Januarie 2008

Liewe vennoot in die sending

Soos belowe in my vorige nuusbrief, hiermee terugvoer oor my besoek aan Madagaskar wat sonder enige groot probleme, danksy God se oorvloedige voorsiening, goed afgeloop het. Die uitgebreide reise op die hoofpaaie van hierdie groot eiland het my en Ds Cilliers – my reisgenoot – na sommige van die groot stede en hawens van Madagaskar geneem: die  Nosy-Bé-eiland (in die Noordweste), Antsohihy, Majunga, Tamatave, Antsirabe, Fiananrantsoa en dan ook die hoofstad Antananarivo.

Soms is daar wel ure langs die paaie verspil  in onklaar bostaxi’s wat deur die bestuurders  met die mees elementêre gereedskap herstel moes word. Oor die algemeen was die toestande van die paaie egter redelik goed na onlangse opknappings. Nodeloos om te sê, medikasie teen malaria is ‘n moet aangesien muskiete jou aaneen teister. In die lokale pers het ek ook met ‘n skok gelees dat builepes, ‘n siekte wat ek gedink het reeds lankal uitgeroei is, in ‘n bepaalde gebied uitgebreek het. Hoewel op klein skaal kom melaatsheid nog op die eiland voor.

Skokkend was dit om te sien hoe straatkinders van 4, 5 of 6 jaar oud vir kos of geld bedel. Sommiges het babas jonger as een jaar gedra wat waarskynlik die kinders van die bietjie ouer generasie kinders van so 12-13 jaar is.

Die land wat redelik groen is se landbou – hoofsaaklik rys en vrugte - verseker egter dat die mense redelik goeie voeding ontvang. Beesboerdery word ook uitgebreid toegepas: die beroemde Malgassiese seboes kry jy orals, veral op die paaie, wat soms lei tot ernstige ongelukke.  

Met die geestelike en materiële nood waarin hierdie mense verkeer, het ek weereens bewus geraak van die dringende behoefte om die bevrydende Evangelie van Christus te preek, om so ook die sosiale en geestelike landskap van ‘n pragtige land soos Madagaskar te verander. Die hulpbronne van die land kan aan almal voorsien. Die mentaliteit van die grootste gedeelte van die bevolking is diep gewortel in heidense gebruike, tradisies en rituele, gebaseer op die vrees vir die afgestorwenes. Dit dra definitief by tot groot ongelukkigheid. Dit mag nie populêr wees om soiets in die Weste te sê nie, maar die feit is verskeie kere deur Malgassiese Christene aan my beklemtoon. 

Ek is dankbaar om soveel positiewe terugvoer van die radiostasies se direkteure wat reeds RFL se materiaal gebruik, te ontvang. Ongeveer 10 stasies saai reeds ons programme uit. ‘n Netwerk van onlangs gevormde Evangeliese plaaslike stasies (ongeveer 30) gaan ook nou die programme begin gebruik, danksy die belofte van hulle koördineerder. Laasgenoemde is prof. Rakotonirainy, ‘n voormalige minister wat in verskeie kapasiteite gedien het en tans inligtingstegnologie by een van die land se universiteite doseer en wat ook toestemming gevra het om RFL se boodskappe in die plaaslike taal te vertaal ten behoewe van  diegene wat nie Frans magtig is nie.

Doen die Kerk in Madagaskar wat nodig is om die bevrydende boodskap van Christus se universele outoriteit te vestig? Terwyl die sterk gevestigde Rooms-Katolieke kerk goed funksioneer in sosiale en opvoedkundige aksies neig die grootste Protestante denominasie (met meer as 4 miljoen lede) om homself te wend tot selfgesentreerde aktiwiteite en politiekery in hulle topstruktuur. Hierdie denominasie kan reken op die steun van die president van die land, wat self ‘n lidmaat is. Dit  mag ‘n seën  wees, maar dit kan ook nadelig mag wees as dit nie reg bestuur word nie. Daar is ‘n interne beweging tot reformasie en ek hoop om,  waar ek ook al kan, ‘n beskeie bydrae tot hierdie proses te lewer. Ek is uitgenooi om by verskeie seminare opleiding te behartig, maar my skedule het dit ongelukkig nie hierdie keer toegelaat nie.  

Liewe vriende, daar is soveel meer om oor verslag te doen ….. Ek vertrou dat nadat ek hierdie paar dinge met u gedeel het, dat u oortuig sal wees dat die sendingaksies van RFL in Madagaskar soos elders betekenisvol is en u ondersteuning in gebede en andersins verdien. Dit is stimulerend om ons Skepper op hierdie manier te dien en om altyd te onthou dat ons nie self preek of dat dit ons eie idees is nie, maar dat ons geroepe is om elke gedagte gevange te neem om dit aan Christus gehoorsaam te maak (2 Kor. 10:5). Ons moet natuurlik eers ons eie gedagtes gevange neem voordat ons vir ander begin preek, andersins sal ons missie ontbloot wees van enige betekenisvolle inhoud. Bly asseblief voortdurend bid dat my gedagtes deur die Heilige Gees gelei sal word, terwyl ek die Evangelie van Jesus Christus tot eer van die Vader uitdra.

In Sy driemaal Heilige Naam

Ds Eric Kayayan