Julie 2003

Liewe Vriende

Toe die apostel Paulus sy eerste sendingreis begin het, het hy eerste twee hawestede aangedoen op die eiland Siprus, en daarna nog een in Pamfilië (vandag Suid-Turkye) Gedurende sy tweede, derde en vierde sendingreise was hawens feitlik altyd sy volgende bestemming gewees in sy reise van een plek na ‘n ander. Die rede hiervoor is maklik verstaanbaar: hawens was terselfdertyd sowel die hoofhandelsentra as uitmuntende kommunikasiepunte gewees. Die varsste nuus, die nuutste tendense en modes was heel eerste in hawens versprei. Daar was dus geen beter plek om die Evangelie te verkondig en daarvandaan verder oor te dra nie.

Vandag is hierdie stand van sake nog waar van Afrika: die vernaamste hawens aan die Golf van Guineë (Sentraal- en Wes-Afrika) vorm ‘n spilketting van stede waardeur idees en modes op ‘n merkwaardige manier versprei word. Net een voorbeeld sal die snelheid van hierdie oordrag illustreer: ‘n paar jaar gelede het ‘n eienaardige gerug langs hierdie ketting versprei. Daarvolgens het sommige mense die HIV-virus oorgedra slegs deur ander mense op straat te kruis of hulle hande op ‘n sekere manier aan te raak. Vrees vir besmetting het soos ‘n vuur vanaf Douala tot Dakar getrek. Sommige verdagtes was doodgemaak deur woedende skares.

Vanaf sy ontstaan het “Glo en Leef Gereformeerd” (GLG) dit ten doel gestel om homself te vestig in soveel moontlik Franssprekende stede van hierdie kusstrook  Abidjan, Lomé, en Douala vorm al reeds deel van hierdie netwerk deur middel van radiostasies wat ons programme uitsaai. Behoort die Goeie Nuus van die genesende krag van Christus nie die vernietigende konsekwensies van vreemde gerugte te vervang nie?

Ons netwerk al langs hierdie kus af met hierdie stedeketting as spilpunte is stadig maar seker besig om te groei. Onlangs het GLG daarin geslaag om lugtyd te bekom in twee belangrike stede van die ander Kongo: Brazzaville (die politieke hoofstad) en Pointe Noire (die ekonomiese hoofstad) Ander moontlikhede om in hierdie land uit te saai is besig om uit te kristalliseer. Plaaslike predikante wat gretig is om met GLG saam te werk laat hulle belangstelling blyk en  bied hulp aan. Ons soek altyd nuwe finansieringsbronne wanneer ons van nuwe moontlikhede hoor. Ons begroting moet groei indien die Evangelie in nuwe plekke deur middel van radiogolwe geproklameer moet word.

Die ware skat is egter hierdie Woord van waarheid en vertroosting wat God aan alle mense rig. Paulus skryf in sy tweede brief aan die Korinthiërs oor hierdie skat (4:7): “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie” Soms kry die kleipot ‘n kraak. Dit mag ‘n klein krakie of ‘n grote wees, wat mens laat wonder of die pot nie heeltemal sal breek en uitmekaarval nie. Maar wanneer God besluit om sy skat in ‘n kleipot te plaas, kan mens seker wees dat die kleipot nie sal breek nie. God sal Self die kraak heelmaak en so wys dat die alles-oortreffende krag van sy Woord van Hom af kom, nie uit onsself nie. Mag sy Naam verheerlik word in goeie en in slegte tye.

Rev.Eric Kayayan