Soos wat ons uitsendings voortgesit word oor die lug en meer Franssprekende mense daarna inluister, kry ons meer navrae oor die pos en ook per e-pos. Ons luisteraars vra vrae oor die onderwysing van die Bybel en ek gebruik nou meer tyd om hulle individueel te antwoord. Om u ‘n idee te gee oor wat hulle vra, plaas ek ‘n paar vrae hier:
- Sien God my individueel as ‘n persoon, of sien hy die mensdom as ‘n totale groep?
- Bestaan die vaevuur werklik?
- Waarom leer Paulus in 1 Kor. 13 dat liefde groter is as geloof en hoop, terwyl hy self sê dat ons gered word deur geloof? Aangesien geloof red, moet dit mos groter wees as enigiets anders; is dit nie?
- In die Laaste vers van 1 Kor. 14 skryf Paulus: “… moenie die gebruik van ongewone tale of klanke verhinder nie” maar ons tradisionele kerke (Katoliek en Protestant) verbied dit. Waarom?
- Wat is die verskil tussen die doop van Johannes die Doper, die doop waarna verwys word in Mat. 28 en die doop van die Heilige Gees?
Ek het beslsuit om ‘n reeks radioprogramme te begin om hierdie vrae te beantwoord, sodat meer mense mag voordeel trek uit beide vrae en antwoorde. Dit sal ook daartoe bydra om ‘n meer persoonlike verhouding met ons luisteraars te vestig.
Onlangse terugvoer van die Kongo het my laat besef hoeveel Bybels in Frans (en ander tale) nodig is in Afrika. Ons het ‘n doos vol Bybels na ons vriende in Kinshasa (die groot hoofstad van die Demokratiese Republiek van die Kongo), gestuur en hulle het dit versprei onder die luisteraars van Foi et Vie Réformées daar. Persone wat kopieë van die bybels ontvang het, het e-posse gestuur om ons te bedank vir die kosbare geskenke. Een van die persone het geskryf hulle is aangedaan om te sien hoe ander Christene in die wêreld omgee vir die geestelike welsyn van medegelowiges. Ons is steeds van plan om meer bybels te bestel en soveel te stuur as wat ons finansies sal toelaat.
In Kinshasha word ons programme op verskillende kanale uiitgesaai; onder andere die Nasionale Radio van die Kongo (Sondagoggende). Baie van ons luisteraars volg die uitsendings op meer as een radiostasie. Mag hulle troos vind in die Woord van God, terwyl hulle uiters moeilike tye beleef (ekonomies, sosiaal, polities en bowenal – geestelik).
Later vanjaar (DV in Junie) sal ek na Wes-Afrika gaan vir ‘n besoek van twee weke, vergesel van ‘n vriend en ‘n getroue ondersteuner van die radiobediening. Onder andere sal hierdie reis ons in staat stel om die moontlikhede te ondersoek om ook oor die radiostasies in die Cameroen uit te saai en dan veral in die twee groot stede, Douala en Yaounde. Doen asseblief vir ons voorbidding vir die voorbereiding van die reis, dat die reis goed sal verloop en dat God ons planne sal seën.
Soos wat u sal verstaan ontvang ons meer en meer inligting om te hanteer, meer en meer data om te stoor en te administreer. Daarom is ons baie dankbaar dat ons voorsien is van ‘n rekenaardatabasis wat spesiaal ontwerp is vir die behoeftes van ons radiobediening. Uiteindelik is daar nou ‘n manier om hierdie gegewens te stoor en weer maklik op te roep. Die kommunikasie met luisteraars, korrespondente en radiostasies wat ons programme uitsaai, sal baie vlotter verloop as al die data eers gestoor is.
Dit maak vir my die grootheid van ons God en Vader nog wonderliker, want Hy weet alles van almal. Hy is nie onderworpe aan kragonderbrekings, rekenaargrille of ander virusse nie. Hy omhels nie net die totale mensdom as ‘n groep nie, maar Hy ken jou en my indivueel, net soos Hy elkeen van ons luisteraars ken. Mag elkeen van u hierdie jaar lewe in die versekering dat Hy oor u waghou, met elke haar van u kop getel, daarom moet u nie vrees nie (Lukas 12:7).
In Christus.
Ds. Eric Kayayan