September 2005

Beste medewerkers in die bediening

Stel Gereformeerdgesindes in Suid-Afrika belang in die verspreiding van die Evangelie aan al die nasies, en in besonder aan Franssprekendes, wat ‘n baie groot gedeelte van die Afrika bevolking vorm?  Hierdie kritiese vraag moet ek vir myself en vir u afvra, in die lig van die min bydrae wat ons deesdae bereik, sodat die bediening van die lewende Woord in Afrika en elders voortgesit kan word.  Hoe belangrik is vir u die Here se eie woorde in Markus 13:10 , wat sy wederkoms onderhewig maak aan die verkondiging van die evangelie aan al die nasies?  Ander waarskuwende tekens dat ons al hoe nader aan die einde kom is orals in die węreld te bespeur, maar hier het ons te doen met ons eie betrokkenheid en verantwoordelikheid teenoor Christus se wederkoms, al is dit hoegenaamd nie in ons hande om die tyd en die datum hiervan te kan bepaal nie.  Daar is hongersnood vir die Woord in ‘n węreld wat meer as ooit deurmekaar is; wat doen ons om die sterwende mense daarmee te voed, terwyl ons kerklike spense vol is met allerhande kennis wat ons dikwels nie belangrik genoeg ag om  met hulle mee te deel nie?

 Gister het ek die volgende brief uit Bassar ( Togo , Wes-Afrika) ontvang. Ek wil dit met julle deel, want dit vertel van Afrika se honger na die Woord van God: “ As nog een van die anonieme luisteraars wat dwarsoor Afrika na u luister, skryf ek nou vanuit Togo vir die eerste keer aan u.  U kan u nie voorstel hoe groot my vreugde is by die gedagte dat ek een van u korrespondente, en dalk selfs een van u vriende, kan word nie! My naam is A.P.S., ek is 30 jaar oud, en ‘n onderwyser by ‘n plaaslike hoërskool. Ek is ‘n lidmaat van ‘n klein Baptiste-gemeente in Bassar. Ek het ‘n groot passie vir Bybelse kennis en teologiese nadenke. In my kerk is ek betrokke by die bediening van die Woord as katkisasie-onderwyser en “lekeprediker”. Dus sal u nie verbaas wees as ek u vra om vir my so gereeld en soveel as moontlik Christelike literatuur of klankmateriaal te stuur nie. So kan ek my kennis van die Woord verdiep, sodat ek myself en diegene wat na my luister kan opbou. Ek sal u baie dankbaar wees. Ek wil u ook gelukwens en bemoedig vir al die opofferinge wat u moet deurmaak ter wille van die verkondiging van die Evangelie in Afrika en die węreld. Ek weet hierdie woorde klink dalk niksseggend, maar ek is oortuig dat die Here God, wat diegene wat Hom dien regverdig beloon, op u sy ryke seëninge sal uitstort.”

Hierdie dankbare korrespondent bedank nie net vir my nie, hy bedank ook met sy hele hart diegene wat, as medewerkers in die bediening van Glo en Leef Gereformeerd,  opofferings maak sodat die Woord verder uitgedra kan word. Sy brief is ‘n getuienis van wat ons in Hand. 12:24 lees, te midde van allerlei beproewings en vervolginge van sy dissipels: “Maar die woord van God het verder versprei en veld gewen”.

Wil u nie oorweeg om ook medewerkers van hierdie bediening te word, deur gebed en konkrete ondersteuning nie?  Hoe anders gaan ons die uitsaai van die evangelie op kortgolf deur FEBA Radio, - wat derduisende mense bereik in Tsjad , Niger en ander onbereikte plekke - kan voortsit nie?  Dit is nie die positiewe terugvoer van luisteraars op ons uitsendings wat kort nie: dis bloot die middele om te kan aangaan! Hierdie week het ek ook die volgende brief ontvang vanaf Antananarivo, Madagaskar: "Met groot vreugde kon ek na 'n paar van u uitsendings luister op Radio Vaovao Mahasoa (...) Ek dink dat die programme wat u uitsaai 'n bron van lewe en van geloofsversterking is, daarom wil ek graag 'n kopie daarvan ontvang om hulle te kan naslaan wanneer nodig.  By voorbaat baie dankie. Groete in die naam van die Here Jesus-Christus."  

Onthou dat Madagaskar ook een van ons buurlande is en 'n Franssprekende land wat sterk onder Moslem druk staan a.g.v. van die ekonomiese oorname deur immigrante uit die Comoro-eilande.  Dit is uiters belangrik om die Christene daar met die Woord te voed sodat hulle hul plek in die samelewing kan inneem en van die Koninkryk van Jesus-Christus helder getuig.  Het ons nie ‘n duidelike roeping van die Here ontvang om hulle te help nie?

In sy Naam

Ds Eric Kayayan