Januarie 2008
Liewe
vennoot in die sending
Soms is daar wel ure langs die paaie verspil
in onklaar bostaxi’s wat deur die bestuurders
met die mees elementêre gereedskap herstel moes word. Oor die algemeen
was die toestande van die paaie egter redelik goed na onlangse opknappings.
Nodeloos om te sê, medikasie teen malaria is ‘n moet aangesien muskiete jou
aaneen teister. In die lokale pers het ek ook met ‘n skok gelees dat builepes,
‘n siekte wat ek gedink het reeds lankal uitgeroei is, in ‘n bepaalde gebied
uitgebreek het. Hoewel op klein skaal kom melaatsheid nog op die eiland voor.
Skokkend was dit om te sien hoe straatkinders van 4, 5 of
6 jaar oud vir kos of geld bedel. Sommiges het babas jonger as een jaar gedra
wat waarskynlik die kinders van die bietjie ouer generasie kinders van so 12-13
jaar is.
Die land wat redelik groen is se landbou – hoofsaaklik
rys en vrugte - verseker egter dat die mense redelik goeie voeding ontvang.
Beesboerdery word ook uitgebreid toegepas: die beroemde Malgassiese seboes kry
jy orals, veral op die paaie, wat soms lei tot ernstige ongelukke.
Met die geestelike en materiële nood waarin hierdie mense verkeer, het ek
weereens bewus geraak van die dringende behoefte om die bevrydende Evangelie van
Christus te preek, om so ook die sosiale en geestelike landskap van ‘n
pragtige land soos Madagaskar te verander. Die hulpbronne van die land kan aan
almal voorsien. Die mentaliteit van die grootste gedeelte van die bevolking is
diep gewortel in heidense gebruike, tradisies en rituele, gebaseer op die vrees
vir die afgestorwenes. Dit dra definitief by tot groot ongelukkigheid. Dit mag
nie populêr wees om soiets in die Weste te sê nie, maar die feit is verskeie
kere deur Malgassiese Christene aan my beklemtoon.
Ek is dankbaar om soveel positiewe terugvoer van die radiostasies se
direkteure wat reeds RFL se materiaal gebruik, te ontvang. Ongeveer 10 stasies
saai reeds ons programme uit. ‘n Netwerk van onlangs gevormde Evangeliese
plaaslike stasies (ongeveer 30) gaan ook nou die programme begin gebruik, danksy
die belofte van hulle koördineerder. Laasgenoemde is prof. Rakotonirainy, ‘n
voormalige minister wat in verskeie kapasiteite gedien het en tans
inligtingstegnologie by een van die land se universiteite doseer en wat ook
toestemming gevra het om RFL se boodskappe in die plaaslike taal te vertaal ten
behoewe van diegene wat nie Frans
magtig is nie.
Doen die Kerk in Madagaskar wat nodig is om die bevrydende boodskap van
Christus se universele outoriteit te vestig? Terwyl die sterk gevestigde
Rooms-Katolieke kerk goed funksioneer in sosiale en opvoedkundige aksies neig
die grootste Protestante denominasie (met meer as 4 miljoen lede) om homself te
wend tot selfgesentreerde aktiwiteite en politiekery in hulle topstruktuur.
Hierdie denominasie kan reken op die steun van die president van die land, wat
self ‘n lidmaat is. Dit mag ‘n
seën wees, maar dit kan ook nadelig
mag wees as dit nie reg bestuur word nie. Daar is ‘n interne beweging tot
reformasie en ek hoop om, waar ek
ook al kan, ‘n beskeie bydrae tot hierdie proses te lewer. Ek is uitgenooi om
by verskeie seminare opleiding te behartig, maar my skedule het dit ongelukkig
nie hierdie keer toegelaat nie.
Liewe vriende, daar is soveel meer om oor verslag te doen ….. Ek vertrou
dat nadat ek hierdie paar dinge met u gedeel het, dat u oortuig sal wees dat die
sendingaksies van RFL in Madagaskar soos elders betekenisvol is en u
ondersteuning in gebede en andersins verdien. Dit is stimulerend om ons Skepper
op hierdie manier te dien en om altyd te onthou dat ons nie self preek of dat
dit ons eie idees is nie, maar dat ons geroepe is om elke gedagte gevange te
neem om dit aan Christus gehoorsaam te maak (2 Kor. 10:5). Ons moet natuurlik
eers ons eie gedagtes gevange neem voordat ons vir ander begin preek, andersins
sal ons missie ontbloot wees van enige betekenisvolle inhoud. Bly asseblief
voortdurend bid dat my gedagtes deur die Heilige Gees gelei sal word, terwyl ek
die Evangelie van Jesus Christus tot eer van die Vader uitdra.
In Sy driemaal Heilige Naam
Ds Eric Kayayan