In hierdie begin van die jaar 2000, kan ons na die afgelope dertien maande met groot dankbaarheid teenoor die Here terugkyk: ons erken hierby die ondersteuning van ‘n aantal Gereformeerde Christene in Noord-Amerika (RAC) maar ook die gebede, bydraes en ondersteuning van Suid-Afrikaanse Christene. So het daar in ‘n bietjie meer as een jaar ‘n radio-bediening in Frans ontstaan, wat nie net mense in verskillende lande van Afrika met die Evangelie bereik nie, maar ook in Europa en in die Wes-Indië.
Op hierdie stadium het ons twee weeklikse programme wat op kortgolf mense in Sentraal- en Wes-Afrika bereik, en –van Desember verlede jaar- een weeklikse program wat per satelliet uitgesaai word. Hierdie laaste ontwikkeling vermenigvuldig die kans om klein Christelike radio-stasies wat op FM uitsaai, te kan bereik indien hulle met die gepaste satellietskottel toegerus is. Maar ‘n groeiende getal FM-stasies ontvang ook direk Foi et Vie Réformées se programme deur bande met die opnames daarop. Die laaste hiervan is “Radio-Outreach” in Bujumbura, hoofstad van die klein Sentraal-Afrika land Burundi (‘n land wat geteister is deur die Hutu-Tutsi konflik, en waar ‘n jong gemeenskap van omtrent twee duisend Gereformeerdes –met baie weeskinders- hoofsaaklik in vlugtelingekampe bly). Soos ander stasies in Kameroen, Burkina Faso of Madagaskar, vra Radio Outreach om ons bande gereeld te ontvang, omdat daar min sulke uitsaaimateriaal in Frans bestaan.
In Oktober en November verlede jaar is daar ook 8 programme deur die kragtige Europese stasie Radio Monte-Carlo op die lug geplaas (mediumgolf). Hulle het hoofsaaklik die lande rondom die Midellandse See bereik. Die volgende is ‘n uittreksel uit die brief wat ‘n luisteraar van Tizi-Ouzou, Algerië (heel Noord in Afrika) vir Foi et Vie Réformées geskryf het, en wat onlangs in ons sentrale posbus in Pretoria aangekom het: “Ek kan nie my hemelse Vader genoeg dank dat Hy my gelei het om na die program Foi et Vie Réformées te luister nie. Elke Maandag volg ek met baie entoesiasme en aandag alles wat u vir my leer. Die program is baie ryk in Goddelike kennis en opvoedende wysheid; dit is toeganklik vir elke gelowige en voldoen aan ons geestelike behoeftes en begeertes. Dit dra ontsaglik tot die opbou van my geloof by, en dit laat die redes om te glo in my gees deurdring, terwyl die vreugde van die geloof ook in my hart gekoester word.” Dieselfde luisteraar het later ‘n tweede brief gestuur om te vra hoekom hy nie meer die programme op sy radio kan vind nie (hy het nie geweet dat ek slegs agt van hulle op RMC kon plaas nie…)
Die lande van Noord-Afrika is hoofsaaklik Islam lande, en toegang tot Christelike boeke, preke ens. is maar baie min. In die lig daarvan is ek besig om ‘n ooreenkoms met die Duitse kanaal Deutsche Telekom aan te gaan: daarvolgens bestaan die hoop om vir ‘n jaar lank programme op kortgolf in die rigting van die Maghreb (Algerië, Tunisië en Marokko) te kan uitsaai. Maar sal daar nog in 2001 fondse wees om hierdie uitsaai-geleentheid voort te sit?
Intussen is ons Noord-Amerikaanse broers en susters, wat Foi et Vie Réformées met hulle gebede en donasies ondersteun, ook bereid om ‘n nuwe weeklikse uitsending te borg, naamlik op Radio-FEBA, wat die eilande van die Indiese Oseaan en gedeeltes van Oos-Afrika dek. Maar daar bestaan nog talle kleiner projekte wat nie so groot uitgawes impliseer nie, en wat tog baie sou kon beteken vir duisende potensiële luisteraars in Afrika. Laat ek hier net twee noem:
1) ‘n Groep Gereformeerdes van Kinshasa (hoofstad van die Demokratiese Republiek van die Kongo) wil baie graag Foi et Vie Réformées se programme deur ‘n plaaslike Christelike stasie op die lug plaas, en het met lg. ‘n voorlopige ooreenkoms aangegaan. Kinshasa lê op die grens van die ander Kongo, terwyl Brazzaville (die ander hoofstad) lê net anderkant die rivier wat tussen die twee groot stede loop. Miljoene mense bly in hierdie massiewe verstedeliking, wat maklik met FM- uitsendings bereik kan word. Die kostes van een weeklikse program beloop omtrent R800 per maand.
2) Die nasionale radio van die DRK (Kongo-Kinshasa) saai vanaf Lubumbashi uit, beide op FM en op kortgolf. Om ‘n kwartuur per week op dié stasie te koop sou omtrent R500 per maand kos. In Lubumbashi self is daar omtrent sewe Gereformeerde gemeentes, en ‘n aantal ander in die Shaba/Katanga-provinsie. Die jong Gereformeerde Kerk in dié gebied sou sekerlik kan baat uit so ‘n gereelde uitsending.
Maar uitsendings in ander groot hoofstede in Afrika moet definitief ook aandag geniet. Sal u saam met ons bid dat die Evangelie duidelik in soveel plekke as moontlik sal weerklink? Foi et Vie Réformées se programme handel oor allerhande onderwerpe, en huiwer nie om brandende vraagstukke, soos die VIGS epidemie, seksuele promiskuïteit of die kwessie van politieke regverdigheid, vanuit ‘n Bybelse perspektief te hanteer nie. Ek is tans besig om te begin met ‘n reeks programme vir kinders wat die Bybel op ‘n eenvoudige maar getroue manier aan hulle sal vertel. ‘n Mens moet tog onthou dat 50% van die bevolking van Afrika is jonger as 15 jaar!
Die uitdagings is groot, maar die redes om dankbaar te wees nog groter, want ons grote God is besig om met almag deur sy Heilige Gees te werk. Hy is die Een wat gee, en niemand kan hom vir sy weldade terugbetaal nie. Daarom kan ons saam met die apostel Paulus (Rom. 11:33-36) uitjubel: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”
Ds E. Kayayan