In my vorige nuusbrief het ek gemeld dat 5 FM radiostasies in Frankryk gereed is om die program Foi et Vie Réformées uit te saai. Binne die bestek van ‘n paar weke, het die getal aangegroei tot 13. In Normandie, sowel as Britannië, in Mulhouse en in Nîmes (twee stede wat onderskeidelik in Oos en Suid Frankryk geleë is), in die eiland La Réunion in die Indiese Oseaan, is hierdie jong Christelike radiostasies gretig om ons programme te ontvang en uit te saai afgesien van eie godsdienstige voorkeure.
Hierdie belangrike vooruitgang verskaf my baie vreugde, aangesien die land van my geboorte tot sover onbereikbaar gelyk het vir die verkondiging van die lewensboodskap. God open deure wat ons gedink het nie sou oopgaan nie. By Foi et Vie Réformées kom ons God loof en prys vir die nuwe geleenthede. Hy stuur ons nie uit om op die land te gaan oes, sonder om vir ons die weg en geleenthede te wys nie.
Soos u kan begryp bring hierdie geleentheid vir ons baie meer administratiewe werk mee: die behoeftes moet bepaal word, die regte lektuur moet na die regte plek gestuur word en baie tyd moet aan telefoongesprekke gewy word om die kommunikasie kanale te benut. Dit verg meer tyd en energie van ons twee persone hier, ek en Elise, my deeltydse sekretaresse. Soms voel dit vir my of ek nie die mas gaan opkom nie, want ek is die enigste persoon hier rond wat Frans kan verstaan en dit moet praat en skryf. Ons is nietemin dankbaar vir die hulp van Christen broers en susters wat hier naby woon.
In die tussentyd is ons besig om ons toerusting op te gradeer sodat ons kan byhou met die tegniese vereistes van die oudiomateriaal in verskeie CD-formaat, soos duplisering, stoor, versend per pos en andere. Hieruit sal ook ‘n verhoging van posgeld voortvloei.
Die heel belangrikste wat hieruit voortvloei is die verkondiging van Godswoord. Bid asseblief daarvoor dat die Woord meer harte sal aanraak en dat meer mense sal buig voor die gesag van die Here Jesus Christus. Bid ook vir hernude fisiese en geestelike krag om voort te gaan met die sending; bid ook vir hulp met ons werk in die kantoor. Bid asseblief dat ons Franse Bybel-fonds mag groei, sodat dit ons in staat sal stel om Bybels na honderde mense in Afrika te stuur wat nie eie Bybels het nie, selfs ook na studente van Bybelkolleges.
Ons korrespondente uit Afrika neem toe. Hulle skryf briewe en die wat per e-pos van hulle laat hoor neem toe. Een van hierdie korrespondente, pastoor Adrianjafy van Madagaskar skryf in sy brief van 12 Februarie 2001: “My vriend, ek woon in Bevoay, ‘n klein distrik met 6 gemeentes. Ek het my pastorale bediening hier begin. Bid vir my. Ek wil my korrespondensie met jou voortsit en ek het jou uitsaaiprogramme nodig. Ek bid ook dat jy jou sendingwerk van Foi et Vie Réformées na Madagaskar sal uitbrei, want ons het dit daar nodig.”
Mag die God van die Sending hierdie pastoor en sy ses gemeentes seën, asook die baie ander jong kerke in Afrika, wat u gebede en ondersteuning dringend nodig het. Ons dank u vir die belangstelling wat u tot dusver getoon het in die werk van Foi et Vie Réformées. Dit is ‘n voorreg om u as vennote te hê in hierdie poging om God se Woord rondom die wêreld te verkondig.
In Sy naam
Eric Kayayan