Liewe Vriende,
Watter vreugde was dit nie om ‘n paar dae gelede vars nuus te kon kry van die heel eerste korrespondent van “Leef en Glo Gereformeerd” nie! T.A. van Tizi-Ouzou in Algerië het aan ons in Desember 2000 geskryf en vertel dat hy 8 van ons programme op kortgolf kon opvang, en hoeveel dit vir hom beteken het. In sy onlangse e-pos skryf T.A.:
“Ek dink altyd aan u elke keer wanneer ek die dokumente wat u aan my gestuur het lees. Ek sê baie dankie daarvoor. Dit is asof u in my hart teenwoordig is. Oor die algemeen gaan dit goed, as mens nie die verskeie beproewings wat ons moet verduur in ag neem nie. As Christene is beproewings in ons lewens nodig, sodat ons kan volhard en groei. Liewe broer, om aan u te skryf en u te lees, leer my altyd iets omtrent die geloof. Moet asb. nie huiwer om my weer te kontak nie.”
Wat T.A. egter nie uitdruklik in sy boodskap noem nie, is dat Christene in Algerië aan moontlike vervolging blootgestel is deur die G.I.A. – die radikale Moslem-milisie wat nie huiwer om diegene wat hulle as vyande van Islam beskou, wreed te vermoor nie. Dus wanneer T.A. van beproewinge praat, vermoed ek dat ons dit tussen die lyne moet lees.
Hierdie situasie illustreer wat ‘n onlangse ondersoek aan die lig gebring het: sedert die tye van die Katakombes (daardie ondergrondse begraafplase waar Christene gewoonlik hulle dooies begrawe en eredienste gehou het tydens hulle vervolging deur die Romeinse keisers) is Christene nog nooit weer so vervolg soos in ons tyd nie. Die 20ste eeu het ‘n ongekende golf van anti-Christelike haat gesien, nie net in Europa nie (onder die Nazi en veral Kommunistiese regimes), maar ook in Asië en Afrika. Ons hoor bittermin van wat werklik aan die gebeur is, maar van tyd tot tyd duik ‘n nuusberig of persoonlike brief op wat ons herinner aan die benarde en hartseer situasie van die ondergrondse Kerk van Jesus Christus: hierdie Kerk is besig om te veg onder die banier van die Kruis, ‘n uitdrukking ontleen aan Johannes Calvyn, wat dit gebruik het om op ‘n keer ‘n soortgelyke situasie te beskryf.
In hierdie konteks kan ons die moontlikheid wat kortgolf bied om die Evangelie te proklameer des te meer waardeer, want dit ken geen landsgrense nie, en stop nie daar waar onderdrukkende regeringstelsels hulle bose bewind voer nie. In baie Afrika-state (soos Algerië, Mauritanië, Libië, ens.) het Christene nie die vryheid om hulle eie radiostasies te kan begin nie. Daarom is hulle vir hulle geestelike voedsel afhanklik van kortgolf-en mediumgolf uitsendings, duisende kilometers van hulle af weg. “Leef en Glo Gereformeerd” is bevoorreg om met Christelike organisasies soos TransWêreldRadio saam te werk om d.m.v. kortgolf die Evangelie van waarheid en redding aan duisende mans en vroue te bring wat uitgehonger is vir die Brood van die Lewe. T.A. se e-pos, asook baie ander e-posboodskappe en briewe, illustreer hoe die gebruik van radiogolwe as middel om God se Raad te verkondig, die woorde van Jesaja 55:10-11 treffend aktueel maak:
“Die reën en sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.”
Liewe vriende van “Gereformeerde
Geloof en Lewe”, wees verseker dat God se Heilige Gees kragtig aan die
werk is wanneer ons woorde in ooreensteming is met die Woord wat Hy geïnspireer
het. Julle belangstelling en gebede is van deurslaggewende belang vir hierdie
bediening. Ons dank u vir u
volgehoue ondersteuning.
In Christus se Naam,
Ds Éric Kayayan