Prediking van die Woord van God oor die radio is baie soos die saai van saad. Foi et Vie Réformées doen juis net dit: ons saai geestelike saad deur die luggolwe. Hierdie saad word selfs versprei in gebiede waarvan ons die naam nie eens ken nie. Wanneer ons saai, weet ons nie wie ontvang die saad nie; ons weet ook nie in watter soort grond dit sal val nie; verder weet ons nie waar die saad uiteindelik sal begin groei en later vrug dra nie. Maar ons saai met Jesaja se woorde in gedagte: "Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: Dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor ek dit gestuur het" (55:10-11).
So 'n rapsie oor 'n jaar gelede het ons verskeie voorbeelde van ons programme aan 'n paar plaaslike Christelike radiostasies in Haiti (Wes-Indië) gestuur. Vir omtrent ag maande het ons nie eens erkenning van die ontvangs van ons kassette gekry nie. In Februarie vanjaar het ons weer aan dieselfde stasies geskryf – met die versoek om ons minstens net te laat weet of hulle ons oudio-materiaal ontvang het. Na vier maande kom daar toe 'n brief van een van daardie stasies en hulle sê: "Mag die vrede van ons Here Jesus Christus – die Bewerker van ons gemeenskaplike geloof – met julle wees. Ons kan julle nie na behore bedank vir die ses bandjies wat elkeen ses boodskappe bevat, wat julle aan ons gestuur het nie. Maar ons dank God wat die saad van die Woord in julle geplant het. Mag God aanhou om sy oorvloedige genade oor julle te skenk. Net nadat ons die bandjies gekry het, het ons daarna geluister. Die klank-kwaliteit was baie goed en terwyl die boodskap evangelies was, het ons besluit om dit uit te saai. Die hele reeks is uitgesaai, maar op versoek van ons luisteraars moes ons die hele reeks heruitsaai. Nou wil ons baie graag so gou as moontlik nuwe programme kry. Ons hoop dat julle ons versoek sal bewillig. Ontvang asseblief ons gevoel van diepe dankbaarheid."
Dit is nie so 'n onskuldige saak om die saad van die Woord deur die luggolwe uit te saai nie. Dit kan ontstellend wees vir daardie persone wat probeer om die lewens en gedagtes van ander mense te beheer: een van ons korrespondente in Afrika, lewe in 'n land onder beheer van 'n diktator wat al dertig jaar regeer. Hierdie korrespondent wil baie graag Foi et Vie Réformées laat uitsaai oor 'n plaaslike Christelike radiostasie. Hy waarsku my in 'n brief dat sensuur in sy land toegepas word en ons boodskappe sal deurgespeel moet word voor uitsending, en moontlik hier en daar onder die skêr van sensuur sal moet kom veral ons boodskappe oor die tema van openbare geregtigheid, oor die aanspreeklikheid van owerheidspersone. Hoewel dit volgens die Bybel is mag dit onhutsend wees vir ongelowige politieke leiers wat net hulle eie gesag probeer handhaaf.
Op 'n meer humoristiese toon: die konflik in die bo-aardse sfere tussen die hemelse leërskare en die magte van die duisternis vind skynbaar ook plaas op die terrein van radio kortgolwe. So het 'n Duitse radio- amateur my 'n ontvangs-verslag gestuur van die eerste Foi et Vie Réformées-program wat vroeër vanjaar deur die Deutsche Telekom uitgesaai is. Waar hy woon (naby die Jülich-stasie) was die ontvangs nie so goed nie; en hy voeg by:… "as gevolg van steurings deur Radio Habana Cuba op 11705kHz van Kuba na Europa…"
Intussen begin daar baie positiewe reaksies inkom uit verskeie uithoeke van Afrika. Dit geld veral van die Ivoorkus waar 'n Roomse FM-stasie een uur per dag vir ons programme gee. Hier is 'n uitreksel uit 'n brief wat ek onlangs gekry het: "Ek is 'n jong man (36). Ek is 'n Moslem. Ek is die slagoffer van 'n ongeluk wat in 1994 plaasgevind het. Van toe af is ek verlam van my borskas tot my tone. "Ek sit in 'n rystoel. Vandat die ongeluk gebeur het, het alleen Christene gekom om vir my te bid. Let ek op die liefde wat hulle aan my betoon, wil ek 'n Christen word. Stuur vir my asseblief boeke en ander stukke wat my kan help om 'n Christen te word, omdat ek aangegryp word deur julle programme…. Ek is regtig baie jammer dat ek nie die Christendom vroeër al geken het nie. Vandag, as ek bid in die Naam van die Here Jesus Christus, dan gaan dit goed met my.
D.V. binne 'n paar weke gaan vanuit Abidjan – die groot hoofstad van die Ivoorkus – ons programme uitgesaai word deur Radio Fréquence Vie. Daarmee sal die grootste deel van die Ivoorkus gedek word deur hulle twee FM-stasies. Ons hoop ook om binnekort die onderhandelings vir uitsendings vanuit Kinshasa (Demokratiese Republiek van Kongo) te voltooi. Dit sal beteken dat miljoene mense in hierdie digbevolkte gebied bereik kan word.
Sal julle saam met ons bid dat allerhande materiële en logistieke struikelblokke uit ons pad gerol kan word? Maar betuig ook dank aan die Here want Hy is goed, want sy troue liefde duur vir ewig.
In die Naam van Jesus
Eric Kayayan