JULIE 2001

Liewe vriende

Hier volg ‘n paar uittreksels uit briewe wat ons onlangs ontvang het, hier by Foi et Vie Réformées.

S.M. van Man (Ivoorkus) laat weet: “Ek luister gereeld met groot vreugde na die bandopnames van u onderwysing wat deur die Katolieke radiostasie aangebied word. Ek het ‘n spesiale belangstelling in hierdie onderrig. My kinders is ook gretig om na die programme te luister. Ek wil graag hê u moet my tel as een van u getroue ondersteuners en luisteraars, waarvan ek hoop, daar heelwat in die wêreld is. Stuur asseblief vir my van die geskrifte wat oor geloof handel.”

C.C.N. van Cayes (Haiti, Wes-Indië) skryf: “Ek is ‘n jong Haitiese tiener van Cayes. Ek het so pas dertien jaar oud geword. Elke aand, ongeveer nege uur skakel ek in op Radio-Lumière, om na u program te luister, waarvan ek vreeslik baie hou. Hierdie program word twee maal per dag uitgesaai. Ek het nog altyd gereeld die Bybel gelees en my plan is om ‘n teoloog te word, net soos u. Ek mis nooit een van u uitsendings nie en ek is veral baie lief vir die programme wat op die kinders gerig is.”

Nog ‘n boodskap van Haiti, ‘n uittreksel uit ‘n brief van ds. J.P. “Ons is verheug oor u belangstelling in ons en dank u vir die boeke en boodskappe wat ons vir die radio kan gebruik. Mag die Here altyd die bron wees waarvan u altyd lewende water kry, wat u met ander kan deel.”

Van Algerië skryf ‘n ander tiener: “Ek skryf om te së dat ek die teks van u reeks “Die Bybel vir kinders vertel” ontvang het. Ek kan u nie genoeg bedank daarvoor nie. Dit is baie waardevol en ek wag gretig vir u volgende besending. Intussen luister ek na u oor die radio.”

Ons het ook ons eerste briewe uit Frankryk ontvang wat geskryf is nadat ons programme oor 14 FM stasies begin uitsaai het. Die reaksie van die luisteraars is uiters bemoedigend, en vra dikwels ‘n persoonlike reaksie. Ons korrespondensie is dikwels vertraag, maar ons doen ons bes om die persoonlike bande met ons korrespondente te behou. Binne die volgende weke, gaan ons voorraad Franse Bybels stadig uitgeput word, aangesien ons verskeie hoeveelhede na verskeie lande gaan stuur. Ons gaan in elk geval nuwe voorraad bestel.

Op tegniese gebied het ons uiteindelik daarin geslaag om die klankbaan van ons boodskappe in rekenaarformaat te kry: elke maand kan ‘n paar FM stasies, ses programme direk van die Internet kry. Dit spaar ons posgeld, tyd en verantwoordelikheid van die posdiens. Ons het ook begin om CD’s met boodskappe op, oor te klank. Hierdie Cd’s gaan gestuur word na verskeie radiostasies veral in Frankryk.

Deur die genade van ons Hemelse Vader, is ons nou in posisie om radiostasies te voorsien van boodskappe in verskeie vorme: 3 verskillende Cd soorte, Internet en klankkassetopnames. Ons stoor die geskrewe tekste van die radioboodskappe op ons webruimte, wat ons byhou met die jongste inligting . En, natuurlik, behalwe die uitsending van Foi et Vie Réformées by meer as 30 stasies om die wêreld, druk ons die tekste van elke program en stuur soveel moontlik afskrifte aan ons luisteraars wat daarom vra.

Onthou asseblief dat u ons vennote is: u gebede, u ondersteuning in verskeie vorme, is net so belangrik as die werk wat ons kantoor doen. Ons en u werk het net een fokus: die Koninkryk van ons Here Jesus Christus en die glorie van die Drieënige God.

In Sy naam

Ds. Eric Kayayan