Maart 2000 Nuusbrief

"Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en die wat daar woon, alles behoort aan die Here". Soos u wel weet begin Psalm 24 so. Maar het u al ooit gehoor van die volgende plekke in die wêreld: Kadiolo, Ouolossebougou, Kolokani, Tenenkou, Diola, Bamako? Hierdie stede in die Republiek van Mali in Wes-Afrika is ook deel van die wêreld wat aan die Here behoort. Maar vier en negentig persent van die inwoners van Mali is Moslems. Ten spyte van hierdie hartseer-feit het die Here deure vir die verkondiging van sy Evangelie oopgemaak, in Mali sowel as in ander dele van die aarde. 'n Klein Christelike radiostasie funksioneer in elk van die bogenoemde stede op plaaslike vlak. Al ses is gegroepeer in 'n alliansie vir die Kommunikasie van die Evangelie en het gevra om programme van "Foi et Vie Reformees" gereeld te ontvang. Ons is dankbaar oor hierdie nuwe geleentheid en is aangevuur vir die taak waartoe ons geroep is.

Moslemlande in Afrika verg ons dringende aandag. Onderdrukkende sosiale strukture (teenoor vrouens in die besonder) word gebruik in die naam van 'n sogenaamde genadige god met wie daar geen persoonlike gemeenskap moontlik is nie. Miljoene van die Moslems in Afrika glo dat net repeterende en formalistiese werke of formules hulle saligheid kan verseker. Die bevrydende krag van Jesus Christus en sy Gees asook 'n lewende geloof is iets ongekends. "Foi et Vie Réformées" is bly dat ons kan rapporteer dat so pas begin is om op kortgolf uit te saai, van 'n nasionale Duitse stasie af, met Noord-Afrika as teiken. Binne die volgende drie maande sal vier programme weekliks die Moslem-gedomineerde lande bereik en vir hulle vertel van die Drie-enige God wat nie net soewerein nie, maar ook werklik getrou en genadig deur die versoenende werk van sy Seun Jesus Christus is.

Die Afrika-toneel word tans oorheers deur nog 'n plaag: die VIGS-epidemie. Die syfers oor die verspreiding van Vigs in Afrika wat in die 10 Januarie-uitgawe van een van die voorste tydskrifte in Amerika genoem word, is ontstellend. Seksuele losbandigheid word genoem as die belangrikste bydraende faktor en daar word ondubbelsinnig verklaar dat "Casual sex with multiple partners in the midst of an AIDS-pandemic amounts to suicide on a continental scale". Om dit in 'n liberale tydskrif te lees is alreeds 'n openbaring: die harde werklikheid van mans en vrouens se sondigheid en die dodelike gevolge wat dit meebring, kan selfs nie deur liberale mense geïgnoreer word nie. Maar hoe merkwaardig is dit nie om dan verder in die artikel te lees dat godsdiens 'n sentrale plek sal inneem in enige suksesvolle reaksie op die epidemie. Die joernalis onderskryf die opinie van diegene wat glo dat slegs 'n godsdienstige en morele herlewing, soortgelyk aan die een in Engeland gedurende die Agtiende eeu, vandag tot Afrika se redding kan kom. Hoewel "Foi et Vie Reformees" nie sy mandaat van tydskrite kry of aan hulle verantwoording verskuldig is nie, verskaf dit tog 'n nuwe perspektief op die getuienis wat ons lewer wanneer ons voortdurend die Woord van God proklameer oor onderwerpe soos onder andere VIGS. Om ingelig te wees oor die werklikheid van die wêreld waarin ons leef, is baie belangrik. Nog belangriker is dit om daarna te kyk vanuit die gesigspunt van die Skrif. Ons het egter nie soos sommige ander mense vrede met die feit dat die grootste gros van Mali se bevolking Moslems is of dat die mense van Afrika aan VIGS sterf nie – so asof die feit maar op dieselfde neerkom as om te sê: Babas huil, of: Bome het blare.

Die bediening van "Foi et Vie Reformees" behoort ook aan u in hierdie sin dat u dit met u gebede en belangstelling ondersteun. Mag ons saam getuig dat dit inderdaad waar is: "Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en die wat daar woon, alles behoort aan die Here". Laat ons in gedagte hou dat die enigste perspektief wat werklik saakmaak, die volgende is: Jesus Christus het gekom om die wêreld met die Vader te versoen deur die magtige werk van die Heilige Gees wat fisiese, materiële en geestelike genesing bring.

In Christus se Naam

Eric Kayayan