Julie 2005

Beste Sendinggenote,

Onlangs het A.K. vir my die volgende brief uit Pointe Noire (Republiek van die Kongo) gestuur:

“Ek was diep geraak deur u boodskap wat ek gehoor het op die radio se godsdienskanaal. As iemand wat nou onlangs ‘n Christen geword het. wil ek u vra om vir my materiaal te stuur, en, indien moontlik, ‘n Bybel, sodat ek opgebou en versterk kan word om van die duiwel af weg te kom. Ek het al ‘n lang pad gekom, waartydens ek allerhande beproewinge ondergaan het, en ‘n aantal mislukkings en verskeie sterftes van geliefdes beleef het. Uit louter nuuskierigheid het ek ‘n seminaar bygewoon waartydens iemand uit die boek Eksodus gepreek het, die geskiedenis van die kinders van Israel wat gevange was en in slawerny in Egipte. Ek het myself in dieselfde situasie bevind, en sedert Februarie vanjaar het ek daarteen gerebelleer. Tans gaan ek deur die woestyn, nadat ek ywerig węreldse mense gedien het. Ek leef nou naby aan die Woord van God, en wil graag naby daaraan bly, sodat ek definitief met die slawerny kan breek, en alles los wat onrein is en God nie eer nie. Dit is waarom ek u hulp nodig het, want op die oomblik is ek aan baie vervolginge onderworpe, selfs van my vrou se kant af. Maar ek verloor nie moed nie, want die getuienisse van verskeie gebedsgroepe troos my. Dankie.”

“Ek het u hulp nodig”…. Onthou u, liewe vriende, Paulus se visioen van die Masedoniese man in Hand. 16:9-10? “Daar het Paulus in die nag in ‘n gesig ‘n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: ‘Kom oor na Masedonië toe en help ons’. Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig.”  My korrespondent, sowel as baie ander, vra u ook om hom en hulle te help deur die Glo en Leef  Gereformeerde radiouitsendings en literatuurbediening te ondersteun. Hierdie bedienings help hulle om die enigste ware hoop te voed wat hulle lewens kan onderskraag te midde van baie beproewinge. Onlangse bekeerlinge skryf vir ons nadat hulle ons uitsendings gehoor het, want, indien hulle nie met die Woord van die Waarheid gevoed word nie, sal hierdie saad wat geplant en ontkiem het gou verwelk agv ‘n gebrek aan water. Glo en Leef  Gereformeerd se bediening is een van hoop: dieselfde hoop wat u en ek ontvang het en waaruit ons leef. Ons is geroep om hierdie hoop rondom ons te versprei in soverre as wat die Here ons daartoe roep. Wat myself betref, kan ek dieselfde van u sę as wat Paulus aan die Tessalonisense geskryf het: “Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus” (1 Tess. 1:2-3)

Onthou asb. my korrespondent en al die luisteraars van Glo en Leef  Gereformeerd. Hulle het ons hulp nodig… Ons mag ook glo dat God ons geroep het om die Evangelie aan hulle te verkondig…

In sy diens,

Ds Eric Kayayan