as vervulling van die Wet en die profete ter wille van versoening tussen God en ons nie, dan word sy voorbeeld, wat ons op ons eie probeer nastreef, slegs ‘n bevestiging van die oordeel van die Wet teenoor ons, bloot ‘n reuk van die ewige dood.  Want dan probeer ons om die Wet in eie krag te vervul, en ons mislukking in hierdie poging is gewaarborg…

 

1. Dit is Satan wat die Wet wil ontbind.

Tog is dit opvallend om op te merk hoe sterk, ja selfs onder Christene, die opvatting dat Jesus gekom het om die Wet te ontbind eerder as om dit te vervul, na vore kom.  Vir baie  lyk dit amper onaanvaarbaar dat God se Wet nie ontbind moet word nie, maar eerder vervul.  ‘n Geloof in die morele vooruitgang van die mensdom is so sterk in die moderne mentaliteite ingegrawe, dat die bepalings van die Wet wat van bo-af kom vir baie onaanvaarbaar geword het. Ons moet selfs vir ons afvra, broers en susters, of die wetteloosheid wat in Suid Afrika tans heers, nie deels te wyte is aan die nalatigheid van die kerke om oor die Wet suiwer te praat en te preek nie. Dieselfde kan gevra word in verband met dit wat onder die vorige politieke bedeling in hierdie land gebeur het. Sewe en sewentig persent van ‘n bevolking wat nie ordentlik aan God se Wet gehoor gee nie,  kan nie anders as om destruktiewe neweeffekte op die breë samelewing hê nie, al is kerkgangers selfs nie noodwendig die misdadigers nie.  Die moderne mens verkies eerder om Jesus te misbruik en van hom ‘n figuur van emansipasie teenoor die Wet te maak, ‘n Jesus wat gekom het om vir ons te wys dat ons maar volwasse mense geword het, en nie meer die Wet in ons lewe nodig het nie.  Daardie sogenaamde Jesus, gemeente, herinner ons veel eerder aan die Satan, toe hy onder die vorm van die slang aan Adam en Eva geïnsinueer het:  Julle sal soos God wees, geëmansipeerd, waarlik vry, nie meer gebonde nie.  Julle sal die goed en die kwaad selfs kan bepaal, sonder om aan God se Wet te moet gehoorsaam nie…Dit is nou vooruitgang! Daarom moet julle van hierdie ou, primitiewe, onbenullige beperking rondom die boom van die kennis van goed en kwaad, ontslae raak; moet dus nie huiwer om van die vrug te eet nie…”  Sien, terwyl Satan homself die advokaat maak van bevryding teenoor God se Wet, deur ongehoorsaamheid, loop Jesus die absolute teenoorgestelde pad:   as die Seun van die mens, -‘n mens soos ons-, gehoorsaam en voltooi hy in alles sy Vader se wil, om ons te bevry van die oordeel wat op ons lê, weëns ons eie ongehoorsaamheid; sodoende herstel Jesus ons voor God en maak van ons nuwe skepsels wat nou uit dankbaarheid gewillig is om aan God se heilige Wet te gehoorsaam.  Jesus kom om hierdie woorde oor die nuwe verbond te voltooi wat ons in Jeremia hoofstuk 31, vers 31 lees:  Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here:  Ek sal my wet op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê.  Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”

 

2. Wat sê die Wet in die geval van owerspel?

Dit is presies wat die verhaal van Johannes 8 vir ons vertel.  Aan die een kant illustreer dit baie goed wat die vervulling van die Wet deur Jesus beteken.  Aan die ander kant is dit ook ‘n goeie voorbeeld van die verdraaing wat aan God se Woord deur Satan aangebring word.  Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het gekom om Jesus uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla, sê vers 6.  Tog het Jesus vroeër aan Satan geantwoord, tydens sy versoeking:  Daar is gesê:  Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie”.  Dat Satan hier nog sy kans vat, is duidelik uit die feit dat die skrifgeleerdes uit die Skrif aanhaal, maar op ‘n verwronge manier (presies soos wat die slang in Genesis 3 gedoen het).  Kom ons kyk saam na die hele episode:  hulle bring ‘n vrou wat op owerspel betrap is.  Dan sê hulle:  Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?”  Dit is hier duidelik dat hulle wil vir Jesus iets laat sê wat teen Moses se woorde sal gaan.  Hulle wil spanning tussen sy woorde en die woorde van die Torah laat voorkom.  Hoe sal hy dan homself  teen die aanklag dat hy juis probeer om die wet te ontbind, kan verdedig?  Hoe sal hy kan bewys dat hy die Messias is, aangesien hy die Skrif ontken?  Dit is nou die lokval.  Maar let op die verdraaing van die aanhaling.  Ons moet die bepalings van die Wet in die boeke Levitikus en Deuteronomium gaan naslaan.  Eerstens Levitikus 20:10:  As iemand owerspel doen met ‘n man se vrou, owerspel doen met sy naaste se vrou, moet hy en sy wat owerspel doen, sekerlik gedood word”.  Dan uit Deuteronomium hoofstuk 22, verse 22 tot 27:  As ‘n man betrap word terwyl hy met ‘n getroude vrou gemeenskap het, moet hulle altwee sterwe: die man wat met die vrou gemeenskap gehad het, en die vrou.  So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei.  As ‘n dogter, ‘n jong meisie, aan ‘n man verloof is, en iemand kry haar in die stad en hou met haar gemeenskap, dan moet julle hulle twee na die poort van dié stad uitbring en hulle stenig, dat hulle sterwe; die dogter, omdat sy in die stad nie geskreeu het nie, en die man, omdat hy die vrou van sy naaste onteer het.  So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.  Maar as die man die verloofde dogter in die veld kry en die man haar aangryp en met haar gemeenskap het, moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, alleen sterwe; maar aan die dogter moet jy niks doen nie:  daar is in die dogter geen sonde wat die dood verdien nie; want soos wanneer ‘n man teen sy naaste opstaan en hom doodslaan, so is hierdie geval.  Want hy het haar in die veld gekry; die verloofde dogter het geskreeu, maar daar was niemand om haar te help nie.”  So lui die heilige Wet van die Here, wat betref die geval van owerspel.  God het geëis dat in sy teenwoordigheid, voor sy heiligheid, die egbrekers gedood word, want egbreuk of owerspel is ‘n ontheiliging van sy Naam en mag nie onder sy verbondsvolk gepleeg word nie.  Let wel daarop dat laasgenoemde bepaling het van verkragting ‘n misdaad gemaak wat die doodstraf op die misdadiger gebring het.  Die Wet van die Here het nie grappies met die verkragting van vroue gemaak nie. Let ook daarop dat daar ‘n besondere maat van beskerming oor die vrou toegepas is,  aangesien slegs die man gestenig sou word as die daad in die velde plaasgevind het; al was sy gewillig om gemeenskap met hom te hê, omdat daar vermoed kan word dat sy sou geskreeu het, maar niemand sou haar gehoor het nie, is sy as onskuldig beskou.  (‘n Mens sou amper kon beweer dat in so ‘n geval, daar teen die man gediskrimineer is!)

 

3. Hoe verdraai die Skrifgeleerdes Moses se Wet? 

Maar nou wat sien ons in Johannes 8?  Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring slegs die vrou wat in owerspel betrap is.  As sy op heter daad betrap is, moes uit die aard van die saak die man wat met haar owerspel gepleeg het, ook betrap gewees het.  Waar is hy?  Die skrifgeleerdes en die Fariseërs diskrimineer teen die vrou, en haal net die helfde van Moses se wet hier.  Hulle is diegene wat op so ‘n manier die Wet ontbind!  Jesus weet dit baie goed.  En hy bly stil.  Hy buk neer en skryf iets op die grond.  Wat skryf hy?  Ons weet nie. In elke geval, in so ‘n oomblik hoe kan hy nie herinner word aan die versoeking van Satan, in die woestyn, wat ook die Skrif aangehaal het, nie om God te verheerlik nie, maar om sy gesalfde op die proef te stel nie?  Jesus bly stil.  Ons sal hom nooit iets afbrekend oor die Wet hoor sê nie, hetsy nou of op ‘n ander tyd.  Hy sal byvoorbeeld nooit beweer dat die Wet wreed is, en dat dit hoogtyd is om sulke primitiewe bepalings af te skaf nie.  ‘n Ander keer, toe hy deur dieselfde mense oor egskeiding gevra is, het hy eerder gesê:  Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie.”  Vir Jesus is dit nie die Wet wat hard, of wreed is nie, dit is die mens se bose hart wat alle kwaad bedink en uitvoer.  Nee, Jesus maak nie die Wet sagter nie, en hy maak ook nie van sondaars  mense wat minder skuldig aan oortreding teenoor God en die naaste is nie.  Inderwaarheid, in die bergprediking het hy die mensdom nog baie strenger geoordeel, en die sondes wat diep in hulle hart lê, blootgestel:  Julle het gehoor dat daar gesê is:  jy mag nie egbreuk pleeg nie.  Maar ek sê vir julle:  Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg”.  Dit is heel moontlik, broers en susters, om aan die eise van die sewende gebod letterlik te voldoen, maar wie kan met ‘n onskuldige gewete voor so ‘n stelling  staan?  En as dit die geval is, moet ons dan aanvaar dat voor God se heiligheid elkeen van ons voor sy of haar eie doodstraf staan.

 

4. Hoe reageer Jesus?

Jesus bly stil.  Hierdie stilte, gemeente, gee nog ‘n kans vir die aanklaers, die beskuldigers, om hulle eie gewete te toets;  is hulle motiewe suiwer wanneer hulle hom ondervra? Is hulle regtig besorgd oor die regverdige toepassing van die Wet wanneer hulle dit aanhaal?  Soek hulle regtig God se eer in daardie oomblik?  Kan hulle met die gesindheid wat hulle nou vertoon, in die Koninkryk van God ingaan?  Wat ons, mense van die nuwe Verbond, betref, kom ons gee gehoor aan die woorde van Jesus in Matteus 5:20:  Want ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die Skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die Koninkryk van die hemele sal ingaan nie.”

 

Maar nee, die harde harte verander nie, die onsuiwer motiewe bly dieselfde, die gewete van die skrifgeleerdes en die Fariseërs pla hulle glad nie. Hulle hou aan met hulle lokval. Toe staan Jesus op en dié keer konfronteer hy hulle met hulle eie gewete op ‘n beslissende manier:  Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste klip op haar gooi.  En weer het Hy neergebuk en op die grond geskrywe”.  Laat dan die Wet toegepas word.  Maar daardie Wet sal ook toegepas word op diegene wat hulleself as onskuldig beskou.  En skielik begin iets deur die gewetens van die aanklaers deurdring.  Hulle ook sal voor God rekenskap van hulle woorde, dade, gedagtes moet gee.  Die posisie van streng rigters wat hulle, as kenners van die Wet, aan hulleself toeken, sal dan omgedraai word.  En toe hulle dit hoor, het hulle deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in gestaan het.”  Hier, broers en susters, het ons in die stilte van daardie toneel, ‘n besondere moment van waarheid.  Want wie anders as Jesus-Christus kon van homself gesê het:  Ek het nie sondes nie, ek kan die eerste klip gooi”.  Hy is die enigste een wat dit ten volle reg kon gedoen het.  Hy het tog sy Vader se wil volkome gehoorsaam, het hy nie?  Maar hy sal nie die eerste klip gooi nie.  En toe Jesus hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar:  Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou?  Het niemand jou veroordeel nie?  En sy antwoord:  Niemand nie, Here.  En Jesus sê vir haar:  ek veroordeel jou ook nie.”  ‘n Wonderwerk het hier plaasgevind: nie net is sy deur haar beskuldigers nie gestenig nie, maar die enigste een wat ten volle reg die eerste klip kon gegooi het, laat haar ook gaan.  Sy is uit ‘n besliste dood op hierdie toneel losgekoop.  Gaan dan niemand die prys betaal vir haar sonde nie?  Gaan dan die Wet nie toegepas word nie?  Nee, broers en susters:  die Wet en die straf wat op haar moes gekom het sal deur Jesus op die Kruis gedra word; Hy, die onskuldige wat in die posisie van  die ware rigter voor God staan, sal haar vonnis en ook elkeen van ons se vonnis op Homself dra.  Op so ‘n manier sal die Wet en die profete vervul word en God se regverdige oordeel toegepas word…  Moenie dink dat ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie.  Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul”. 

 

Ten slot

Maar losgekoop, in God se woordeskat, beteken nie net klaarbetaal nie.  Sy Genade strek nog baie verder: hy maak van ons nuwe skepsels wat nou, uit dankbaarheid gewillig is om aan sy heilige Wet te gehoorsaam:  Gaan heen, en sondig nie meer nie”, sê Jesus aan die vrou.  Hy druk die Wet op die beste en die mooiste manier uit:  gaan heen op ‘n nuwe pad en moenie sondig nie, maar gehoorsaam jou Vader wat jou in Christus vergewe het, en wat jou met sy Gees toerus. Die essensie van die Wet, broers en susters, is dat ons  God met ons hele hart, ons hele siel, krag en verstaan moet lief hê, en ook ons naaste soos onsself.  So het Jesus Christus vir ons geleer.  Die Wet van Moses het nie ‘n ander doel gehad, as om dit in die hart van Israel deur te dring.  Die strawwe wat in die Wet genoem word is nie die essensie van die Wet nie, asof God ‘n behae skep in die straf van die sondaar.  Het Ek dan miskien ‘n behae in die dood van die goddelose? spreek die here Here. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?”  lees ons in Eségiël 18:23.  Maar die harde harte van die ongehoorsame mens het dié strawwe nodig gemaak, beide ten behoud van die eer van God binne sy Verbondsvolk, en ten beskerming van die sosiale lewe van die Verbondsvolk.  Ons is wel van ons sondes vrygespreek, broers en susters, maar ons is hoegenaamd nie vrygestel om steeds die Wet as Woord van God te lees en oor te mediteer nie.  Natuurlik eerbiedig ons die Wet in die lig van Christus se vervulling hiervan; dit wil sê: vervulling van sy eise vir ons, maar hoegenaamd nie ontbinding van sy eise nie. Daarom kan ons wel sê, saam met die Nederlandse geloofsbelydenis:  Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik oms ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.” Oor die band tussen die Wet en die Evangelie, skryf Calvyn in sy kommentaar oor Mat. 5: “Kom ons leer om hierdie heilige band tussen die Wet en die Evangelie onbreekbaar te handhaaf, wat baie sonder enige rede verbreek.  Dit is baie belangrik om die gesag van die Evangelie te bevestig, wanneer ons verstaan dat dit niks anders is as die voltooing van die Wet, sodat altwee testamente in ooreenkoms met mekaar vir ons wys dat God alleen hulle outeur is.”

 

Hier, gemeente moet ons ‘n oomblik stilstaan en God se Woord gaan toepas aan die hand van wat in die wêreld gebeur.  Ons het almal gehoor hoe in Nigerieë ‘n jong vrou, Amina Lawal, deur die Sharia – d.w.s. die Islamitiese wet – nog onlangs ter dood veroordeel is weëns ‘n buiteegtelike kind wat sy verwek het.  Streng gesproke, volgens haar regters,  behoort sy gestenig te word.  Dat so ‘n straf vir ons almal -volgens ons Westerse sensitiwiteit en opvattings- gruwelik is, is ‘n feit.  Die mense wat probeer druk oefen sodat hierdie wrede doodstraf  nie toegepas word nie, doen dit aan die hande van menseregte. (Daar is baie juridiese aspekte an die saak verbonde, soos die vraag of ‘n Nigeriese hof godsdienstige reg mag toepas, die diskriminasie van die Sharia wette teenoor vroue –presies soos wat die Fariseërs gedoen het- ens.) Christene ook behoort hier aktief te wees.  Maar as Christene moet ons beslis vir onsself afvra wat die grondlegging van ons  oortuiging hieroor is.  Hoekom is ons beswaard teenoor hierdie straf?  Bloot omdat ons glo dat elkeen die reg het om te lewe soos wat hy wil, ongeag wat God se uitgesproke wil is? Asof sy heiligheid met verloop van tyd afgestomp geword het, te danke aan die morele vooruitgang van die mensdom waarop die moderne mens so trots is?  Nee. Die Ewige God se eise teenoor die mens is vandag dieselfde as gister. Eerder  ons doen dit omdat ons na Amina Lawal kyk met dieselfde oë as ons Here Jesus-Christus, wat deur die vervulling van die Wet en die profete ‘n nuwe tydperk in die mens se geskiedenis geopen het: die tyd van God se besondere geduld en genade; die tyd waartydens al die nasies geroep word om onder die sagte juk van Jesus-Christus hulleself te kom plaas; die tyd van ware berou oor ons almal se oortredings teenoor God se Wet. Die tyd om op te hou dink dat ons “reg” voor die oë van God is asof ons die toets van God se heiligheid deur ons eie lewenstyl en pogings ooit sou kon deurstaan; want “almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus-Christus’ (Rom. 3:23-24). Amina het onvoorwaardelik die reg om te hoor dat Jesus haar skuld op homself geneem het, en dat sy van nou af deur die geloof in haar Verlosser kan lewe.  Van daardie mees fundamentele reg en voorreg word sy deur haar Moslem regters ontneem. Christene moet die afskaffing van Amina se doodstraf op hierdie grond bepleit, wat nie slegs tot die hier en nou van die lewe betrekking het nie, maar tot die ewige karakter van die lewe. Ja, ook hier en nou, maar van nou af tot in ewigheid.  Daardie grond motiveer ons ten sterkte om hoog en duidelik te praat, sonder bang te wees dat ons opvattings as outyds of irrelevant afgemaak sal word. Christus moet altyd sentraal bly in ons motiewe. Sy Gees laat ons praat in ooreestemming met sy eie woorde, nie op enige ander grond nie. Dit plaas natuurlik ‘n besondere verantwoordelikheid op die Kerk van Jesus-Christus om die Evangelie van vergiffenis en versoening met God te gaan verkondig, op grond van die gruwelike dood wat Jesus op die Kruis van Golgotha verduur het, ja, wat in ons plek die angste van die hel tot in die dood ondergaan het. 

 

Daardeur is ons met God versoen.  Deur sy Gees gee Hy sy wet in ons binneste en skrywe dit op ons hart.  Hy is ons God, ons is sy volk, en hy regeer ons deur Jesus Christus, wat nie net die Wet en die profete vervul het nie, maar wat ons Wet geword het.  In Hom, ons redder en ons Wet,  is ons ingelyf, sodat Hy nou vir ewig in ons woon, deur sy Gees, tot  grootste eer van God.  AMEN .