As 'n mens terugkyk na die amper drie jaar wat ons besig is om die Evangelie in Frans oor die radio te verkondig, staan ‘n mens met verbasing stil oor hoe groot die Drie Enige God is! Hy het dit vir ons moontlik gemaak om uit Suid-Afrika te begin, met die geestelike en finansiële ondersteuning van Christen broers en susters van Noord-Amerika, ‘n Gereformeerde bediening gerig op Fransprekende mense oor die wêreld. Hierdie deel van die wêreld se bevolking is in die verlede grootliks oor die hoof gesien deur baie Protestante en spesifiek die Gereformeerde sending, organisasies en kerke.
Dat ons poging steeds geseën word deur die Here, ten spyte van praktiese probleme, is 'n duidelike bewys deur die positiewe reaksie wat ons ontvang van luisteraars. Angeline M. van Abidjan van die Ivoorkus het onlangs die volgende E-pos gestuur: “Liewe dominee, ek het u programme en u Internet adres deur radio Fréquence-vie van die Ivoorkus raakgeloop. Ek hou besonder baie van die inhoud en onderrig van u boodskappe. Dit dra by om my geloof te versterk dat Jesus Christus werklik die Redder van die wêreld is en dat ons verlore is sonder Sy hulp. Die afgelope week het ek gaan konnekteer op u webwerf om meer te leer oor die Woord van God.” Hierdie e-pos bevestig dat ons webwerf ‘n kragtige instrument is vir die verkondiging van God se Woord nie net vir Europeërs nie, maar ook vir die mense van Afrika.
‘n Ander korrespondent van die Ivoorkus, Michel S., het ‘n hartroerende brief geskryf wat ek hier aanhaal. “Ek het met groot blydskap die pakkie boeke en dokumente ontvang wat u vir my gestuur het. Baie dankie vir u pogings om die Woord van God oor die wêreld te versprei sodat mense wat ly, bevry en genees kan word. Elke keer as ek na u oor die radio luister, voel ek vertroos en leer ek die God wat ek aanbid, beter ken. Dominee, ek sê ‘n duisend maal dankie! Gedurende 1990 het ek my werk in Abidjan verloor en besluit om terug te kom na my tuisdorp om te begin boer. Gedurende 1999, te midde van al die probleme wat ek beleef het , is my vrou oorlede tydens die geboorte van ‘n baba. Ek is alleen agtergelaat met vier kinders. Die pasgebore baba is aan ‘n Christelike egpaar toevertrou, wat vriende van my is. Dit gaan tans baie goed met hom. Ek vertel dit alles om te bewys dat as ek nie my hulp van God gekry het nie, sou ek my verstand verloor het. Wees verseker dat u werk goeie vrugte lewer wat vir ons baie beteken. Mag God u en u werk seën,. Mag Hy u sterkte en krag gee dat u met die hulp van die Heilige Gees baie harte kan verander. Mag Hy u verblyf op aarde verleng.”
Ons bediening is vol verrassings. By my terugkeer van die VSA, einde Oktober, het daar ‘n epos boodskap vir my gewag van Antananarivo (hoofstad van Madagaskar): die persoon erken ontvangs van bandjies wat ons meer as twee jaar gelede gestuur het. Die boodskap lui “ Ek skryf om te vra om nog bandjies aan ons te stuur. Dié wat u alreeds gestuur het, is baie laat deur ons ontvang. Ek is baie dankbaar vir hierdie materiaal, want die uitsaai hiervan is vir ons Christen luisteraars van Antananarivo baie bemoedigend en verrykend.” Volgens sendelinge wat aan die noordekant van Madagaskar arbei, word die groot eiland meer en meer ekonomies gedomineer deur Moslems wat van ander eilande van die Indiese Oseaan, soos die Comores, afkom. Ons sien uit daarna om meer van ander Christen radiostasies te hoor, sodat ons kan help om die Evangelie van Jesus Chrisus te versprei aan die plaaslike eilandebewoners en die Moslem immigrante.
Laat ons onthou dat in ‘n tyd van oorlog en gerugte van oorloë waar die media ‘n botsing tussen beskawings en godsdienste aanblaas, bly ons hoofwapen ‘n boodskap geïnspireer deur die Gees van die Almagtige God. Laat ons onthou wie is die Ware Koning van ons lewens en die wêreld. Alles wys daarop dat die wêreld agteruit gaan. Ons weet egter deur die geloof, dat dieselfde wêreld moet buig voor die heerskappy van sy Skepper. Ons verwag die algehele vernuwing van alle dinge en ons verheug ons as ons lees van die tekens van vernuwing in die persoonlike getuienis van ons luisteraars. Mag u ook, liewe vriende, vervul word met dié hoop terwyl ons ons voorberei om die koms in die vlees van ons Here en Redder Jesus Christus, te vier.
In Sy naam
Ds. Eric Kayayan