Februarie 2005

Liewe Mede-vennote in die Sending –

Kort voor Kersfees 2004 was ek besig met ‘n preek oor Matt. 2 en Hebreërs 4:12   (“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart”). Die tema van my preek was Kersfees as die oorlogsverklaring van God teen die bose magte, in die lig van die oorlog van die onwettige koning (Herodes) teen die wettige Koning van die Jode (Jesus Christus). Die vleesgeworde Seun van God is hierdie lewende en kragtige Woord, skerper as enige twee-snydende swaard. Terwyl ek nog so nadink oor die heilige wapens wat God vandag in sy oorlog gebruik, asook watter voorbeeld ek kon neem om die punt te illustreer, het ek ‘n brief oopgemaak wat deur een van my baie luisteraars in Abidjan (Ivoorkus) geskryf is. Saam met die brief is een van die boodskappe wat ek vroeër aan hom as deel van ‘n pakkie gestuur het. Ek kon eers nie verstaan hoekom hy juis hierdie spesifieke boodskap, getiteld: “Deur Genade Alleen Gered”, aan my terugstuur nie. In sy brief skryf hy dat hy hierdie pakkie op 24 Maart 2004 ontvang het, ‘n dag wat hy nooit sal vergeet nie. Nadat hy sy waardering vir die onderrigmateriaal wat hy dmv hierdie boodskappe gekry het uitgespreek het – materiaal wat hom laat verstaan het waaroor die Christelike geloof werklik gaan  - het hy sy brief afgesluit deur my te vertel wat op daardie spesifieke dag gebeur het. Daardie 24ste Maart was ‘n dag wat gekenmerk was deur hewige gevegte in Abidjan agv burgerlike en politieke onrus. Terwyl hy besig was om hierdie boodskappe van my te liasseer, het ‘n dwaalkoeël wat in die straat afgevuur is deur sy huis se plafon getrek en die lêer deurboor waarin hy so pas die boodskap van “Deur Genade Alleen Gered” geliasseer het. Die koeël het niemand in die huis óf vir hom beseer nie, maar, amper soos ‘n goddelike vinger, hierdie boodskap van verlossing deur genade alleen uitgewys… Ek het weer na die stuk papier in my hand gekyk, en gesien hoe die papier aan die onderkant deur die koeël geskeur was. My korrespondent het sy brief afgesluit met die woorde: “Ek stuur aan jou hierdie stuk papier as bewys dat ons waarlik deur genade alleen gered is…”  Terug na my en my preek – ek is voorsien van die mees treffende voorbeeld van die tipe wapen wat God vandag in sy oorlog teen die bose gebruik: in sy soewereine mag kan Hy die onheilige wapens en koeëls wat die wêreld gebruik om chaos en vernietiging te saai verander in instrumente in sy hand wat heenwys na die grond van sy en ons oorwinning: Sola gratia, deur genade alleen. Deur hierdie gebeurtenis is beide ek en my korrespondent saamgebind in die besef van God se verstommende genade…

Terwyl ek nou aan u skryf op hierdie 16de Februarie 2005, kan ek met groot vreugde vertel dat die 1ste uitsending van Glo en Leef Gereformeerd in Cotonou, Bénin (‘n Wes-Afrikaanse staat), vanaand sal plaasvind. Dit volg op die ondertekening van ‘n kontrak met die plaaslike Christelike radiostasie. In my vorige nuusbrief het ek die moontlikheid genoem dat ‘n nuwe sendbereik van uitsendings kan begin, en sommige van u het onmiddellik gereageer deur die nodige ondersteuning te verskaf om dit moontlik te maak. My hartlike dank aan u en aan almal wat vir die radiobediening van Glo en Leef Gereformeerd voorbidding doen.

 Daar bestaan geen twyfel nie dat die verkondiging van die Woord van God in Cotonou ook vrugte sal afwerp. Ons word deur die groot hervormer van die 16de eeu, Heinrich Bullinger, herinner: “die prediking van die Woord van God is die Woord van God” (Rom. 10:14-17, Matt. 10:40, 1 Tess. 2:13). Want “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.”

In Sy Naam

Ds Eric Kayayan