Februarie 2007

Die Franse Radiobediening bestaan sedertien einde 1998 en het vandat dit begin het, sy veld van uitsendings en die omvang van sy betrokkenheid in die Franssprekende wêreld baie uitgebrei.  Die mees onlangse van hierdie uitbreidings het betrekking tot Quebec, die Franssprekende provinsie van Kanada.  Uitsendings het einde verlede jaar daar begin, wel op ‘n klein skaal, maar reeds met positiewe terugvoer van luisteraars.  Die moontlikheid om op Quebec City nog meer betrokke te raak blyk ‘n goeie moontlikheid te wees, dié keer d.m.v. ‘n spesifieke Christelik-Gereformeerde radiostasie wat van die Kanadese owerhede toestemming gekry het om op die lug te kom.  RFL se programme is in aanvraag, en die modaliteite van die uitsaai hiervan word tans met die direkteur van dié stasie bespreek.

In Wes-Afrika wag ons om te hoor dat TransWêreldRadio se medium golf uitsender in Parakou (sentrum van Benin) operasioneel word (dit behoort om binne ‘n paar maande te wees).  Die mediumgolfband lisensie wat TWR verkry het, kan vinnig na ‘n kortgolfband lisensie uitgebrei word.  As dit gebeur sal RFL se programme wat vanuit die Meyerton uitsender van TWR elke Maandagaand na Wes-Afrika op die lug geplaas is, direk vanuit Benin uitgaan: die dekking van die gebied (vanaf Senegal tot Kameroen, dus ‘n groot streek van die kontinent) en die ontvang van die uitsendings sal dan baie beter word.

 

‘n Ander veld wat tans aandag geniet, is die eiland Haiti in die Wes-Indieë (daar is reeds een stasie met die naam Radio Lumière wat RFL se programme gereeld gebruik): die Orthodox Presbyterian Church (‘n Noord-Amerikaanse kerkverband wat elke jaar ‘n verteenwoordiger stuur by RFL se jaarlikse vergadering in die VSA) stel belang om met RFL saam te werk rondom Haiti, omdat hulle op daardie eiland enkele sendelinge het.

 

Die uitbreiding van die uitsendings van RFL het natuurlik gevolge op plaaslike vlak.  Dikwels dien die radioprogramme as enigste bron van Christelike onderrig, bemoediging en vertroosting vir die plaaslike bevolking wat daarna luister.  Daar is nie sendelinge of predikante wat jong gelowiges kan bearbei of versorg nie.  Die kudde is  daar, maar daar is nie ‘n herder nie...  Dit is in besonder die geval in die ooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo, ‘n oorlogsgeteisterde gebeid vir baie jare, wat baie stadig ‘n maat van vrede en stabiliteit begin bereik.  RFL se samewerkers in die hoofstad Kinshasa en in die suidelike provinsie van die Shaba word deur hulle geloofsgenote in die Ooste dringend gevra om hulle te kom besoek sodat daar op ‘n meer persoonlike vlak onderrig kan plaasvind, en ouderlinge bevestig kan word.  Sover moontlik probeer RFL sodanige pogings ondersteun, want dit kan lei tot die stigting van nuwe gemeentes: so word die koms van die Koninkryk van God op aarde ook al hoe meer sigbaar.  Die moontlikheid om RFL se uitsendings in daardie gebied verder uit te brei hang ook af van so ‘n besoek (onlangs het RFL wel op die lug gekom in Kisangani, een van die grootste stede in die noord-ooste van die Kongo, te danke aan die bemiddeling van ons samewerkers in Kinshasa).

 

Om hierdie reis en verblyf van bevestigde ouderlinge en predikante van die Gereformeerde Kerk in die Kongo na die ooste van die land moontlik te maak, moet tog fondse beskikbaar gestel word.  Op hierdie stadium word R7000 benodig om twee broers soon toe te stuur.  Sal Gereformeerde gemeentes in Suid Afrika dit nie oorweeg om hierdie belangrike sendingreis moontlik te maak, sodat die lig van Christus in hierdie donker gebied ook kan skyn?

 Toe Jesus-Christus sy dissipels tot die uithoeke van die aarde gestuur het, het Hy in sy opdrag sy hele Kerk deur die eeue ingesluit.  Die apostoliese getuienis oor die Verlosser kan nie gebind word nie, hoe hard ookal die donker magte wat nog aan die werk is, probeer. Bid asb. en werk saam sodat die opdrag getrou uitgevoer word!

 Ds Eric Kayayan