Junie 2000 Nuusbrief

In ‘n brief wat ek onlangs ontvang het, vertel Phanuel M., ‘n jong Rwandese man wat teologie in Kenia studeer, van die beproewing wat hy en sy gesinslede deurgegaan het tydens die tussen-etniese slagting wat Rwanda in 1994 verwoes het. Van die elf kinders in hierdie gesin, het net twee dit oorlewe: hy en sy boetie van 6 jaar. Phanuel sluit sy hartroerende brief met ‘n eenvoudige uitspraak: “In al hierdie dinge dank ek die Here dat Hy nooit sy volk verlaat het nie. Al het net die twee van ons dit oorlewe, is dit nie toeval of tevergeefs nie, maar Hy het ‘n plan met ons.” By die lees van sy brief is ek werklik getref deur die kontras tussen hierdie verbasende geloof in God se Voorsienigheid en die ontnugterde houding van baie welgestelde teoloë of predikante in die Westerse wêreld. Hulle sê herhaaldelik: “Bewaar God sy stilswye?”; en vra treurig: “Is God in beheer?” Hulle wie se liggame elke dag gevul is met ryk kos en wat nie ‘n enkele kalorie kortkom wat die liggaam nodig het nie, sien nie meer God se voorsienige bestel en sorg in hulle lewe nie. Maar hulle, wat vir hulle lewens moes vlug, wat honderde kilometers deur digte bosse moes stap en gesien het hoe hulle families brutaal vermoor word, erken met blydskap dat die Here se hand hulle altyd gelei het selfs te midde van die moeilikste omstandighede. Hulle wil Hom dien en Hom alleen. Is hierdie kontras in beskouing nie ‘n deel van wat Paulus bedoel as hy praat van die dwaasheid van die kruis, wat God se wysheid is, waardeur Hy besluit het om die wêreld te red nie?

Nog ‘n gedagte van dieselfde aard het by my opgekom. Wat besiel Christene om geld opsy te sit vir sendingwerk en daardeur hulleself tekort te doen aan dit wat hulle vir eie persoonlike plesier kon gebruik het? Hoekom stuur mense geld vir Foi et Réformées terwyl niks hulle dwing om dit te doen nie, en waar hulle geen stoflike voordeel sou behaal uit hierdie vreugdevol oortuigde geskenk? Dit is ook dwaasheid in menslike oë, maar dit is die manier waarop die Heilige Gees werk in die harte van God se kinders…

Te danke aan julle bydraes, Foi et Vie Réformées brei tans die omvang van sy uitsendings uit. In die Januarie-Nuusbrief het ek onder meer twee projekte naas andere vermeld: om uit te saai oor die nasionale radio van die Demokratiese Republiek van die Kongo, beide op kortgolf en ‘n plaaslike FM kanaal. Hierdie uitsending is tans aan die gang in samewerking met die Belydende Gereformeerde Kerk in die Kongo asook ‘n Christelike organisasie met sy tuisbasis in Nederland – genoem De Verre Naasten. Die ander projek het gehandel oor die uitsaai van ons programme vanuit Kinshasa, die digbevolkte hoofstad van die genoemde DRK. Ons hoop om ook hierdie projek binne weke te finaliseer. Kommunikasie met ons vennote in Afrika is nie altyd maklik nie: pos (selfs lugpos) neem baie lank om sy bestemming te bereik. Banktransaksies is moeilik en duur. Faks- en telefoonlyne is nie altyd betroubaar nie. Ons voel soms vasgeketting aan allerlei struikelblokke van logistiese of finansiële aard. Maar die apostel Paulus, self letterlik in kettings (boeie) ter wille van die Evangelie, het eenkeer aan sy jong vriend Timoteus geskryf: “Maar die woord van God kan nie geboei word nie” (2 Tim. 2 : 9). Dink maar net hoe ver die Woord van God versprei is vandat Paulus hierdie brief uit ‘n tronk in Rome geskryf het … Hoe opwindend om 2000 jaar later deel van hierdie proses te wees, met dié wete dat die Here self nuwe middele en kanale vir hierdie verkondiging voorsien.

Een moderne instrument van kommunikasie is natuurlik die Internet. Paulus het die Griekse taal van sy tyd gebruik om die Evangelie oor te dra – en hy het so toegang gehad tot die hele gebied rondom die Middellandse See (Grieks is toe deur die meeste mense in daardie gebiede verstaan, soos Engels tot ‘n groot mate vandag). Net so gee die Internet toegang na wat deesdae die “wêreld-dorpie” (global village) genoem word. Ons is dankbaar om te kan meld dat ons web-werf nou aan die gang is – en daardeur kan ons aan die Franssprekende Internet-gebruikers oor die hele wêreld die Goeie Nuus van die Here Jesus Christus bring. Buiten die inligting oor ons bedrywighede, sal al ons radio-uitsendings in die webwerf gebêre word: enigeen wat rondsoek deur die web-wef sal hulle kan aflaai. Mettertyd sal van hierdie boodskappe in Engels vertaal word en julle kan dan op hoogte kom van hulle inhoud en aanbieding. Julle kan nou reeds ons web-werf adres opsoek : www.foi-vie.org.za

Natuurlik is tegnologiese instrumente bloot instrumente, en moenie oor ons lewe begin heers nie. Ons is geroep om oor hulle te heers, en hulle te onderwerp aan die Here se gesag. Ons prys die Here alleen vir sy oorvloedige genade!

In diens van die Here Jesus Christus

Eric Kayayan