November 2007-10-24

 

Liewe vennote in die sending

Madagaskar is die vierde grootste eiland in die wêreld, met ‘n oppervlakte groter as die van Frankryk en België saam. Dit is ‘n wêreld op sy eie in terme van landskappe, diere en plantegroei: Daar vind ons spesies - byvoorbeeld die bekende lemurs -  wat nêrens in Afrika of in die ander kontinente voorkom nie. Madagaskar se bevolking groei steeds en volgens skattings sal dit 28 miljoen bereik teen 2025. In lyn met baie ander Afrika lande is die meerderheid mense se lewensverwagting ongeveer 58 jaar (45% van die bevolking is jonger as 15 jaar en slegs 3,2% is ouer as 64 jaar). Ongeveer 75% van die bevolking leef op die drumpel van armoede, met rys as die eiland se basiese stapelvoedsel. Invoere oorskrei uitvoere wat hoofsaaklik uit rys, koffie en kakao bestaan.  

Die Franse teenwoordigheid in Madagaskar strek sover terug as 1527 toe die Franse seilvaarders voet aan wal gesit het. Gedurende die sewentiende eeu was daar ‘n paar pogings om kommersiële handelsposte te begin maar die inwoners het die pogings van die Franse koning om die eiland oor te neem gestop. Die Franse het egter tyd gehad om Malgassiese slawe aan die Hollandse goewerneur op die eiland Mauritius te verkoop. Aan die begin van die negentiende eeu het Madagaskar deel van die koloniale honger van beide Frankryk en Engeland geword. In hierdie kompetisie is Protestantse sendings gebruik as instrument om die Engelse invloed te bevorder. In 1869, onder die heerskappy van koningin Ranavalona II het Protestantisme staatsgeloof van Madagaskar geword. Uiteindelik het die Franse oorgeneem en ‘n turbulente geskiedenis van koloniale oorheersing is beëindig in 1960, met die onafhanklikheid van die eiland, gevolg deur ‘n aantal dekades van politieke onstabiliteit. Madagaskar het nou ‘n mate van politieke stabiliteit bereik, wat ‘n mate van ekonomiese groei toelaat.  

Tenspyte van die Protestantse erfenis (vandag ongeveer 20% van die bevolking met ‘n verdere 20% as Rooms Katoliek), is Madagaskar grootliks animisties sover dit die mense se geloof betref: voorvader aanbidding word gekenmerk deur die sogenaamde famadihama fees, ‘n ritueel waar die lykskleed van die dooies verander word. ‘n Moslem element, bestaande uit ‘n minderheidsgroep Comoriane en Indo-Pakistanies, is vinnig besig om die noorde van die eiland oor te neem. Dit word geskat dat soveel as 40% van die eiland se handel in hulle hande is. Die aantal moskees groei in dieselfde verhouding.

Dit is in hierdie konteks dat Reformed Faith and Life die goeie nuus van die Koninkryk van God deur ‘n aantal radiostasies daar uitsaai. Ek beplan om saam met Ds. Wolf Cilliers - ‘n sendeling vriend en kollega wat Madagaskar baie goed ken en vir nege jaar daar gewoon het - die eiland in Desember te besoek. As God dit wil, sal dit ons neem na al die land se groot stede en my toelaat om persoonlike kontak met die direkteure van die radiostasies (meeste Christen) te maak, met die oog op ‘n langtermyn samewerking. Die pionierswerk alreeds deur Ds. Cilliers gedoen in hierdie opsig sal die besoek grootliks fasiliteer. Ons het geen ander doel as om die saad van die Christelike geloof in Malgassiese harte te plant en ook die saad wat reeds deur ander geplant is te versorg nie.

Sal u ons asseblief in u gebede onthou? Hierdie reis is nie slegs die projek van twee gemotiveerde Christen individue nie, maar ‘n ekumeniese poging van die Kerk, die liggaam van Christus. Ek hoop om in Januarie aan u te kan terugvoer gee van wat ons bereik het, met die hulp van ons genadige God, Vader, Seun en Heilige Gees.

In Sy Naam

Ds. Eric Kayayan