21 November 2002

Liewe Vriende

Presies veertien jaar gelede het  ek my geboorteland en kultuur , Frankryk ,verlaat en in Suid Afrika as ‘n  nuwe immigrant aangekom. Ek het vertrek met die gedagte dat ek heel  waarskynlik  nooit weer permanent sou teruggaan nie. Maar God se  weë is anders as mense s’n , want Hy het my tog weer teruggebring Frankryk toe: alhoewel ek vandag nie op Franse grond bly nie, is ek tog in Frankryk teenwoordig deur middel  van die radiobediening van Glo en Leef Gereformeerd. Die boodskappe wat hier in Suid Afrika gemaak en opgeneem word, word op 13 FM- stasies in Frankryk  uitgesaai, en so kan ek my  mede –landgenote in ons gemeenskaplike taal vertel van die wonders van die  Drie- enige God.

Deur die moontlikhede wat radiobediening as meduim bied, word die universaliteit van hierdie boodskap, naamlik om die Woord van God en sy Koningkryk te proklameer, inderdaad beklemtoon. In ‘n era waarin globalisasie neig om ‘n eenvormige sekulêre kultuur af te dwing wat die mensdom se prestasies vir selfverheerliking beklemtoon, kan dieselfde medium wat vir hierdie goddelose doel ingespan word, gebruik word om God se alom teenwoordige heerskappy te verkondig. So word mense van verskillende lande en uiteenlopende kulture in ‘n gemeenskap saamgesnoer wat bokant enige menslike struikel blokke uitgaan.Hierdie stelling word ryklik geïllustreer deur die pos wat ek weekliks ontvang. Vanaf Haïti tot die Ivoorkus, skryf luisteraars van hulle waardering en belangstelling in Glo en Leef Gereformeerd se programme. Hier volg ‘n paar uittreksels (uit Frans vertaal) van die nuutste briewe uit die Ivoorkus:

Met hierdie brief wil ek U graag laat weet dat ek U gereelde programme op die radio waardeer. Ek is ‘n Christen, visueel gestrem, ‘n opvoedkundige sielkundige. Ek sou graag van u enige dokumente ontvang wat kan help om my geloof te versterk, veral die teks van ‘n boodskap wat handel oor Christene se siening oor alkohol.”

Ek is ‘n evangelis in ‘n Christengemeenskap. Ek sou graag my Bybelse en teologiese kennis wil verbreed. Ek luister gereed na u uitsendings op Radio Fréquence-Vie “(Abidjan, Ivoorkus)

Mag God u seën vir al die werk wat u doen, veral vir u treffende Bybelse boodskappe, wat my geweldig goed doen. In die lig van die relevantheid en kwaliteit van u boodskappe, het ek besluit om vir u te skryf om hulp”(met betrekking tot Christelike dokumentasie en leesstof)

Afrika en Frankryk is nie die  enigste velde waar Glo en Leef Gereformeerd die saad van die  Woord wil plant, of die saad wat ander reeds geplant het, wil water gee nie. My onlangse besoek aan Kanada (Ontario) het my in staat gestel om met my plaaslike komitee en ondersteunende gemeentes die moontlikhede te bespreek om ons radioboodskappe uit te brei na die Franssprekende provinsie van kanada, nl. Quebec. Omtrent 10 miljoen mense woon daar, of hoogs gesekulariseerd, of verstrik in Rooms- Katolieke bygelowe. Ons  Here het op ‘n keer gesê dat God wil in gees en in waarheid aanbid word. Daarom is dit ons plig om Wie Hy is te verkondig, nie volgens mensgemaakte fantasieë nie, maar volgens sy Woord van waarheid, geïnspireer deur sy Gees.

Nog ander projekte wag op befondsing- of vir implementering, of vir hulle voorstelling. Onlangs het Glo en Leef  Gereformeerd begin om die finansiële verantwoordelikheid van sommige uitsendings wat vanuit Suid Afrika gedoen word aan gemeentes (individueel of gesamentlik) toe te vertrou. Op hierdie wyse word medegelowiges direk betrek- beide materieel en geestelik- by sendingwerk wat in die Kameroen, of in die Indiese Oseaangebied, of elders, gedoen word.. Wil u gemeente dit nie oorweeg om die  finansiële  verantwoordelikheid vir ‘n jaar te neem nie vir die weeklikse programme op die nasionale sender van Kongo–Brazzaville (R8000 per jaar)?

Wil u gemeente  in samewerking met ander  nie die verantwoordelikheid neem nie vir die finansiering van verskeie uitsendings wat ons het in Kinshasa, die aangrensende hoofstad van die ander Kongo (DRK)? Die koste hiervoor beloop ongeveer R20 000 per jaar.

Of sou u geïnteresseerd wees in van die ander projekte? Ons sal die briewe wat ons  ontvang na aanleiding van die uitsendings wat deur u gemeente moontlik gemaak word,  in Afrikaans vertaal en aan u stuur. Sodoende sal u gemeente kan deel in die vreugde om die Evangelie te bring aan mense wat andersins nie in staat sou wees om dit te hoor nie.

Ons dank u in die Here vir u voortgesette ondersteuning in die sending wat ons saam doen.

In Christus se Naam

Ds. Eric Kayayan