Maart 2004

Beste Vriende

Wat is duiwelbeswering? Word dit in gereformeerde kerke beoefen? Wat is die betekenis van hierdie Bybelverse: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar..” (Jak.5:16)? Wie is hierdie “hemelwesens” en “dogters van die mense” (Gen 6:2)? Mag Christene die gebruik van kondome goedkeur? Bevorder dit nie onetiese seksuele gedrag nie? Is dit teen die natuurlike orde en die skepping van God? Is Vigs ‘n straf wat deur God gestuur is (in die lig van Openbaring 6)?

Hierdie is ‘n paar van die vrae wat met hierdie skrywe op my tafel lę en wat ek moet beantwoord. Die meeste het per e-pos aangekom, en word deur Christene in Afrika gevra wat na die radio-uitsendings van Glo en Leef Gereformeerd ( GLG ) luister. Dit is ‘n aanduiding van hoe ernstig hierdie Christene die Bybel opneem, want hulle soek daarin antwoorde, alhoewel hulle dit nie met die eerste oogopslag kry nie. Baie Westerlinge wat hulleself wel as Christene beskou, sou so ‘n soektog doodeenvoudig afwys. Hulle voer aan dat antwoorde op hierdie vrae uitsluitlik op die gebiede van die moderne Sielkunde, Antropologie of Epidemiologie te vinde sou wees. Vergeet van die Bybel… Maar vir my korrespondente is dit duidelik dat die hele lewe in verhouding met God en sy gesaghebbende Woord staan, al is ‘n geestelike verdieping van hulle begrip van hierdie Woord nodig (soos by elkeen van ons ook!) Die ander les wat ek uit hierdie briewe leer, is dat wat ons “leerstellings” noem, nie maar net ‘n stel abstrakte begrippe is nie, ‘n “teorie” wat ons in “praktyk” moet omskep nie, maar ‘n lewenswyse voor God as hernude skepsels. Ons geestelike voorvaders, die Hervormers, het dit presies op hierdie manier verstaan. Baie mense wat in ‘n tradisionele Christelike kultuur grootgeword het, het hierdie alomvattende węreldbeskouing tot ‘n groot mate getransformeer tot ‘n stel formules wat iewers in die lug hang, en waarvoor daar slegs ‘n intellektuele goedkeuring  nodig is.

Om betrokke te wees in die missionęre proklamasie van die Woord van die Lewe, verfris ‘n mens se perspektiewe op dit wat die Christelike geloof  behels. Indien ek slegs ‘n stel formules sou verkondig, sou ek my luisteraars lei om die antwoorde op hulle mees basiese vrae te soek in die multigefasetteerde ideologieë van ons tyd. Maar hierdie ideologieë is bestem om een of ander tyd te verdwyn, terwyl die Here ons vertel dat “die hemel en aarde sal vergaan, maar my woorde nooit” (Mat.24:35) Natuurlik lę dit ‘n groot verantwoordelikheid op my om hierdie woorde versigtig en sorgsaam te verkondig, en om hulle betekenis en implikasies slegs binne die raamwerk van die koninkryk van God uit te spel. Is dit moontlik? Ek glo so, omdat die Here wat hierdie woorde gespreek het, ook sy dissipels met ‘n opdrag uitgestuur en verseker het dat Hy hulle sal toerus met sy Heilige Gees. Dit is eintlik net ‘n eenvoudige kwessie van geloof… Die reaksies wat ek op GLG se programme ontvang, getuig dat die Gees besig is om deur hierdie uitsendings te werk om mense te help om van hulle lewens en beproewinge sin te maak, lig in die duisternis te sien, moed en visie te gee om voort te gaan -  alles met ons Here Jesus Christus as hulle hoofdoel.

Sal u saam met ons bid dat ons in staat sal wees om die programme wat ons begin het verder te kan finansier? Sal u bid dat ons die huidige logistieke probleme inherent tot die Afrika-vasteland sal kan oorkom? Sal u rondom u vertel van die GLG -bediening, ook in u kerk, sodat al hoe meer gelowiges kan voorbidding doen vir die Franssprekende węreld? U voorbidding is nodig, u is ons vennoot in hierdie sendingwerk. Dankie vir u volgehoue ondersteuning.

In sy Naam,

Ds Eric Kayayan